Talle Vrystaters al dae lank sonder water

water-kraan

(Argieffoto ter illustrasie: pixabay)

ʼn Waterlose Kersfees sal moontlik vanjaar talle Vrystaters se voorland wees aangesien watertoevoer al vir langer as ʼn week na sommige gebiede in dié provinsie afgesny is.

Drinkwatervoorraad wat in winkels te koop is, het ook intussen opgedroog.

Volgens Armand Cloete, VF Plus-LPW, het Sedibeng Water glo weens wanbetaling nie die geld om watersuiweringschemikalieë aan te koop nie.

Die Matjhabeng- plaaslike munisipaliteit is glo ook meer as R4 miljard aan Sedibeng Water verskuldig. Daar is egter ’n dispuut oor die presiese bedrag wat verskuldig is.

Susan Taljaard, die Vryheidsfront Plus se raadslid in Welkom, sê watertoevoer is intussen Donderdag na gemeenskappe in Welkom en Odendaalsrus herstel, terwyl die meeste inwoners van Ventersburg, Hennenman en Riebeeckstad na verwagting nog vir ʼn onbepaalde tyd daarsonder sal moet klaarkom.

Die water wat wel nou in Welkom en Odendaalsrus beskikbaar is, is egter nog vuil en nie drinkbaar nie, sê Taljaard.

Dit is boonop nie die eerste keer dat inwoners waterprobleme en -tekorte ondervind nie.

Jolandie Buytendag Greeff, ʼn inwoner van Welkom, sê die voortslepende watersituasie laat inwoners se bloed behoorlik kook.

“Ons het darem watertenks wat ons in sulke gevalle gebruik, maar dié is ook nou al leeg,” het sy Donderdag aan Maroela Media gesê.

ʼn Video wat by die Goldfields-winkelsentrum in Welkom geneem is, wys hoe ʼn man ʼn bottel met water uit ʼn spuitfontein volmaak – dié water is egter ook nie gesuiwer nie. Vir watter doeleindes hy die water benodig het, is egter nie bekend nie.

Die video is vandeesweek op die Facebook-groep Welkom City / Stad gedeel.

Amanda Nel en haar man, Johan (albei 55), ook inwoners, sê hulle het die afgelope agt dae op die water uit hul swembad staatgemaak.

Amanda Nel, ’n inwoner van Welkom, kon wasgoed was nadat haar man, Johan, ’n pyp van die swembad na die wasmasjien aangelê het. (Foto: Verskaf)

“Ek kry die mense sonder swembaddens en watertenks jammer. Ek weet nie hoe hulle oor die weg gekom het nie.

“Ons het die swembadwater vir spoelwater gebruik en het ook ʼn kampstort. Ek kry die gesinne met klein kindertjies en ouer mense egter baie jammer.”

Sy sê hulle het die situasie maar met ʼn positiewe gesindheid benader en dit as ʼn kampavontuur aangepak.

Die Nels het boonop ook ʼn plan gemaak om wasgoed te was deur ʼn pyp van die wasmasjien na die swembad aan te lê.

“ʼn Mens se huis moet mos skoon wees vir Krismis en die gaste is aan die kom.”

Haar dogter, Louise du Plessis, sê hulle vertrek juis Vrydag vanuit Pretoria om haar ouers in Welkom te besoek en sal drinkwater koop om saam te vat.

Bemiddelingsprosesse tussen die munisipaliteit en Sedibeng Water sal na verwagting eers in Januarie 2022 begin.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.