Tazz-vrou vertel: ‘Die Here het Sy voet op myne gesit…’

Sandy-Lee Ward (Foto: Verskaf)

Die 43-jarige Sandy-Lee Ward, wat sedert Woensdag deur baie misdaadvoos Suid-Afrikaners as ʼn heldin bestempel word ná sy ʼn boef – wat haar handsak gebuit het – met haar Toyota Tazz onderstebo gery het, glo die Here het Sy voet op haar voet gesit en eenvoudig die petrolpedaal getrap.

“Dit is al hoe ek dit kan verduidelik. Ek onthou net hoe bang ek was. Ek kan die vrees nie vir jou verduidelik nie, al wat ek kon doen was bid…

“Ek het dit nie beplan nie; dit is asof ek nie gedink het in daardie oomblik nie. Ek was nie van plan om hom raak te ry nie, ek wou net my handsak terugkry.”

Ward sê sy was die oggend gou na Pick n Pay en moes ʼn belangrike dokument by Standard Bank gaan afhaal.

“Ek het nie gegaan om geld te trek nie, ek het net gegaan om dié dokument te kry. Daarna het ek vir my ʼn roomys by Milky Lane gekoop en in my kar geklim om huis toe te gaan.”

Twee mans het haar egter by die valhek van die winkelsentrum oorval.

“Ek moes my hand gebruik sodat die valhek open; my venster was dus oop en my karretjie is oud – die boewe het doodeenvoudig net hulle hande deur die venster gedruk en my deur oopgeruk.

“Daarna het hulle my begin slaan, van oor tot oor, en aanhoudend,” vertel Ward.

“Hulle wou my uit die kar kry om dit te steel. Hulle het my sleutel in my kar se vonkskakelaar afgebreek en my uit die kar probeer dwing, maar ek het geweier om my motor te verlaat en hulle kon my nie uitruk nie want my veiligheidsgordel was aan.”

Skermgreep uit video

Die twee aanvallers het ʼn hangertjie van Ward se nek afgeruk, haar handsak – wat onder die passasiersitplek versteek was – gegryp en met haar besittings die hasepad gekies.

“Alles was in my handsak: my ID, rybewys, my selfoon, my huissleutels … My hele lewe was in my handsak plus die dokument wat ek vroeër by die bank gaan afhaal het. Hierdie dokument bevat al my persoonlike inligting. Die laaste ding wat ek wou hê, is dat hierdie skelms by my huis waar ek saam met my ma woon, moet opdaag.

“Toe sien ek net hoe hardloop hulle daarmee. Die adrenalien het deur my are gepomp, ek kon dit net nie toelaat nie. Ek was so bang gewees. Ek het net begin bid, ek is oortuig die Here het daarna Sy voet op myne gesit en net petrol getrap. Dit was God wat beheer geneem het, ek weet dit.”

Ward vertel dat sy nie eens gesien het dat die valhek voor haar nog nie oopgemaak het nie.

“Ek het deur die valhek gejaag. Ek het nie eens besef dat ek so vinnig gaan nie, ek het eers later op die video gesien dat ek deur die lug getrek het toe ek hom tref. Ek het hom so hard getref dat my handsak uit sy hande gevlieg het. Ek het dit eers oomblikke later besef.

“Dit was absoluut mal. Die een oomblik was ek besig om beroof en geslaan te word en die volgende oomblik is ek reg oor hom!

“Ek wou net my goed terughê,” hou Ward vol.

Volgens Ward het ʼn petroljoggie dadelik gehardloop om haar handsak aan haar terug te besorg.

“Hier is jou besittings, jy het ʼn boef vasgetrek, welgedaan!” het Ward gehoor toe haar voertuig tot stilstand kom.

“Ek het dadelik gestop toe ek die man met my handsak tref. Ek het skielik bygekom toe die petroljoggie langs my staan en my handsak vir my teruggee.

“Ek was in ongelooflike skok, elke oomblik was angswekkend.”

Polisiebeamptes het die 28-jarige verdagte op die toneel in hegtenis geneem.

Dit was egter nie die einde van Ward se nagmerrie nie. Sy vertel dat sy oomblikke later deur iemand in ʼn Toyota Fortuner agternagesit is. Sy vermoed dit is lede van dieselfde rowerbende wat haar geteiken het.

“Daar was baie mans in die Fortuner, hulle was van die Checkers-winkelsentrum af tot by die Caltex-vulstasie op my spoor. Dit is baie ver!”

Sy vertel dat hulle in die Checkers-parkeerterrein uit die voertuig uitgespring het en op haar voertuig begin slaan het.

“Hulle het my omring en gedwing om uit die kar te klim. Hulle was baie, hulle sou my ongelooflik seer gemaak het.”

Dit is toe dat sy haar kar in trurat sit en weer hard op die petrol trap om weg te kan kom.

“Daarna het ek reguit na die Caltex-vulstasie toe gery – die petroljoggies dáár ken my, ek het geweet hulle sal my kan help.

“Dit is die aakligste gevoel om te ry en na hulp te soek. Baie mense kyk net en doen niks nie. Om vrou alleen te wees in hierdie soort voorvalle verander jou lewe.”

Sy vertel dat ʼn man, Alex Bester, oomblikke later tot haar redding gekom het.

