Tien keer meer psigiatriese pasiënte by Helen Joseph-hospitaal

Die ingang van die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Pasiënte wat psigiatriese behandeling benodig stroom na die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg en ʼn tydelike struktuur moes by die hospitaal opgerig word om voorsiening vir almal te probeer maak.

Dr. Nomathemba Mokgethi, LUR vir gesondheid in Gauteng, het in antwoord op ʼn vraag in die provinsiale wetgewer gesê die hospitaal se ongevalle-eenheid het in Januarie 876 pasiënte vir psigiatriese toestande behandel, in vergelyking met die 80 pasiënte wat in Januarie verlede jaar by die eenheid behandel is.

Dit is tien keer meer as vantevore.

Meer as die helfte van die getal pasiënte wat verlede jaar die hospitaal se buitepasiëntafdeling besoek het, is reeds in Januarie vanjaar al behandel.

“Sale twee en drie het ook in Januarie gesamentlik 1 395 pasiënte vir psigiatriese toestande opgeneem en behandel. Dit terwyl net 620 pasiënte verlede jaar hiervoor opgeneem en behandel is,” sê Mokgethi.

Dit is meer as dubbeld die vorige syfer.

Die toename in opnames van hierdie aard word toegeskryf aan swak sosio-ekonomiese omstandighede wat deur die Covid-19-pandemie vererger word, die grootskaalse gebruik van onwettige dwelmmiddels en die onwilligheid van sommige gesinne om familielede met psigiatriese toestande te versorg nadat hulle uit ʼn hospitaal ontslaan word.

“Die tydelike sluiting van gedeeltes van die naburige Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese- hospitaal (CMJAH) ná ʼn brand verlede jaar het ook bygedra tot die toename in pasiënte,” sê Mokgethi.

Maroela Media het vroeër berig dat die Helen Joseph-hospitaal op breekpunt is weens ʼn toename in pasiënte en dat psigiatriese pasiënte selfs in enige kamer of beskikbare hoek ingebondel word.

Dit kom nadat die CMJAH se ongevalleafdeling en psigiatriese eenheid se deure verlede jaar gesluit is.

Die heropening van hierdie hospitaal is ook verder vertraag nadat koperpype, meer as 500 m se elektriese kabel en nuwe elektriese verdeelborde onlangs by die hospitaal gesteel is.

Verskeie maatreëls word egter nou by die Helen Joseph-hospitaal ingestel om voorsiening te maak vir die groeiende getal pasiënte.

“Die bedkapasiteit gaan verhoog word, terwyl ʼn tydelike struktuur herbenut sal word om meer pasiënte te huisves,” sê sy.

“Die hospitaal is ook besig om met ander psigiatriese sale in ander fasiliteite te skakel sodat pasiënte daarheen oorgeplaas kan word.”

Mokgethi het verlede week die nuwe psigiatriese eenheid by die Bheki Mlangeni-distrikshospitaal in Soweto gaan besoek.

“Ons doen alles moontlik om te verseker dat al die psigiatriese eenhede in die provinsie aan standaarde en regulasies voldoen,” sê sy.

“Die welstand van psigiatriese pasiënte is ons topprioriteit, daarom sal kringtelevisie ook in psigiatriese eenhede geïnstalleer word om die veiligheid van ons pasiënte te verseker.”

Volgens Mokgethi is sy daartoe verbind om te verseker alle gesondheidsinstellings in die provinsie voldoen aan die gestelde standaarde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anel ·

En iewers staan ‘n hospitaal heeltemal leeg. Ek dink iewers in Kemton Park as ek dit nie mis het nie!!!!

Kokerboom ·

Die kaders is netto verbruikers en nie netto skeppers. Aanvaar realiteite en hou op kla en leef saam!!

Miskruier ·

N nasie wat besig is om in zombies te verander. Die grootste oorsaak….liefdeloosheid.

Danny ·

“Die toename in opnames van hierdie aard word toegeskryf aan swak sosio-ekonomiese omstandighede wat deur die Covid-19-pandemie vererger word,”

Ek wonder of hulle dit oor deurdink het vooraf?? Swak bestuur!

Swerwer ·

Gendae, het die ANC Kader nog nie gedink om ondersoek in te stel hoekom soveel van sy ondersteuners Psigiatriese hulp nodig het nie. Die “Covid” hospitale/veld hospitale is mos dan nou die aangewese plekke om in werking te stel vir die Psigistriese pasiënte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.