Talle kinders sterf in Pongola-ongeluk

(Foto: @TrafficRTMC/Twitter)

Talle kinders en minstens twee volwassenes is Vrydagmiddag dood in ʼn ongeluk op die N2 tussen Pongola en Piet Retief in KwaZulu-Natal.

Een kind is in ʼn bedenklike toestand in die Itshelejuba-hospitaal.

Volgens berigte op die toneel was ʼn vragmotor en ʼn bakkie in die ongeluk betrokke. Die skoliere is agterop die bakkie vervoer.

Robert Mckenzie, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse nooddienste, het gesê die bakkie is steeds gedeeltelik onder die vragmotor vasgekeer en paramedici is steeds besig om liggame uit die wrak te verwyder.

Volgens hom is minstens agt kinders en twee volwassenes oorlede. Hy wou nie in hierdie stadium spekuleer oor die dodetal nie.

VM Sikhosana, burgemeester van Pongola, het egter in ʼn persverklaring gesê 17 skoliere is in die ongeluk oorlede. Hy het sy meegevoel betuig met die families van die skoliere.

“Ons innige meegevoel aan die families van die leerlinge wat in die ongeluk gesterf het. Ons hoop dat hulle vertroosting, hoop en moed sal vind in hierdie moeilike tyd. Ons wens die beseerde kind spoedige herstel toe.”

Dr. Imran Keeka, die DA se woordvoerder oor onderwys in KwaZulu-Natal, het ook sy innige meegevoel betuig met die families wat geliefdes verloor het.

“Alhoewel die oorsaak van die ongeluk nog nie bekend is nie, versoek ons alle betrokke owerhede om uit te vind wat presies gebeur het. Dit gebeur te gereeld dat daar lewensverlies is weens onveilige en ongereguleerde skoolvervoer.”

Keeka sê dit is slegs ʼn ouer wat al ʼn kind aan die dood afgestaan het wat ʼn begrip kan hê vir wat dié ouers nou deurgaan. “Ons vertrou dat hulle op geloof en gebed kan steun in ʼn uiters moeilike tyd.”

ʼn Maroela-leser, wat verby die toneel gery het, het sy skok uitgespreek oor hoe ver die liggame van mekaar af langs die pad gelê het.

Maroela Media wag vir verdere inligting en ʼn bevestiging van die amptelike dodetal.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sê Ook Maar Net ·

Dit is hartseer. Arme kinders. Hulle verdien dit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.