Talle Sassa-beamptes ondersoek vir korrupsie, bedrog

Argieffoto (Foto: ANA)

Meer as ’n halfmiljard rand is die afgelope 10 jaar by die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA) gesteel, maar gevolgbestuur blyk minimaal te wees.

In ’n antwoord op ’n geskrewe parlementêre vraag van die DA het die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, onthul dat strafsake vir bedrog, korrupsie en diefstal teen 761 SASSA-amptenare oor die afgelope dekade geopen is.

“SASSA se jaarverslag dui egter aan dat slegs 37 sake na die polisie verwys is vir verdere ondersoek,” sê Bridget Masango, die DA se skaduminister oor maatskaplike ontwikkeling.

In ’n ander parlementêre vraag het Zulu onthul dat daar gevolgbestuur in slegs 424 van hierdie gevalle was.

“Van drie diefstalklagtes het slegs twee tot skorsings sonder betaling gelei. Van 259 korrupsiegevalle het slegs 69 tot afdankings gelei, en 30 van die betrokke amptenare is geskors. Van die 122 individue wat vir wanbestuur en onreëlmatige betaling ondersoek is, is slegs drie afgedank,” sê Masango.

Van die 145 voortgesette dissiplinêre sake is 60% in KwaZulu-Natal.

“Terwyl begunstigdes maand na maand wonder of hul broodnodige SASSA-toelae betyds betaal sal word, lyk dit of die agentskap en die departement van maatskaplike ontwikkeling min belang daarin het om te verseker dat die geld veilig van diewe bewaar word,” sê Masango.

Volgens Masango sou die meer as R536 miljoen wat die afgelope dekade geplunder is, help om te verseker dat die SASSA-kantore bekwaam is om stelselfoute en veiligheidsprobleme te takel.

“Met die stygende lewenskoste hou arm Suid-Afrikaners skaars kop bo water. Minister Zulu moet verseker dat die individue wat van die armstes steel, aanspreeklik gehou word en dit as voorbeeld dien vir enige ander werknemers wat soortgelyke skemas in gedagte het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Gertdup ·

Ek sou verbaas gewees het as daar niks geld verdwyn het nie.

annie ·

Net ‘n half-miljard? Julle speel. Eerder 10x soveel. Dit is die lekkerste lekker van plekke.

JohanR ·

Agh kom ek se maar in Engels….why am I not surprised? Die ANC het goed geleer!

Jacobus ·

Die ANC belowe mos n beter lewe vir almal, hulle sluit maar net by die krip aan om saam met ANC ministers te vreet.

Hendrik ·

Gruwelike misdade is gepleeg wat in werklikheid ekonomiese sabotasie is. Waar is die regstelsel en jare lange tronkstraf??????

Eugene ·

Daar sal niks gedoen word nie, want die regering pleeg ook bedrog en korrupsie

Sê maar net ·

Wil nie meer nuus lees nie…maak my naar. Geen gevolge vir enige korrupsie en diefstal in die regering nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.