Taxi-staking: 5 moorde, 120 inhegtenisnemings

(Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Wetstoepassingsbeamptes het sedert Donderdag hul hande vol nadat geweld in Kaapstad uitgebreek het weens die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) se voortslepende staking. Vyf moorde en 120 inhegtenisnemings is in verband met die staking aangemeld.

Só het Bheki Cele, minister van polisie, Dinsdagmiddag by die Station Deck Taxi-staanplek in Kaapstad gesê.

Volgens Cele is die eerste moord Donderdag in Ntlangano-singel in Nyanga aangemeld, toe ’n 40-jarige Britse man doodgeskiet is.

Zanikhaya Kwinana (33), ’n lid van die Wes-Kaapse regering se program vir die bevordering van wetstoepassing, beter bekend as LEAP, is Vrydag omstreeks 20:15 by Miller-weg in Nyanga doodgeskiet, terwyl hy aan diens was.

Drie mans is Saterdag en Maandag onderskeidelik in Mfuleni, op die afdraaipad na die Kaapstad Internasionale Lughawe, en in Borcherds Quarry-weg in Nyanga geskiet.

“Plundering, motors wat met klippe bestook is, voertuie wat aan die brand gesteek word, infrastruktuur wat beskadig is, lede van die publiek wat gedreig en geïntimideer word, asook paaie wat versper word, was die afgelope paar dae in die Moederstad aan die orde van die dag,” het Cele gesê.

Cele het bevestig altesaam 120 mense is vir verskeie oortredings – wat met die staking verband hou – in hegtenis geneem. Die oortredings wissel van kwaadwillige skade aan eiendom tot openbare geweld en plundering.

Verder is altesaam 53 minibustaxi’s naby die lughawe geskut. Dit was tydens ’n geïntegreerde operasie (waarby die polisie én die Stad Kaapstad se verkeersdienste en metropolisie betrokke was) om die toegangspad na die lughawe oop te stel en verkeer te laat vloei. Taxi’s het van Maandag vroegoggend af dié pad versper.

Daar word verder vyf moordsake, ’n saak van poging tot moord, openbare geweld, brandstigting, gewapende rooftogte, motorkaping en talle gevalle van kwaadwillige saakbeskadiging ondersoek.

Die polisie bly tans op ’n hoë gereedheidsgrondslag.

“Ons vra dat alle betrokke partye so gou moontlik ’n ooreenkoms bereik en dat die taxi-bedryf die wet sal nakom. Wetsgehoorsame burgers word versoek om binne die grense van die wet op te tree en alle dade van misdadigheid by die polisie aan te meld.”

(Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Cele het ook die aantygings dat hy die taxi-staking aangevuur het, in die kiem gesmoor.

“Ek wil die rekord regstel met betrekking tot my bywoning van ’n vergadering met rolspelers in die taxi-bedryf. Dit is binne die mandaat van die ministerie wat verantwoordelik is vir die voorkoming, bekamping en ondersoek van misdaad om in te gryp en beplande skuldoorsaak af te weer wat burgers nadelig raak. In geen stadium sal ek as die nasionale minister van polisie stakings aanhits nie.”

Skole steeds gesluit

(Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Altesaam 71% van die leerders in die skole in die stad kon teen Dinsdag weens die staking steeds nie skool toe gaan nie. Dit is ’n totaal van 852 259 leerders.

Altesaam 17 725 onderwysers en ander skoolpersoneel kon Dinsdag ook nie by skole uitkom nie.

In die geheel moes 92 skole noodgedwonge hul deure sluit en talle ander skole het leerders vroeër huis toe gestuur. Dié getal het omtrent verdriedubbel sedert Maandag.

“Die staking het ’n verwoestende uitwerking op onderrig en leer in ons provinsie. Dit terwyl ons nog van die negatiewe uitwerking van die Covid-19-pandemie probeer herstel,” sê David Maynier, LUR vir onderwys in die Wes-Kaap.

Die Kaapse metro-onderwysdistrikte word steeds die ergste geraak, met ’n aanwesigheidsyfer van tussen 10% en 20%. Ontwrigting van die leerdervervoerskema in die Kaapse Wynland- en Weskus-onderwysdistrikte het ook daartoe bygedra dat minder leerders skool toe gaan.

“Party leerders kon nie die skool bereik nie weens die ontwrigting in openbare vervoer. Ander is weer om veiligheidsredes deur hul ouers by die huis gehou.”

Volgens Maynier is geen aanvalle op skole of die beskadiging van skooleiendom aangemeld nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann ·

In your face MADHATTER! Pateties onbevoegd! Kamptig nie ‘n aanhitser nie? Jy en jou ANC kamerade is in die taxi bedryf se sak.

Johann ·

Whahahahahaaaaa….en só ruk jy vir Sharaaaap op TV in die bek! Check sy gesig….

M ·

Genadige genade, nóú het Hoed-kop ‘n stuiwer te gooi … na chaos, wanorde …. jy is gemeen méér as onbeholpe onbruikbaar en afstootlik… kry jou ry soontoe, kyk wst gebeur … miskien kry jy ook ‘n klip na jou gegooi om jou wakker te maak. Jý was by die vergadering waar die besluit geneem is om “Chaos” te veroorsaak. Toe is Bek-sel totaal toe. Stom. Lóóp man… so gou moontlik… loop net ver weg !!!!

Elizabeth ·

Cele, jy kan sè wat jy wil. Ons weet alles is skyn, veral in WC. Jy lieg. Geen ooreenkoms is beskikbaar behalwe dieselfde wet vir almal. Ons plaaslike regering sorg daarvoor en ons hou daarvan. Ons burgermeester is REG. Ons staan saam. Moeg vir julle wat dink alles en almal skrik vir geweld. Julle laat jul eie mense in die steek.

Anel ·

O, goeiste! Hy verdedog homself eerder as om die chaos te veroordeel!!!! Onbevoegde, ongeletterde wese!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.