Talle olifante vrek nou ook in Zim

‘n Dooie olifant in die Hwange Nasionale Park in Zimbabwe. (Foto: AP Photo)

Altesaam 22 olifante het reeds in die weste van Zimbabwe gevrek en nóg vrektes word in dié land onder grootpote verwag. Dié diere het vermoedelik weens ’n bakteriële infeksie gevrek nadat hulle giftige plante geëet het.

Tinashe Farawo, woordvoerder van Zimbabwe se nasionale owerheid vir parke en natuurlewe, het Woensdag gesê die meeste olifante wat in die Pandamasue-bos tussen die Hwange Nasionale Park en die Victoria-waterval gevrek het, was jonk of swak.

Die diere se tande is nie verwyder nie wat die moontlikheid van stropery uitskakel.

Volgens Farawo kan jong olifante nie hoë takke bykom nie wat daartoe lei dat hulle enigiets in hul bereik eet waaronder vermoedelik giftige plante.

Hy meen die probleem kan gedurende die droë seisoen voortduur nadat Zimbabwe die afgelope paar jaar gebuk moes gaan onder opeenvolgende droogtes. Diere moes dus met minder water en kos klaarkom. Ongeveer 200 olifante het verlede jaar in Zimbabwe weens die droogte van die honger gevrek.

Volgens Farawo kan sommige diere afgesien van moontlike bakteriële infeksie boonop nou vrek weens die spanning om lang afstande na kos en water te loop.

Hy glo oorbevolking het die grootste bedreiging vir die voortbestaan ​​van wild in Zimbabwe se parke geword. “Die diere word ’n bedreiging vir hulself.”

Navorsers probeer nou vasstel of die vrektes in Zimbabwe enigsins verband hou met die raaiselagtige vrektes van olifante in buurland Botswana.

Maroela Media het vroeër berig meer as 350 olifantkarkasse is teen Julie in die Okavango-delta opgemerk. Stroping, vergiftiging en miltsiektevergiftiging is reeds hiér as oorsaak uitgeskakel.

Botswana het die grootste olifantbevolking ter wêreld met ’n beraamde 156 000 olifante, gevolg deur Zimbabwe, geskat op 85 000 olifante.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

agnes ·

Omdat Hulle so baie bome omkap vir brandhout kom die reen nie meer nie. Dit is Afrika se dood.

Colin ·

Dit het niks met bome uitkap te doen nie. Daardie deel tussen Zimbabwe en Botswana is nog redelik yl bevolk. Die olifante kan vryelik tussen die twee lande deurbeweeg. Die deel gaan gebuk onder erge droogte en die natuur het nou maar net ‘n manier om die swakker diere uit te sif. Gaan kyk maar self wat die olifante met die Chobe oewerbos wat nie ver daarvandaan is nie aangvevang het.

Kokerboom ·

Dis tragies maar dis hoe die natuur natuurlike beheer al die eeue toepas. Kom ons hoop vir goeie reen en beter fauna bestuur deur regering alhoewel ek huidig diep twyfel

Human ·

Voor die mens ‘n plaag geword het was die olifant getalle baie meer in die onderskeie lande en het die natuur sy gang gegaan. Van dat die mens probeur om in beheer van die natuur te wees kry die natuur die skuld vir alles wat verkeerd loop as gevolg van die mens se ongebreidelde aanwas en gierigheid om die Aarde se bates te stroop en te gebruik asof daar nie ‘n dag van morê is, maar “payback” is baie naby en dan gaan daar ‘n geween en ‘n gekners van tande wees soos nog nooit vantevore.

Miskruier ·

My beeste het ook na die droogte, verkeerde plante gevreet en gevrek. Ander jare sit hul niehul mond aan die plante.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.