Talle sukkel wéér met Sassa-betalings

(Argieffoto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Vir ʼn derde agtereenvolgende maand word die DA oorval deur klagtes van mense wat staatstoelae van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) ontvang.

Sassa en Posbank het vroeër in verklarings gesê dat haakplekke met die betalings opgelos gaan word.

“ʼn Mens sou verwag alle probleme sou ná die fiasko met die November- en Desember-betalings van toelae uitgestryk word. Dit was duidelik nie die geval nie en begunstigdes wat op die geld staatmaak, moes die feestyd sonder enige bron van inkomste deursien,” sê Bridget Masango, die DA se woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling.

Vroeg in Desember kon begunstigdes met ʼn Posbank- uitgereikte goue kaart nie hul toelae by ʼn kitsbank onttrek nie, omdat misdadigers die netwerk geteiken het. Die onttrekking van toelae vir Desember is tydelik opgeskort en mense is gevra om hul geld by kleinhandelaars te onttrek.

Masanga sê interne kommunikasie van Sassa dui op die “onbeskikbaarheid van die geïntegreerde toelaagbetalingstelsel” wat alle gouekaarthouers kan raak. Dit geld vir uitbetalings by alle punte, ook die poskantoor.

Luidens die interne memorandum kan Mzansi-begunstigdes, asook diegene wat die maatskaplike toelaag vir noodverligting (bekend as SRD) ontvang, steeds transaksies by kitsbanke, betaalpunte en takke van die poskantoor doen.

“Die navrae dui op ʼn toelaagbetalingstelsel wat bedryf word sonder behoorlike leierskap, politieke wil of besorgdheid oor die armes en kwesbares,” sê Masango.

ʼn Gefrustreerde leser se e-pos aan Maroela Media vroeër vandeesmaand lui dat haar pogings om die geld te onttrek, deurlopend van die hand gewys is. Helena Venter, ʼn begunstigde van Derby in Noordwes, sê sy het vyf dae lank gesukkel voordat sy eindelik haar toelaag kon onttrek. Sy was onder meer by ʼn Sassa-kantoor, maar is ook onverrigter sake daar weg. “Niemand kon sê wat die probleem is nie; hulle het net skouers opgetrek en gesê ek moet maar weer probeer.”

Venter kon teen Saterdag die geld by ʼn bankteller onttrek.

Die DA sal weens die groot getal klagtes wat die party ontvang het, vandeesweek ook ʼn oorsigbesoek aan die Sassa-kantoor in Soshanguve bring om antwoorde te kry op ʼn krisis wat die minister en Sassa “ignoreer”, maar niks minder nie as 18 miljoen mense raak.

Die Sassa-kantoor in Soshanguve is volgens die DA sedert November kwalik in bedryf. Probleme sluit in ʼn agterstand met die verwerking van nuwe aansoeke sedert Oktober, geen voorraad van Sassa-kaarte nie, begunstigdes wat in Desember weggewys is en die hantering van navrae met ʼn enkele skootrekenaar wat aan ʼn toesighouer behoort.

“Dit is nie ondenkbaar dat ander kantore in dieselfde bootjie is nie, gegewe die oproepe van aansoekers en begunstigdes wat aanvoer dat hulle geen terugvoer van die Sassa-oproepsentrum, telefonies, of via SMS en e-pos ontvang nie,” sê Masango.

“Hoe moet mense, wat op die inkomste staatmaak, oorleef op ʼn reeds karige maatskaplike toelaag as hulle niemand van Sassa in die hande kan kry nie?”

Masango sê die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, moet die bepalings van die Sassa-wet begin nakom en die betalingstelsel regruk – die einste rede waarom Sassa 16 jaar gelede op die been gebring is.

Moabi Pitsi, woordvoerder van Sassa, sê in hierdie stadium behoort die meeste probleme wat begunstigdes dalk vroeër kon ondervind, uitgestryk te wees.

Pitsi sê betalings is van 3 tot 5 Januarie gedoen en dat enkele probleme teen Donderdag ondervind is. “Daardie probleme is egter opgelos,” sê hy.

Posbank het begunstigdes met goue kaarte ook Vrydag om verskoning gevra vir die ongerief wat hulle weens tegniese probleme met die stelsel moes verduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Magda G ·

Skort/Hou die mense wat met die SASSA program werk om dit reg te stel se salarisse ook vir maande terug

H.A. ·

‘Our people’ hardloop na DA vir help, as die anc hulle te na kom, maar ondersteun nog steeds die anc.

Johan ·

SASSA is een van ons grootste probleme, uitgawe wat ons nie kan bekostig nie wat maak dat miljoene na die dorpe en stede stoom om geld waarvoor hul nie gewerk het nie te vat. Help mense eerder om werk te kry deur belastings te verminder sodat besighede kan groei….maar nou ja. Piesang republiek dink nie so nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.