Theuns Jordaan Vrydag gegroet

Theuns Jordaan (Foto: Facebook)

Theuns Jordaan, die geliefde Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, se gedenkdiens vind Vrydag in die Moreletapark-gemeente in Pretoria plaas.

Jordaan is verlede Woensdag in die ouderdom van 50 oorlede ná ʼn stryd teen leukemie.

Daar sal tydens ʼn intieme seremonie hulde gebring word aan die sanger, wat bekendheid verwerf het vir treffersnitte soos “Sal jy bly”, “Soos bloed” en “Net voor die storm kom”.

Die rasperstemsanger was ewe bekend vir sy verwerkings van “Beautiful in Beaufort-Wes”, Koos du Plessis se liedjies en sy duet saam met Juanita du Plessis, “Bring jou hart”.

Jordaan se pa, Willie Jordaan, en verskeie van Jordaan se musiekvriende sal die gedenkdiens bywoon. Sy ma, Marina, woon egter in ʼn versorgingsoord op Bethulie in die Vrystaat en kan nie reis om die diens by te woon nie. Jordaan se enigste suster, Linda, sal hulle ma in Bethulie bystaan.

Sy naaste musiekvriende soos Bok van Blerk, Ricus Nel en Dozi sal huldeblyke en sangitems lewer. Kisdraers sluit onder andere Kurt Darren, Steve Hofmeyr en Bobby van Jaarsveld in. Ds. Pieter Badenhorst sal die diens waarneem.

Kunstenaars soos David Kramer, Anton Goosen en Valiant Swart sal nie die gedenkdiens bywoon nie, maar videoboodskappe van dié kunstenaars, wat na aan Jordaan was gedurende sy sangloopbaan, sal vertoon word.

Streng Covid-19-maatreëls sal gevolg word en weens die huidige beperkings op begrafnisse word slegs 100 gaste toegelaat.

Ondersteuners van Jordaan sal wel deel kan wees van die verrigtinge deur regstreeks op Afrikaans is Groot se YouTube-kanaal en Jordaan se Facebook-blad in te skakel.

Dit sal gratis wees om op die kanale te stroom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Astrain ·

Soos bloed is jy binne die Afrikaanse musiek Theuns Jordaan…jy sal baie gemis word maar darem het ons jou musiek. RIV

Genis ·

Ons Salueer jou Theuns, jy sal altyd gemis word..Jou plek op die verhoog, sal nie gevul kan word… Jy is n legende, sag rus ou maat….

Belinda ·

Theuns en Juanita was sprankelend saam. Theuns ons gaan jou musiek mis. Mag jy nou sonder pyn en leiding die poorte van die Hemel instap. Rus in Vrede.

Adrie ·

Theuns was volksbesit – hy het in ons huise oor die radio gekuier, by elke braai en sosiale byeenkoms. Ons gaan hom so innig mis. Dankie vir die pragtige musiek wat jy vir ons agterlaat Theuns. Mag jou siel in vrede rus; sonder pyn, by die Voete van die Here.

Maritha ·

Ai hoe vreeslik jonk. Daar is so baie mense na aan hom wat graag sou wou gaan om laaste eer te betoon. Verstaan nie hoekom net 100 mense mag gaan nie. Dit is ń reuse kerk. Duisende kinders mag matriek rave bywoon.

Antoinette ·

Beste langpad musiek ou Theuns. So long Theuns. Mag jou stem en lirieke steeds weerklink in die hemel. Mooi loop

JN ·

Ag nee…
Die nuus slaat my nou so hard.. Kan dit nie glo…
Ek sal jou een in 6+ Biljoen stem en mooie diep betekenisvolle Afrikaanse woorde nooit vergeet nie…
Jou woorde het altyd so met die hart gepraat..
Ek sit nou juis so en dink aan Sonvanger en Soos bloed wat my altyd sal by bly..
Rus sag ou grootte…
Gaan jou en wat nog kon gekom het baie mis..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.