Teleurstelling oor stadige vordering in Kosmos-moordsaak

Die groep ondersteuners het plakkate met ʼn foto van die ma en dogter vóór en tydens Prinsloo se verskyning omhoog gehou. (Foto: Verskaf)

Die Brits-landdroshof was Maandag stampvol met vriende en familielede van die vermoorde Magdaleen Prinsloo (58) en haar dogter, Ruzanne Weideman (31), waar Paul Prinsloo (61), die man wat van hul dubbelmoord beskuldig word, vir die vierde keer verskyn het.

Die groep ondersteuners het plakkate met ʼn foto van die ma en dogter vóór en tydens Prinsloo se verskyning omhoog gehou. Die plakkate het gelui dat borgtog geweier moet word en dat geregtigheid moet geskied.

Prinsloo het egter net vlugtig verskyn en die saak is tot April, glo weens logistieke probleme by die hof, uitgestel.

Magdaleen en Ruzanne is op 27 November omstreeks 14:30 by hul huis op Kosmos in Noordwes doodgeskiet. Daar was glo ʼn rusie tussen Paul en Magdaleen, waarna hy na bewering sy jaggeweer gaan haal en die ma en dogter doodgeskiet het. Nooddienspersoneel het die twee op die toneel dood verklaar. Prinsloo is kort ná die voorval by die huis in hegtenis geneem en is sedertdien agter tralies.

(Foto: Verskaf)

Hy het in Desember al sy aansoek om borgtog laat vaar en het intussen vir adv. Zirk Pansegrouw en nog ʼn regsteverteenwoordiger, Tom Pritchard, aangewys om hom te verteenwoordig.

Maroela Media het vroeër berig Prinsloo het tydens sy hofverskyning in Februarie aangevoer dat hy – met die hulp van sy nuwe regsverteenwoordigers – nou wél om borgtog sal aansoek doen. Sy regspan het ook aan die hof gesê Prinsloo is ʼn kankerpasiënt en is boonop deur ʼn spinnekop gebyt. Die landdros is daarna gevra of Prinsloo tot sy volgende hofverskyning in die hospitaal kan aansterk sodat hy behandeling kan ontvang. Die landdros het ingestem waarna die saak tot vandeesweek vir die borgtogaansoek uitgestel is.

Carlien Kleyn (57), Magdaleen se jonger suster, het aan Maroela Media gesê sy is uiters teleurgesteld dat die saak wéér uitgestel is.

“Die hofsaak is glo uitgestel oor logistieke redes, onder meer sanitasie- en waterprobleme by die hof. Wat ʼn teleurstelling,” het sy na afloop van die verrigtinge gesê.

“Ons sou graag wou hoor watter verskonings hy gaan gebruik om borgtog te kry. Ons wil net hê alles moet verby wees en dat borgtog geweier moet word. Die man wat ons [na bewering] van twee kosbare mense ontneem het, moet vir die res van sy lewe agter tralies bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Casper ·

Hy kan mos behandeling ontvang vir sy skielike skete en daarom kwalifiseer hy nie vir botg nie.Clive Derby-Lewis was terminal siek en Lamola het sy parool telkemale geweier.Los hom agter tralies dan sal ons sien hoe siek hy werklik is.Hy maak nou al voorsiening vir mediese parool want hy weet hy gaan tronk toe.

Swerwer ·

Sulke mense moet agter tralies bly, daar is nie plek vir sulkes wat geen selfrespek het nie, want dan kan daar nie respek teenoor ander bewys word nie.

Marous ·

Logostieke probleme ? Wat se verskonings gaan hierdie patetiese mense nog mee uitkom ? As dit nie krag is nie is die stenograaf siek . Skryf met die hand en kry ‘n porta pottie. Die saak moet klaar !

Danie ·

Nie geweet kanker en spinnekop byt is n moontlike verweer of versagting.Dink maar net hardop.

Henk ·

Dis hoekom sake so lank duur. Laat die gebou se
bestuur verduidelik hoekom daar nie ander planne gemaak is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.