Talle meen matriekuitslae ‘laat rooi ligte flikker’

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, kondig die 2018-matriekuitslae aan (3 Januarie 2019). Foto: Jacques Naude/ANA

Hoewel Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, Donderdagaand in haar noppies was oor die 2018-matriekslaagsyfer wat sedert 2017 met 3,1% verbeter het, meen verskeie kenners daar is rede tot kommer.

“Die toename in die persentasie kandidate wat die 2018‑matriekeindeksamen geslaag het, is wel verblydend, maar die afname in die aantal leerlinge wat tydens die 2018-eindeksamen welvaartvakke geskryf het, behoort egter rooi ligte te laat flikker,” sê Melanie Buys, onderwysspesialis verbonde aan die Skoleondersteuningsentrum (SOS).

Maroela Media het vroeër berig die matriekklas van 2018 het ʼn slaagsyfer van 78,2% bereik, met progressie-leerders ingesluit. Die nasionale slaagsyfer met progressie-leerders uitgesluit, is 79,4%, ʼn verbetering van 2,9% teenoor die 76,5% wat in 2017 bereik is.

“Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) is verheug oor ’n toename in die nasionale slaagsyfer en wens leerlinge wat hard gewerk het vir goeie uitslae, geluk met hul prestasie,” sê Buys.

Sy wys daarop dit is egter belangrik om in ag te neem dat derduisende leerlinge wat in 2007 met graad een begin het, nie in 2018 matriek geslaag het nie. “Die stelsel het hierdie leerlinge in die steek gelaat,” sê Buys.

Ook Tammy Wessels, jeugleier van die VF Plus, bestempel die matriekslaagsyfer as “misleidend” omdat al die leerders wat in 2007 vir graad 1 ingeskryf het, nie in 2018 hul matriekeksamen geskryf het nie. “55% van alle leerlinge wat in 2007 met graad 1 begin het, het nie in 2018 matriek geskryf nie en is dus êrens langs die pad deur die stelsel in die steek gelaat,” sê Wessels.

“Die VF Plus wens leerlinge geluk wat ten spyte van moeilike omstandighede goed presteer het en bedank ook die toegewyde onderwysers wat te midde van talle uitdagings ’n positiewe verskil maak. Die realiteit is egter dat die slaagsyfer teen die uitvalsyfer gemeet moet word. Slegs 35% van die leerlinge wat in 2007 met graad 1 (1 141 731) begin het, het in 2018 matriek geslaag. Slegs 37% van die leerlinge wat in 2016 in graad 10 (1 067 075) was, het geslaag,” sê sy.

“Die klem vir ʼn suksesvolle onderwysstelsel moet op gehalte onderwys wees, eerder as ʼn goeie matriekslaagsyfer. Suid-Afrika se basiese onderwysstelsel met sy verlaagde standaarde en hoë uitvalsyfer is bloot te gebrekkig om leerlinge na behore vir naskoolse opleiding en die arbeidsmark voor te berei. Dit plaas ʼn demper op die 2018-uitslae.”

Die nasionale matriekuitslae van 2018 word aangekondig (3 Januarie 2019). Foto: Verskaf

Minder skryf ‘welvaartvakke’

Buiten die algehele slaagsyfer, het die SOS ook gaan kyk na prestasie in die sogenaamde welvaartvakke soos wiskunde en wetenskap wat matrieks geskryf het. Hugo Vermeulen, onderwysspesialis verbonde aan die SOS, sê daar was in 2018 ʼn drastiese afname in die aantal leerlinge wat dié vakke geskryf het.

Volgens Hugo het die aantal kandidate wat rekeningkunde geskryf het sedert 2017 met 11 596 leerlinge afgeneem. Die aantal kandidate in ekonomie en besigheidstudies het met 11 595 en 8 883 onderskeidelik afgeneem. “Die drastiese afname in rekeningkunde, ekonomie en besigheidstudies is kommerwekkend,” sê Vermeulen.

