Thabo Bester: Geen borgtog vir vier wat help met ontsnapping

Senohe Matsoara en Teboho Lipholo op 12 Mei 2023 in die Bloemfonteinse landdroshof. (Foto: Becker Semela / GroundUp)

Deur Daniel Steyn en Becker Semela vir GroundUp

Die Bloemfonteinse landdroshof het Maandag sy besluit aangekondig in die verhoor van vyf van die agt beskuldigdes in die Thabo Bester-sage.

Tronkbewaarders Senohe Matsoara, Motenyani Masukela en Tieho Makhotsa, en kringtelevisietegnikus Teboho Lipholo se aansoek om borgtog is van die hand gewys. Die voormalige tronkbewaarder Nastassja Jansen is vrygelaat op borgtog van R10 000.

Matsoara, Masukela, Makhotsa en Lipholo staan onder andere tereg op skedule 5-aanklagte van korrupsie en hulp met ʼn ontsnapping.

Jansen se aanklagte word as skedule 1 geklassifiseer.

Die landdros het verduidelik dat, met skedule 5-oortredings, die onus op die aansoeker berus om bewyse te lewer dat hulle op borgtog vrygelaat moet word. Vir skedule 1-oortredings berus die onus op die staat om te bewys dat die aansoeker nie vrygelaat moet word nie.

Landdros Mohlolo Khabisi het bevind dat Matsoara, Makhotsa, Masukela en Lipholo nie voldoende bewyse gelewer het dat hulle nie met staatsgetuies sal inmeng nie.

Die staat se saak teen Jansen is egter “poreus” en die staat het nie bo redelike twyfel bewys dat dit in die belang van geregtigheid sal wees indien borgtog nie toegestaan word nie, het Khabisi bygevoeg. Sy is vrygelaat op borgtog van R10 000 en moet elke Vrydag by ʼn plaaslike polisiestasie aanmeld. Sy mag nie kontak maak met staatsgetuies of die ondersoekbeamptes nie.

Thabo Bester in die hof (April 2023) (Foto: AFP)

Volgens die staat se getuienis tydens die borgtogverhoor het ondersoekbeampte Tieho Flyman gesê die beskuldigdes was almal betrokke om Bester te help ontsnap.

Matsoara was die toesighouer aan diens in die gedeelte van die gevangenis waar Bester aangehou is. Hy word daarvan beskuldig dat hy ʼn liggaam in die tronksel ingebring het, ʼn brand gestig het en Bester gehelp het om te ontsnap. Hy staan tereg op 13 aanklagte.

Lipholo word daarvan beskuldig dat hy, die aand van die brand, kragtoevoer na die kringtelevisiekameras afgeskakel het en dat hy die liggaam in ʼn waentjie gelaai en die waentjie in die gevangenis ingestoot het. Hy staan tereg op 10 aanklagte, insluitend bedrog en brandstigting.

Masukela, wat daarvan beskuldig word dat hy die motor gehuur het waarmee die liggaam na die gevangenis vervoer is, staan tereg op vyf aanklagte.

Makhotsa en Jansen was albei in die sentrale beheerkamer die aand van die brand en word daarvan beskuldig dat hulle die deure vir Bester oopgemaak het.

Zolile Sekeleni, pa van Nandipha Magudumana, is tans uit op borgtog. Hy word ook daarvan beskuldig dat hy die motor gehuur het waarmee die liggaam vervoer is.

Magudumana en Bester is steeds in aanhouding nadat hulle hul aansoeke om borgtog teruggetrek het.

Die saak teen die beskuldigdes sal op 20 Junie begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Amelia ·

Ek dink hier steek meer agter die saak as mens dink bv hoe kon bester bank rek oop maak terwyl hy in tronk is nie id het nie soos ek verstaan het hy 875miljoen in die rek

Frank ·

Dalk kan Maroela Media bietjie probeer uitvind hoe Bester R800M + in sy bank rekening gekry het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.