Thabo Bester-sage: Drie tronkbewaarders gepos

Thabo Bester tydens sy verhoor meer as tien jaar gelede. (Foto: Verskaf)

Die private veiligheidsmaatskappy G4S voer aan hy het die polisie bewus gemaak van beweerde ongerymdhede rakende die brand by die maksimumveiligheidsgevangenis in Bloemfontein wat glo tot Thabo Bester se ontsnapping gelei het.

Die departement van korrektiewe dienste het vroeër bevestig dat Bester, die sogenaamde Facebook-verkragter en -moordenaar, in Mei verlede jaar uit die tronk ontsnap het, en nooit doodgebrand het soos voorheen deur die departement aangevoer is nie.

Die departement het verlede jaar gesê dat Bester, wat tot lewenslange tronkstraf plus 75 jaar gevonnis is, in sy tronksel doodgebrand het nadat die liggaam van ʼn erg verkoolde man daarin aangetref is. Die oorsaak was aanvanklik as selfmoord bestempel. Foto’s van ʼn man wat baie soos Bester lyk het egter onlangs opgeduik terwyl daar ook verskeie teenstrydighede in die nadoodse ondersoekverslag aan die lig gekom het.

Volgens G4S, wat die maksimumveiligheidsgevangenis in Bloemfontein bestuur, het hy die departement en die polisie in kennis gestel van die brand by die gevangenis en die dood van ’n gevangene op 3 Mei verlede jaar.

“Op 5 Mei, na ’n aanvanklike ondersoek, het G4S die polisie in kennis gestel van ’n aantal bekommernisse rakende die omstandighede van die brand. Die SAPD is van relevante inligting en bewyse voorsien,” het G4S in ʼn verklaring gesê.

Drie tronkbewaarders is kort na die voorval geskors en onderskeidelik in September, Desember en Januarie ontslaan.

Talle vrae oor ontsnapping

Foto van ‘n persoon wie mense glo Thabo Bester, die sogenaamde Facebook-verkragter, is. (Foto: GroudUp/Verskaf)

Mediaberigte dat die adjunkminister van korrektiewe dienste bewus was dat Bester ontsnap het, en daarna geen stappe gedoen het nie, is uiters kommerwekkend, sê Janho Engelbrecht, DA-LP en die party se woordvoerder oor korrektiewe dienste.

“Die DA sal aan die voorsitter van die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste skryf om ’n dringende vergadering met die bestuur van G4S, die minister en adjunkminister van justisie en korrektiewe dienste, en die nasionale kommissaris van die departement van korrektiewe dienste aan te vra.”

Dit is noodsaaklik dat die Suid-Afrikaanse publiek die waarheid en volledige besonderhede gegee word van hoe ’n ontsnapping van hierdie aard plaasgevind het, hoe gevangenisbeamptes en moontlik politieke leiers betrokke was, en watter optrede daarna deur korrektiewe dienste en die SAPD geneem is, het Engelbrecht gesê.

“Dit word al hoe duideliker dat Bester bystand van hooggeplaaste amptenare gehad het om ’n ingewikkelde ontsnapping van hierdie aard te koördineer. Die identiteit van die gevangene wat dood is, moet ook dringend vasgestel word.”

Action Society sê Ronald Lamola, minister van korrektiewe dienste, en Bheki Cele, minister van polisie, moet saam met die betrokke onbevoegde kommissarisse verantwoordelik gehou word vir die Bester-aangeleentheid. “As ’n vaardigheidsoudit nie onder senior bestuurders van die betrokke departemente gedoen word nie, en die G4S-groep nie aanspreeklik gehou word nie, sal veel erger in die toekoms gebeur,” het Kaylynn Palm, woordvoerder van Action Society, gesê.

“Indien die DNS-agterstand verlede jaar uitgesorteer en opgevang was, sou die DNS-resultate na die brand vroeër bekom gewees het. Nou, tien maande later, het die resultate na vore gekom, wat weereens Cele se verraad aan burgers toon.

“Onbevoegde en korrupte senior amptenare het ’n omgewing geskep waar georganiseerde misdaad kan floreer. Gevolglik leef ons in ’n mafia-staat wat deur ’n gangster-regering bestuur word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.