Talle Safta-benoemings vir ‘Hotel’, ‘Diepe waters’

Die rolverdeling van ‘Hotel’.

Die span van Nagvlug Films, wat verantwoordelik is vir die vervaardiging van die kykNET-komediereeks, Hotel, het ʼn hele rits benoemings ontvang vir vanjaar se gesogte Suid-Afrikaanse fliek- en televisietoekennings (Saftas).

Die benoemings vir die 17de jaarlikse Saftas is Dinsdag bekendgemaak, met talle Afrikaanse produksies wat op dié gesogte lys geland het.

Die Saftas vereer jaarliks die room van die Suid-Afrikaanse televisie- en rolprentbedryf.

Hotel se vyfde en laaste seisoen is in die kategorie vir TV-komedie onder meer benoem vir beste grimering en stilering, garderobe, klank, kunsregie, redigering en kinematografie. Bennie Fourie is ook benoem as beste regisseur van ʼn TV-komedie.

Die aktrises Martelize Kolver en Mila Guy is ook benoem in die kategorie vir beste vrouespeler in ʼn ondersteunende rol vir Hotel.

Schalk Bezuidenhout is ook benoem as beste akteur in ʼn ondersteunende rol in ʼn TV-komedie vir sy rol as Danny Beyers in Hotel.

Simoné Pretorius en James Borthwick is onderskeidelik benoem as beste aktrise en akteur in ʼn hoofrol in ʼn TV-komedie, ook vir Hotel.

Arnold Vosloo as Daan Ludik in die Netflix-reeks, Ludik. (Foto: Verskaf)

Arnold Vosloo, Tobie Cronjé, Chris Chameleon, Monique Rockman en Jarrid Geduld is ook benoem vir hulle toneelspelvernuf.

Die geliefde Kaapse sepie, Suidooster, asook die telenovele Arendsvlei en Diepe waters, is in verskeie kategorieë benoem.

Suidooster is verlede jaar aangewys as die beste Suid-Afrikaanse sepie en is weer in dieselfde kategorie benoem saam met Binnelanders en Scandal!

Donkerbos, Die Groot Niks, Die Groenste Vingers, Houvrou of Trouvrou, Dinge van ʼn kind en die dokumentêre reeks, Weskusbewoners, is ook van die Afrikaanse reekse wat in verskeie kategorieë benoem is.

Die IdeaCandy-produksiehuis se opspraakwekkende dokumentêr, Steinheist, is ook in talle kategorieë benoem. Dié maatskappy se dokumentêr, Devilsdorp, het verlede jaar talle pryse op die toekenningsgeleentheid ingeoes.

Die dokumentêre, My Name is Reeva en Rassie, is ook benoem.

Black Swan Media, wat verantwoordelik was vir verlede jaar se regstreekse uitsending van die Mej. Suid-Afrika-kompetisie, is ook vir ʼn Safta-beeldjie benoem. Die nuwe Mej. SA word Sondag by die SunBet Arena by Times Square in Menlyn, Pretoria, aangewys.

Black Swan Media is ʼn kreatiewe span wat slegs uit vroulike vervaardigers en regisseurs bestaan.

“Ons is ekstaties oor die erkenning van ons harde werk, en om ʼn vrouespan te wees, maak dit selfs nog soeter. Dit was ʼn samewerkende poging wat ondersteun is deur talle naamlose gesigte wat sonder erkenning agter die skerms werk,” verduidelik Relebogile Mabotja, uitvoerende vervaardiger en regisseur vir Black Swan Media.

Kyk hier na die volledige lys van benoemings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.