Talle sterf toe vlamme taxi verswelg

Die skrikwekkende ongelukstoneel op die N3. (Foto: Netcare 911)

Verskeie mense is dood toe twee vragmotors, ʼn minibustaxi, ʼn bakkie en vyf motors Saterdag in die vroeë oggendure in ʼn botsing betrokke was waarna die volgelaaide minibustaxi in vlamme uitgebars het.

Dié gru-ongeluk het op die N3-Suid tussen die Peter Brown- en Chattertonweg-afrit in Pietermaritzburg plaasgevind.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê dit is nie in dié stadium duidelik hoeveel insittendes daar was nie, maar al die insittendes van die taxi het in die ongeluk omgekom.

Paramedici van verskeie ambulansdienste is vanoggend net ná 03:00 na die ongelukstoneel ontbied.

“By die nooddienste se aankoms op die toneel het die brand reeds na ander voertuie versprei en die taxi met al sy insittendes verswelg,” sê Herbst.

Paramedici was op die toneel nog doenig toe nóg ’n botsing op die N3-Noord plaasgevind het en paramedici behoorlik moes bontstaan.

Verskeie motoriste is in dié ongeluk beseer en op die toneel deur mediese personeel van verskeie ambulansdienste behandel.

Dit is ook nie duidelik hoeveel in dié ongeluk beseer is nie.

Die skrikwekkende ongelukstoneel op die N3. (Foto: Netcare 911)

Die skrikwekkende ongelukstoneel op die N3. (Foto: Netcare 911)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.