Taksman sal Zuma se Nkandla-belasting ondersoek

Tim Harris van die DA

Tim Harris van die DA

Die DA het bekend gemaak dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ingestem het om president Jacob Zuma se Nkandla-verwante belasting te ondersoek.

Tim Harris, ʼn LP van die DA, het gesê Ivan Pillay, SAID se kommissaris, het dit in ʼn brief aan die party bevestig. Pillay het geskryf dat SAID nie spesifieke inligting oor ʼn belastingbetaler bekend mag maak nie weens wetlike geheimhoudingbepalings. SAID mag ook nie die vraag beantwoord of die belastingbetaler onderhewig is aan ‘n oudit nie.

“Ek kan egter verseker dat die ondersoek binne SAID se normale regte en pligte sal verloop,” het Pillay geskryf.

Die DA het gesê dit is ʼn duidelike aanduiding dat SAID nie Zuma se ondersoek anders as ʼn gewone landsburger sʼn gaan hanteer nie.

Harris het die saak onder die SAID se aandag gebring nadat hy bereken het dat Zuma ongeveer R16.8 miljoen se belasting kan skuld vir byvoordele wat hy ontvang het uit die opgraderings van R246 miljoen aan sy privaatwoning in Nkandla in KwaZulu-Natal.

Die Openbare Beskermer, adv. Thuli Madonsela, het haar finale verslag oor dié opgraderings op 19 Maart bekend gemaak. Sy het bevind dat Zuma en sy familie ruimskoots voordeel getrek het uit die opgradering.

Die DA het gesê alhoewel Mandonsela nie presies aangedui het hoeveel Zuma skuld vir opgraderings wat nie met veiligheid verwant hou nie, die party konserwatief bereken het dat dit nagenoeg R52.8 miljoen kan wees. Dit is baie meer as die R10.6 miljoen wat die departement van openbare werke aan Zuma se “privaatrekening” toegestaan het, het die DA gesê.

“Ons glo die president moet die volle bedrag terugbetaal wat in sy privaathoedanigheid spandeer is. Selfs al betaal hy net die R10.6 miljoen wat deur openbare werke gespesifiseer is, kan hy vir die oortollige bedrag van R16.8 miljoen aanspreeklik wees,” het die DA gesê. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ria Maritz ·

Vir eens kan ek met die DA saamstem !

Zuma is werklik ‘n verleentheid vir Suid-Afrika.

Babs ·

Beloftes en nog beloftes van die Taksman. Voeg daad by die woord.

craig ·

Ek glo dat hy die geld sal terug betaal. Hy is moes chommas met die Guptas en Shaiks so hulle sal dit maar vir hom gaan betaal. A favour for a favour!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.