Tiener verdrink, vriend vermis by Strand

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: David Di Veroli/Unsplash)

Reddingswerkers het teen Sondagmiddag steeds na ’n 17-jarige seun by Strand, Wes-Kaap, gesoek wat ’n dag tevore in die see verdwyn het.

Volgens Alan Meiklejohn, verbonde aan die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), is lede van die NSRI in Gordonsbaai Saterdag omstreeks 19:06 na Strand ontplooi.

Dit volg ná gerugte van ooggetuies oor twee tienerseuns wat in die see in die moeilikheid beland het. Die seuns kom albei van Delft, Wes-Kaap, en was glo vriende wat saam in die see gaan swem het, voordat albei in sleurstrome vasgevang is.

Die GB Med Sec-ambulansdienste, die Stad Kaapstad se waterreddingsnetwerk en brand-en-reddingseenheid, die polisie, die provinsiale nooddienste, die Strand-gemeenskapswag en mariene beamptes is ook ontplooi.

“’n Reddingstuig is in die water gestuur en NSRI-reddingswemmers het ook in die water na die twee tieners begin soek. Nooddienste op die kuslyn het ’n kuslynsoektog van stapel gestuur,” sê Meiklejohn.

’n Groep gemeenskapslede, 300 m van die strand af, het op een van die vermiste tieners in vlak branders afgekom.

“NSRI-reddingswemmers en GB Med Sec-paramedici het gehelp om die tiener op die strand te kry, waar paramedici kunsmatige asemhaling (kardiopulmonêre resussitasie) op hom begin toepas het. Ondanks die reddingspogings het paramedici die 16-jarige seun dood verklaar.”

Die polisie se duikeenheid is later geaktiveer om te help met die soektog na die tweede tiener.

“Altesaam 11 NSRI-reddingswemmers het ’n lynsoektog in die brandersoom gevorm om verder langs die strand af te soek en dan terug te kom na waar die voorval oorspronklik aangemeld is.”

Ondanks ’n uitgebreide soektog word die 17-jarige seun steeds vermis.

“Die liggaam van die 16-jarige is in die sorg van die polisie se forensiese patologiedienste geneem. ’n Geregtelike doodsondersoek is deur die polisie geopen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lillian ·

Ai, mense weet mos jy kan nie enige plek net gaan swem nie. Die see is nie jou speelmaat nie.

Zoey ·

Ons is geleer dat jy op jou rug moet draai en “float” tot iemand jou kry. Maar ek dink nie mens dink daaraan as daai stroom jou vat nie. Ek swem nie in die see nie, want in die eerste plek is ek nie so ‘n goeie swemmer nie en in die tweede plek is daar goed met tande. Ek hoop hulle vind die ander seun gou. Sterkte aan die ouers en die familie wat hulle kind moes afstaan. Dis baie hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.