Takatso mag meerderheidsbelang in SAL kry

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Die Mededingingskommissie het sy goedkeuring gegee dat die Takatso-konsortium beherende belang in die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) mag kry – mits daar aan sekere voorwaardes voldoen word.

Volgens dié voorwaardes moes Takatso afstand doen van sy minderheidsvennote Syranix en Global Aviation, omdat dié maatskappye ook ʼn belang in die plaaslike laekostelugdiens Lift het.

Thulasizwe Simelane, woordvoerder van Takatso, sê die konsortium het kennis geneem van die Kommissie se voorwaardes en het ten volle saamgewerk met die Kommissie.

Volgens Simelane het Takatso Aviation ook die voorgestelde voorwaarde aanvaar om ʼn minimum aantal werknemers by SAL te behou vir ʼn periode van vyf jaar ná die goedkeuring van die samewerkingsooreenkoms.

“Ons doelwit deur hierdie proses was om te verseker dat die finale regulerende voorwaardes wat SAL se personeel betref, ooreenstem met ons besigheidsplan en dit ondersteun. Ons glo vas dat ons plan ʼn kommersieel lewensvatbare, mededingende en volhoubare besigheid sal verseker wat ook voldoen aan die sosio-ekonomiese behoeftes van Suid-Afrika.”

Volgens Simelane het Takatso nooit ʼn “onbuigsame begeerte gehad om afleggings as die eerste taak te bewerkstellig nie”. “Ons sal poog om te verseker dat die lugdiens optimaal beman word, veral op die sleutelbestuur, tegniese en vlugbedryfvlakke, ten einde die lugdiens se lewensvatbaarheid in ʼn hoogs mededingende omgewing te verseker.”

Die konsortium sê hy sien uit daarna om die samewerkingsooreenkoms te finaliseer in die volgende fase van die proses by die Mededingingstribunaal, sowel as om ‘n regverdige en mededingende Suid-Afrikaanse lugdiensbedryf te verseker.

Takatso Aviation sal 51% van SAL se belange hou en die departement van openbare ondernemings op 49%. Die konsortium het onderneem om kapitaal van R3 miljard na die lugdiens te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.