Thabo Bester-saak: Hof betwis Magudumana se ‘ontvoering’

Dr Nandipha Magudumana verlaat die hof saam met haar pa, Zolile Sekeleni (Foto: Becker Semela vir GroundUp)

Deur Daniel Steyn vir GroundUp

Nandipha Magudumana se borgtogaansoek het Maandag vir ʼn derde dag voortgegaan in die Bloemfonteinse landdroshof.

Magudumana staan onder andere tereg op aanklag van bedrog, korrupsie en die skending van liggame wat verband hou met die ontsnapping van die verkragter en moordenaar Thabo Bester uit die tronk in Mei 2022.

Sy is in April 2023 in Tanzanië saam met Bester in hegtenis geneem.

Sy het vroeër aan die hof gesê dat Bester haar teen haar wil na Tanzanië geneem het, maar die staat het betwis dat Magudumana ontvoer is.

Magudumana se prokureur, advokaat Machini Motlaung, het egter aangevoer dat die staat nie in staat was om bewyse te lewer wat suksesvol haar weergawe van die gebeure weerspreek nie.

Motlaung het Maandag in die hof gesê dat sy kliënt se reg tot vryheid benadeel sou word as sy nie op borgtog vrygelaat sou word nie. Hy het gesê daar is geen aanduiding wanneer die strafregtelike verhoor sou voortgaan nie. Totdat sy skuldig bevind word aan die misdade, moet sy as onskuldig beskou word, het hy gesê.

Staatsaanklaer Sello Mathloko het egter gesê omdat Magudumana deur skedule 5-aanklagte in die gesig gestaar word, die onus op haar rus om te wys dat die belang van die geregtigheid dit toelaat dat sy op borgtog vrygelaat moet word. Mathloko het aangevoer dat Magudumana nie bewyse verskaf het om die hof te verseker dat sy vrygelaat moet word nie.

Hy het ook die sterkte van Magudumana se bewering, dat sy deur Bester ontvoer is, bevraagteken. “Hulle onthul nie waar hulle ontmoet het, hoe hulle ontmoet het, of hoe hy haar ontvoer het nie. Was dit met ‘n vuurwapen, was dit met ʼn mes? Hoe is sy ontvoer?… Sy neem nie die hof in haar vertroue met hierdie inligting nie,” het Mathloko gesê.

Mathloko het daarop gewys dat Magudumana boonop nie ‘n ontvoeringsaak teen Bester aanhangig gemaak het nie.

Magudumana het ouerlike verantwoordelikheid as ‘n rede vir borgtog aangevoer, maar, het Mathloko gesê, “hierdie is die kinders wat sy agtergelaat het toe sy ‘ontvoer’ is en besluit het om nie ‘n strafregtelike saak teen die persoon aanhangig te maak nie”.

Mathloko het gesê Magudumana se hooggeregshofaansoek van Mei 2022, waarin sy beweer het dat sy Bester se gewoonteregvrou was, bewys dat sy geen respek vir die regstelsel gehad het nie. (Haar stigtingsverklaring in daardie aansoek het verskeie onwaarhede bevat, insluitend dat Bester se ma oorlede is en dat sy oom David Magugula was. Bester se werklike oom het aan die polisie bevestig dat David Magugula nie bestaan nie.)

Die aansoek om borgtog is uitgestel tot Maandag, 11 September.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Riana ·

Trane van …………….”ek is uitgevang” nou word alles verdraai, die besef dat sy alles waarvoor sy gewerk het, is daarmee heen. Word nou maar ‘n gevangene dr.

AH ·

Ek glo niks wat sy en haar regsspan kwyt raak nie! As hulle hul monde oopmaak kom daar snert uit of hulle weergawe van die “waarheid” om almal om die bos te probeer lei! Hoe dom dink hulle is die Staat en almal van ons?

JohanR ·

Agh asseblief die een is nou soos die OB. Sluit haar op, en gooi weg die sleutel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.