Teffo nie meer advokaat – hof

Adv. Malesela Teffo. (Foto: Twitter / Malesela Teffo)

Malesela Teffo is nie meer ’n advokaat nie.

Die Pretoriase hooggeregshof het ’n kort ruk gelede beslis dat Teffo van die rol geskrap word.

Kabelo Letebele, woordvoerder van die regspraktykraad, het dié nuus Vrydagmiddag aan Maroela Media bevestig. Die aansoek om Teffo van die rol te skrap is vroeër deur dié raad ingedien.

Die regspraktykraad het in die aansoek aan die hof gevra om Teffo óf te skors óf van die rol te skrap nadat daar 22 bewerings van wangedrag teen Teffo by die raad geopper is. Dié bewerings sluit onder meer in minagtende gedrag in die hof, die misleiding van die hof en die wanbesteding van geld.

Teffo sal nou al sy sertifikate van kwalifikasie aan die griffier van die hof moet oorhandig.

Teffo het tot onlangs nog vier van die vyf beskuldigdes in die opspraakwekkende moord op die voormalige Bafana Bafana-kaptein Senzo Meyiwa in die Pretoriase hooggeregshof verdedig. Hy het hom egter in Julie aan dié saak onttrek.

Dit het gevolg nadat Teffo in April, nog in sy toga geklee, in die hof in boeie geslaan is. ’n Lasbrief is in daardie stadium vir Teffo se inhegtenisneming uitgereik nadat hy na bewering versuim het om in die hof te verskyn in verband met ’n saak waarin hy ’n beskuldigde is.

Teffo is in Julie 2020 in hegtenis geneem en van aanranding en betreding aangekla nadat hy na bewering probeer het om ’n polisiestasie binne te gaan om ’n kliënt in ’n arbeidsgeskil by te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Abraham ·

Met Mpofu gaan dit maklik wees. Iemand moet net die ketting trek.

marius ·

En waar is die gillery oor die polisie se optrede na hy hom afgevee het aan hul waarskuwings nou skielik heen ?

Shakespeare ·

Mpofu and his ANC/EFF gang of criminals. Mpofu is “untouchable” met die bogenoemde gespuis wat hom ondersteun. Grillerige skepsel.

annie ·

Volgens inligting is Teffo glo ‘n veelsydige man met ‘n doktorsgraad, is ‘n rekenmeester en ‘n ingenieur met ‘n MBA agter sy naam, dit is nou buiten sy regstudies. Waar hy gestudeer het, is onduidelik. Teffo is glo ouer as sestig. Inligting oor sy familie is nie beskikbaar nie. ‘n Mens weet nooit, dalk voltooi hy nog ‘n paar universiteitskursusse veral noudat die tyd dit weer toelaat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.