Talle bid saam ná 10-jarige se seldsame diagnose

Die tienjarige Megan is verlede Vrydag met twee seldsame outo-immuunsiektes gediagnoseer (Foto: Megan Herbst, Facebook)

Toe Joléne en Hennie Herbst van Ermelo, Mpumalanga, hul tienjarige dogter ’n maand gelede vir ’n gewone oorpyn en keelseer dokter toe geneem het, het hulle nie verwag om ’n paar weke later uit te vind dat sy eintlik aan twee seldsame outo-immuunsiektes ly nie.

Die tienjarige Megan is verlede Vrydag met twee outo-immuunsiektes, sistemiese jeug‑ idiopatiese artritis (SJIA) en makrofage-aktiveringsindroom (MAS), gediagnoseer.

Sy is tans in die intensiewe sorgeenheid van die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion.

Haar ouers pleit vir gebede en hoop op ʼn wonderwerk sodat hul sonskynkind weer ’n normale lewe kan lei. Megan is ’n sportiewe kind en volgens Jolene sou sy vanjaar na verwagtings groot rekords in atletiek laat spat het.

Joléne vertel Megan het Saterdag 15 Mei van erge oorpyn en keelseer begin kla.

“Ek het haar die Maandagmiddag dokter toe geneem. Die dokter het vermoed sy het mangelontsteking en het vir haar antibiotika gegee. Teen die einde van die week het haar oorpyn vererger. Sy het ook begin koors kry en kon nie lekker sluk nie,” vertel Joléne.

Megan is op 25 Mei in die Life MidMed-hospitaal in Middelburg opgeneem waar die dokters bloedtoetse laat doen het om te help bepaal wat die oorsaak van die pyn kan wees. Daar het hulle vasgestel dat sy geen virale infeksie of Covid-19 opgedoen het nie.

Haar toestand het egter daagliks verswak.

“Sy kon nie meer self badkamer toe loop nie. As ek aan haar lyfie gevat het, het sy gehuil van die pyn.”

Die dokters het deur middel van die bloedtoetse bepaal dat die inflammasievlakke in haar liggaam baie hoog is.

Die seldsame pediatriese multistelsel- inflammatoriese sindroom (PMIS) is by haar gediagnoseer. Dié kindersiekte is verlede jaar nuut in Suid-Afrika aangemeld en hou verband met Covid-19.

Maroela Media het vroeër berig baie kinders wat die siekte opdoen het Covid-19 gehad, of hulle was in aanraking met iemand wat Covid-19 gehad het.

Megan is ’n sportiewe kind en volgens Jolene sou sy vanjaar na verwagtings groot rekords in atletiek laat spat het (Foto: Megan Herbst, Facebook)

Volgens Joléne het Megan egter keer op keer negatief vir die virus getoets en sy het ook geen teenliggame daarvoor getoon nie.

Die dokters het haar op Covid-19-behandeling geplaas, haar inflammasiemerkers het begin afneem en sy het verbetering getoon.

Megan kon ’n paar dae later self uit die bed opstaan het en sy is eindelik op 1 Junie ontslaan.

Joléne sê Megan het sowat drie dae daarna weer begin koors ontwikkel. Sy het ook maagpyn en erge lyfseer gehad en het gesukkel om asem te haal.

Sy is verlede Dinsdag in die Unitas-hospitaal opgeneem waar dokters weer intensiewe bloedtoetse gedoen het.

“Ons moes haar die hospitaal indra. Haar bloeddruk was baie laag, haar koors té hoog en volgens die dokters was haar kanse vir ’n beroerte baie groot. Hulle was ook bang dat haar niere sal ingee as sy nie gehospitaliseer word nie.”

Vrydag het dokters twee outo-immuunsiektes by Megan gediagnoseer.

“Die selle wat haar liggaam moet beskerm, val haar aan. Die siektes is geneties oordraagbaar en ook baie skaars en gevaarlike siektes.”

Volgens Joléne moet spesiale medikasie vanuit die VSA vir Megan se behandeling ingevoer word.

Joléne vertel dié siektes kelder vir eers Megan se sportdrome. Sy het weens haar toestand byna al haar spierkrag verloor. Van kindsbeen af is sport en oefen ’n groot passie vir haar.

“Sy het verlede jaar die SA Skolesport se top-10-lys in 60 m en 80 m behaal. En sy sou vir dié jaar jare oue rekords in haar visier gehad het.”

“Volgens die dokters het sport en gereelde oefening die outo-immuunsiektes onderdruk. Toe sy verlede jaar weens Covid-19 nie meer so gereeld aan sport kon deelneem nie, het dit glo dié siektes getrigger.

Joléne sê volgens Megan se rumatoloog sal sy moet aanhou probeer om sport te beoefen omdat dit die siekte onderdruk. Eers moet sy egter haar kragte herwin.

“Verder sal tyd leer wat die toekoms vir ons inhou. Ons droom vir haar is dat sy weer sport kan beoefen en ’n normale lewe sal lei. Ons bly positief.”

Joléne het ’n gebedsblad op Facebook vir Megan gestig om ander ouers bewus te maak van dié soort siekte. Sy sê sy wil met dié blad mense ook weer in wonderwerke laat glo.

“Met Megan se verhaal wil ek bewys dat wonderwerke steeds bestaan, want tot dusver kon ons sien die Here was getrou en goed vir ons. Haar diagnoses het ons soos ’n dief in die nag bekruip, maar ons is dankbaar dat ons so gou uitgevind het wat fout is. Daar is ouers wat jare lank vir ’n diagnose wag.”

Joléne sê sedert sy die blad op die been gebring het, het gebede, ondersteuning en hulp van oraloor ingestroom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Di ·

Dis so harseer! Sterkte aan haar en die familie. By God is niks ontmoontlik nie. Hoop dat sy sommer spoedig sal herstel en haar ou self wees.

Frank ·

Die wêreld is SO vol seerkry en swaarkry. Kom Here Jesus, kom gou!!

Leonard ·

God se Genade is GROOT.
Kan getuig, was self in koma vír 3 maande. STOM PARAPLEEG ná my ongeluk

Melli ·

Ons bid vir volle genesing vir di prag kind! Ni ons wil ni Here maar U Wil

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.