Taxi-staking: Skole, dienste knars tot stilstand

(Foto: Keagen Gertse/Facebook)

Altesame 456 020 leerders en 17 449 onderwysers en ander skoolpersoneel kon sedert Maandag nie by skole uitkom nie weens die voortslepende taxi-staking.

Die Kaapse metro- onderwysdistrikte word die ergste geraak.

Dit is ’n beduidende toename van die 287 000 leerder en 9 500 personeellede wat Vrydag weens die staking afwesig was.

In die geheel moes 27 skole moes vandag noodgedwonge hul deure sluit en talle ander skole het leerders vroeër huis toe gestuur.

“Die staking veroorsaak ’n groot verlies aan onderrig- en leertyd wat ons kinders eenvoudig nie kan bekostig nie,” sê David Maynier, LUR vir onderwys in die Wes-Kaap.

“Ons is daartoe verbind om skole so ver moontlik oop te hou.”

Gerugte dat skole ook nou deur stakers geteiken word, het paniek en verwarring veroorsaak.

“Nog geen skool het enige voorval wat met die staking verband hou, aangemeld nie.”

Die onderwysdepartement doen nietemin ʼn beroep op skoolgemeenskappe om enige gevalle van teistering of intimidasie van leerders wat skool toe geneem word aan te meld, sodat die stad die toepaslike regstappe kan doen.

“Ons sal nie duld dat iemand ons kinders verhinder om toegang tot hul grondwetlike reg op onderwys te verkry nie.”

Uitwerking op stadsdienste

MyCiTi-busdiens, Dial-a-Ride:

Rob Quintas, die stad se burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, sê die stad monitor die MyCiTi-busroetes en gebiede waar die Dial-a-Ride-diens bedrywig is.

Die N2 Express-diens wat tussen die Burgersentrum, Mitchells Plain en Khayelitsha werk, is tot verdere kennisgewing opgeskort. Die 261 vanaf Adderley-stasie na Century City is ook tot verdere kennisgewing opgeskort

Alle ander MyCiTi-roetes is op die oomblik operasioneel, insluitend Atlantis, Blaauwberg, Table View en Century City. Daar is egter nie busdienste op die roetes naby of om Dunoon, Houtbaai en Imizamo Yethu nie.

Wetstoepassers begelei die busse en voertuie op sekere hoërisiko-roetes en waar voorvalle van geweld aangemeld is.

“Die situasie verander voortdurend en die stad sal voortgaan om bedrywighede dienooreenkomstig op te skort en weer te hervat,” sê Quintas.

Ses van die stad se voertuie is Saterdag omstreeks 21:00 by die stad se padinfrastruktuurbestuur-depot in Delft aan die brand gesteek. Die voertuie was voor die depot se hoofgebou geparkeer. Geen skade is aan die gebou self aangerig nie.

Nog twee voertuie is by die RIM-depot in Nyanga aan die brand gesteek en vier voertuie is by die RIM-depot in Khayelitsha aan die brand gesteek.

Munisipale dienste geraak

Die stad se vullisverwydering-, water- en sanitasiedienste word ook deur die gewelddadige staking geraak. Die munisipaliteit kon tot dusver slegs aandag skenk aan noodgevalle en voorvalle in laerisikogebiede.

Kragdienste word ook geraak in gebiede in die suide en suidooste van die metro, insluitend Gugulethu, Mitchells Plain, Mfuleni en Houtbaai. Sommige depots in die noorde van die metro is gesluit, insluitend in Langa, Joe Slovo, Heideveld, Manenberg en Hanover Park.

“Dienste in die groeiende aantal brandpunt-gebiede is tydelik onttrek. Dit is duidelik dat daar ʼn gesamentlike poging is om stadsvoertuie te teiken en dienslewering te kelder.”

Talle voorvalle van brandstigting en vandalisme is aangemeld, insluitend die kaping van ʼn rioolinstandhoudingsvragmotor in Samora Machel, wat ook aan die brand gesteek is. Diensvoertuie is ook met klippe bestook.

Verder word stadspersoneel tydens die uitvoer van hul pligte gedreig. Waar moontlik is reëlings getref dat spanne deur veiligheidspanne begelei word.

Daarbenewens kan personeel wat van openbare vervoer gebruik maak nie by die werk kom nie.

Gemeenskap- en gesondheidsdienste

Alle klinieke in Khayelitsha, Bloekombos-kliniek, Blue Downs-kliniek, Crossroads 1-kliniek, Delft-Suid-kliniek, Dr Ivan Toms CDC, Driftsands-satellietkliniek, Gugulethu-kliniek, Khayelitsha-omgewingsgesondheidskantoor, Masincedane-kliniek, Muizenberg-kliniek, Mzamomhle-kliniek, Nyanga-omgewingsgesondheidskantoor, Philippi-kliniek, Strandfontein-kliniek, Wallacedene-kliniek en Weltevreden Valley-kliniek is gesluit.

Die volgende stadsklinieke bied beperkte dienste: Bloekombos-kliniek, Masiphumelele-kliniek, Seawinds-kliniek en Vuyani kliniek.

Sommige biblioteke word ook geraak, met die volgende biblioteke wat gesluit is: Alle biblioteke in Khayelitsha, Kraaifontein, Philippi-Oos, Weltevreden, Mfuleni, Nyanga, Crossroads Scottsdene, Delft en Eikendal.

Lotusrivier, Grassy Park en Masiphumulele se biblioteke lewer beperkte dienste. Rocklands, Belhar en Lentegeur se biblioteke bied tot verdere kennisgewing slegs ʼn aflaaidiens aan.

Lees die vorige berigte oor die taxi-staking hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

christo ·

In die ander ANC regeerde provinsies kan taxis maak soos hulle wil. Taxi bestuurders dra elke maand finansieel by tot die arme verkeersbeamptes se salarisse. Ongelukkig, vir Kaapstad betaal die Stad Kaapstad hulle verkeersbeamptes goeie salarisse, en geen aanvullende fooitjies word gevra nie.

Ansie ·

En wat sê die EFF van hierdie staking wat veral swart leerders en werkers raak?

NWT ·

Ek wil twee punte aanraak.

Eersten dit is Baie maklik vir Alan Winde en David Maynier om Stellings te maak van n veilige skool , terwyl leerders en opvoeders hul lewens in gevaar moet stel. Hulle dit mos in hoe geboue en die polisie wat hul beskerm. Hulle kom hulle nie na skole waar die geweld hoogte vier nie.

Tweedens wanneer die taxi geweld oor is dan gaan mense hulle weer gebruik en ondersteun. Taxi stakings kos mense se salaris. Moenie in n taxi klim nie. Kry ander vervoer. Moenie soos mense wense wat uitgebuit word deur die ANC , maar dan om geloop word met n kospakkie , en stem hulle weer ANC.

Martie ·

Die kinders gee glad nie om om nie skool te gaan nie, hulle is vooraan die klipgooiers. Geweld word ongelukkig net stopgesit as dit summier gestuit word. Dit word nie gedoen nie, bere jul rubberkoeels en gee hierdie stakers die behandeling wat hulle verdien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.