Thabo Bester-saak: Verbrande liggaam uitgeken

Katlego Bereng Mpholo (Foto: Twitter)

Die verbrande liggaam wat tydens Thabo Bester se bisarre ontsnapping in Bester se tronksel aangetref is, is uiteindelik uitgeken.

Kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, het Sondagoggend aan Maroela Media bevestig dat die liggaam geïdentifiseer is nadat DNS-uitslae direk met dié van die oorledene se ma ooreengestem het. “Die familie is deur die ondersoekbeampte in kennis gestel.”

Katlego Bereng Mpholo se pa het intussen na vore gekom en sy seun geïdentifiseer.

“Die liggaam wat deur Thabo Bester in die tronk onherkenbaar verbrand is, was dié van my seun. Ons eie regering faal ons. Ek is stukkend,” lui ’n twiet deur Batho Mpholo.

Katlego is as vermis aangemeld by die polisie voor Bester sowat ʼn jaar gelede tydens ʼn gewaagde ontsnapping uit die Mangaung-maksimumveiligheidsgevangenis in Bloemfontein verdwyn het. ʼn Verbrande liggaam is in Mei verlede jaar in sel 35 aangetref, wat die owerhede aanvanklik laat glo het dat hy homself aan die brand gesteek het.

DNS-monsters het egter later gewys die oorskot in die sel is nie dié van Bester nie.

Die veroordeelde moordenaar en verkragter Thabo Bester tydens sy hofverskyning (14 April 2023) (Foto: AFP)

“So swaar soos dit ook al is om hierdie nuus te hoor, is die polisie bly dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) afsluiting aan die familie kon bring,” sê Mathe.

Bester en sy medebeskuldigdes, onder wie Bester se vriendin, dr. Nandipha Magudumana, verskyn weer volgende maand in die hof.

Die beskuldigdes staan tereg op verskeie aanklagte, onder meer moord, dwarsboming van die gereg, medepligtigheid en brandstigting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Danie ·

Ja nee die hele spul en selfs die polisie is skuldig hier. Die hele lot wat betrokke by dit is hoort van kant gemaak te word

Rooikoos ·

Die berig is dubbel geplaas.
Nietemin, wat ‘n duiwelse plan van almal betrokke in die saak!

Lillian ·

Hier kom nog arrestasies want wie het hom vermoor? Die nadoodse ondersoek het bewys hys met ‘n stomp voorwerp oor die kop geslaan. Daai sogenaamde dokter blyk nou net so gek te wees as haar minnaar

SjN ·

Daar is nog baie ander mense betrokke, wat n klap in die gesig vir ons onbevoegde kader regeerders.

anko ·

Daar is groter probleme in die land wat aandag moet geniet. Hierdie is ‘n belaglike siek spul om so baie aandag te geniet. Kyk wie is almal skuldig……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.