“Ek ken hom glad nie, maar hy is my nuwe beste maatjie, hy het my gehelp.

“Hy het tussen my en die Fortuner gekom en dit is toe dat die Fortuner moed opgee en wegry. Daarna het hy my huis toe begelei.”

Ward sê sy wil vir alle vroue wat ooit in ʼn soortgelyke situasie beland, aanmoedig om net voet neer te sit en die petrolpedaal te trap.

“Om vroualleen in so ʼn situasie te wees waar baie net rondom jou staan en kyk terwyl jy nie eens weet wat om te doen nie, is onaanvaarbaar. Sit jou voet op die petrol en baklei terug.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Plaaskind ·

Sjoe Sandy-Lee, ek is baie verlig dat jy ongedeurd is na so ‘n voorval. Ek is bly jy het nie oor gegee nie, want dan was jy heer waarskynlik dood of in die hospitaal. Moet së ek het so bietjie gegiggel toe jou Tazz so hop oor die sypaadjie, dankbaar dat jou voertuig nog kon ry om jou na veiligheid te neem. Wees paraat en wees veilig.

Hippi ·

Mooi gedaan Sandy-Lee.
Die hartseer gedeelte is dat die wet die krimineel beskerm en jy mag aangekla word met een van die twee, of aanranding met die doel om te beseer of poging te moord.
Die ou wie jou sak gegryp het se regte is groter as joune.
Sterkte met die naloop van die petalje.
Ek is seker die regsgeleerdes sal meer lig hierop kan werp?

Nettie ·

Ek hoop die feit dat ‘n groep haar agtervolg en na die tyd omsingel en gedreig het, tel in haar guns met haar verdediging. Dat sy NOG STEEDS in gevaar was, toe sy haar handsak wou terugkry en die persoon raakgery het. Dat dit deel van haar selfverdediging en verdediging van haar eiendom was.

Delia ·

So sy vertel van haar vrese en alles. Maar MM plaas n foto en haar naam. Of redeneer ek nou verkeerd om

Peetjie ·

Dit is wat meer en meer gaan gebeur. Ons vrouens is sterker as wat ons besef. Die kreminele moet op een of Ander manier gestop word…

Piet Snot ·

Vrouens kan sterk wees, ja. My ma sou dieselfde gedoen het, en sy’s 80!

Jaco ·

Oppas maar om sulke goed te doen as jy wit is. Môre oormôre is daar ‘n klag van poging tot moord teen dié wit vrou.

Mariaan ·

Ek ry nooit met my handsak in die kar nie. Altyd in die kattebak. Net my foon by my. Ek sal voet in die hoek sit ….dis jy of ek… en ek klim nooit in my voertuig sonder dat ek God se beskerming oor my pleit nie.

Papsak ·

Pragtig Sandy.Lee wel gedaan daar moet meer van jou wees bly jy is ongedeerd pragtig tyd dat ons doen wat jy gedoen het trots op die vrou

marius ·

Misdadigers oorheers die hool. Die polisie beter hierdie vrou uitlos.

melaney ·

Sandy-Lee jy is baie mense se “super hero”. Indien jy in die hof moet getuig, sorg dat jy ten alle tye deur vriende omring is. Baie bly jy is ongedeerd.

piet ·

Hoe was die polisie so vinnig daar, was hulle net toevallig by die vulstasie?

Gertdup ·

Wonderlik! Ons moet ophou net aanvaar en begin terug baklei! Baie bly jys ongedeerd.

JohanR ·

Nie eers bemoei met die pad nie. Sommer bo en oor die eiland. Lekker Sandy-Lee. Dink mense is nou baie moeg vir vat van goed wat jy hard gewerk het voor.

Nettie ·

Ek het eers net die video gesien, en gelees hoe almal haar prys, en was nie heeltemal seker of ek haar dade goedgekeur het of nie. Maar noudat sy verduidelik het, dit was nie net ‘n grypdief nie, maar 2 wat haar aangerand het, EN nog ander wat haar agtervolg en omsingel het later, dink ek sy het haar eie lewe gered en dalk selfs ook haar ma s’n. Welgedaan.

Ek hoop sy gaan vir traumabehandeling en is uiters versigtig en oplettend die volgende 3-4 maande. Sterkte. En dankie aan die petroljoggie en mnr Bester wat haar gehelp het.

Elizabeth ·

Wel gedaan. Hierdie kriminele moet ñ les geleer word. Dis die bangbroeke wat hulle so ‘dapper’ maak. Hou op om vir hulle bang te wees. Kry vir jou ñ ‘shock stok’ of te wel ñ ‘tazer’. Hou pepersproei in jou motor. Nie jou handsak.

Harley Davidson ·

Die dame is ‘n heldin en as almal terugbaklei sal dit beter gaan.

Susanna ·

Vat vyf Sandy-Lee! Ek’t kliphard gelag en my tone het gekrul van lekkerte! Jy’s my hero!

Jakes ·

N vrou so na my hart. Pragtig uitgevoer dame, mag die skurk se vriende ook gevang word. Dis hoogtyd dat slagoffers van misdaad terug slaan.

Danie ·

En weereens staan die polisie en doen niks.Die vrou is n brawe mens.Dis tyd dat ons almal begin optree en nie bang moet wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.