“Veral rekeningkunde en ekonomie is akademies uitdagend en word hoofsaaklik deur die sterker leerders geneem. Hierdie afname in matrikulante wat dié vakke geskryf het, sal ook ’n afname teweegbring in die aantal studente wat inskryf vir BCom‑ en BRek‑studierigtings in Suid-Afrika. Dit terwyl die land juis in die huidige ekonomiese klimaat meer boekhouers, ouditeure, ekonome en entrepreneurs nodig het.”

Volgens die SOS het die aantal kandidate wat wiskunde en wiskunde‑geletterdheid neem ook afgeneem met onderskeidelik 5 568 en 10 043 kandidate wat in 2018 hierdie vakke geskryf het. Fisiese wetenskappe is deur 4 091 minder leerlinge geneem. “Wiskunde en wetenskap gee toegang tot belangrike studierigtings, soos ingenieurswese, wat belangrik is vir ’n groeiende ekonomie,” beklemtoon Buys.

Die SOS meen die toename in die aantal matrieks wat geslaag het met universiteitsvrystelling (van 153 610 in 2017 tot 172 000 in 2018) was te verwagte, aangesien die slaagvereistes vir universiteitsvrystelling vanjaar verlaag is.

“Hoewel dit verblydend is dat meer leerders nou toegang tot universiteit het, is dit steeds nie te sê dat hierdie leerders akademies toegerus is om naskoolse kwalifikasies te verwerf nie. Die SOS is ook bekommerd dat daar nie genoeg plek in instellings vir hoër onderwys is om al hierdie leerlinge te akkommodeer nie. Dit kan lei tot verdere betogings by universiteite, sou leerders met universiteitsvrystelling verhoed word om te studeer omdat hulle nie plek kry in ’n universiteit nie,” sê Vermeulen.

Hy meen ook dit plaas bykomende druk op universiteite om hul eie keuringsprosesse op te skerp.

Ook Buys noem dat die ware toets sal wees of hierdie leerlinge suksesvol hul graadstudies sal kan voltooi.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, tydens ‘n gelukwensingsontbyt wat Donderdagoggend vir die toppresteerders gehou is (3 Januarie 2019). Foto: Jacques Naude/ANA

Hoe lyk gehalte van onderwys?

Alana Bailey, adjunk‑ uitvoerende hoof van AfriForum, sê afgesien van die slaagsyfer en aantal onderskeidings, moet met ʼn kritiese oog na die slaag- en toelatingsvereistes gekyk word. “Slaag- en toelatingsvereistes wat deurentyd verlaag word – soos wat pas weer die geval met toelatingsvereistes vir tersiêre studie was – skep die indruk dat selfs die groep wat slaag, toenemend minder het om aan werkgewers te bied,” sê Bailey.

Volgens die Wêreld Ekonomiese Forum se 2017/’18 Globale Mededingendheidsindeks, beklee Suid-Afrika die 114de plek onder 137 lande wat die gehalte van hoër onderwys betref en die 116de plek betreffende die gehalte van primêre onderwys.

“Suid-Afrika se swak ekonomiese groeikoers en onaanvaarbaar hoë amptelike werkloosheidsyfer (27,5% in die derde kwartaal van 2018) kan nie verbeter as skoolverlaters wat die arbeidsmark betree, só gebrekkig met kennis toegerus word nie.”

Bailey beklemtoon dat die oplossing onder meer te vinde is in ’n groter aanbod van moedertaalonderrig, streng optrede teen ideologies gedrewe polariserende uitsprake en optrede soos dié van Gauteng se LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, meer doeltreffende kurrikulumopsies, tydige aflewering van handboeke, die vasvat van onderwysvakbonde wat onderrig lamlê, die skep van meer opleidingsgeleenthede vir onderwysers, asook kragdadige optrede teen ’n gebrek aan dissipline onder leerders en onderwyspersoneel.

“Die toekoms rus op die gehalte van die land se onderwysstelsel – nie ’n kosmetiese herverdeling van eiendom of gimnastiek met slaagsyfers nie,” sluit Bailey af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae