Tieners buite Loftus aangeval, beroof

Steven Reader (16). (Foto: Verskaf)

Twee tieners is onlangs buite die hekke van die Loftus Versveld-stadion in Pretoria beroof, toe hulle wou gaan kyk of hul voertuig nog veilig buite geparkeer staan. Die voorval het omstreeks 19:30 op 4 Maart plaasgevind, kort na afloop van die wedstryd tussen die Blou Bulle en die Leeus.

Steven Reader (16), ʼn leerder aan Hoërskool Waterkloof, is glo deur ses mans vasgedruk terwyl een van hulle ʼn mes teen sy keel gehou en hom gedreig het. Nog twee mans het sy vriend, Donovan de Klerk (16), vasgehou. Albei se selfone is in die voorval gesteel.

Monica Reader, Steven se ma, het Dinsdag aan Maroela Media gesê dat albei seuns steeds getraumatiseerd is en tans berading ontvang. Donovan is glo veral ontsenu aangesien hy gesien het hoe die mes teen sy vriend se keel gedruk word.

“Hy het aan sy ma gesê hy het gedink hulle gaan vir Steven doodmaak,” het Reader gesê.

Reader, wat self ook by die wedstryd was, verduidelik dat die seuns ʼn hele paar vriende by die stadion gekry het om na die wedstryd te kyk.

“Almal was ná die wedstryd nog besig om oor en weer te gesels en die seuns het gou uitgestap om te gaan kyk of my kar nog veilig is, waar ons dit ʼn entjie van die stadion af parkeer het.

“Net buite die hekke het ʼn man Steven om die lyf gevat en so half gemaak asof hy met hom dans. Steven het vir hom gesê om hom uit te los. Hy het toe agtergekom dat die man sy selfoon uit sy sak gesteel het.”

Volgens Reader het haar seun haar van Donovan se foon af gebel om van die voorval in te lig. Hy het gesê die man staan nog daar rond en dat hulle vir hom gaan sê om sy foon terug te gee. Hulle het egter nie besef hy is saam met nog ander boosdoeners nie.

Donovan de Klerk (16).

“Skielik was daar agt mans waarvan ʼn klomp van daai oranje ‘vessies’ [soos karwagte dikwels dra] aangehad het. Ses van dié mans het Steven vasgedruk en een het ʼn mes teen sy keel gehou. Hulle het geëis dat Donovan ook sy selfoon vir hulle gee. Donovan is deur twee van die ander mans vasgehou.”

Reader het die polisie na afloop van die voorval ontbied.

“Die polisie was toe nou baie behulpsaam en het die seuns saam met hulle in hul voertuig laat ry om te kyk of hulle die rowers sien. Hulle het egter nie verklarings afgeneem of ʼn saak oopgemaak nie.”

Reader het toe self na haar naaste polisiestasie in Tiegerpoort gegaan en ʼn saak aanhangig gemaak. Na ʼn lang gesloer is die saak uiteindelik na die Sunnyside-polisiestasie oorgeplaas waar dit tans geregistreer is.

Hugo Kemp, operasionele bestuurder by Loftus Versveld, sê hulle is bewus van die voorval.

Hoewel dit nie op Loftus Versveld se perseel plaasgevind het nie, sê Kemp is die veiligheid van hul kliënte te alle tye vir hulle belangrik.

Hy moedig besoekers aan die stadion aan om eerder te betaal en een van die duisend parkeerplekke binne die stadion te gebruik, waar aangestelde sekerheidspersoneel aanwesig is.

“Intussen werk ons ook aan ʼn plan om ʼn sogenaamde groen area buite die stadion te identifiseer waar besoekers kan parkeer en wat ons dan tot die beste van ons vermoë sal beveilig,” het Kemp gesê.

Die fyner besonderhede van dié plan word tans nog bespreek en sal bekend gemaak word sodra dit afgehandel is.

Hugo sê in die verlede het die metropolisie en polisie die gebied om die stadion beveilig en gepatrolleer, maar dat hulle nie altyd meer op hierdie dienste kan staatmaak nie.

Dus sal die stadion volgens hom sover as moontlik self poog om maatreëls in te stel om veiligheid op ʼn doenbare en praktiese wyse buite die perseel te bevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Riaan ·

Die self aangestelde motor oppassers is een helse gemors elke keer as daar ‘n wedstryd plaasvind. Dit alleen veroorsaak dat baie mense eerder veilig tuisbly.

LANA is ELANè ·

Hoekom het twee 16jariges met ñ voertuig Loftus toe gegaan? Ek hoop werklik nie dat hulle self die voertuig bestuur het nie. Maar ja, Loftus is ñ gunsteling uithangplek vir rampokkers en die SAPD voel ñ vy rondom sigbare polisieëring vd area, en is partykeer selfs daar net om ñ rand of 10 te maak en glad nie ter wille v wet en orde nie.

Cabous like braai ·

Die Ma het versoek dat die kinders gaan kyk of haar motor nog veilig is

Johann ·

Lees en presteer. Hulle het na die ma se kar gaan kyk. Maar ja, dis ‘n no go area. Net nog ‘n bewys van die vlak van misdaad wat ons dag en nag moet trotseer. Iets soos rugby gaan kyk is oorgelewer aan wat die skelm wetters vir die dag beplan.

Waarom ·

Hierdie self aangestelde motor oppassers is ‘n groot probleem. As jy op die sypaadjie parkeer soek hulle R80 plus. As weier om te betaal of minder gee is jou motor gekrap as jy terugkom. Kyk deesdae maar op televisie.

Harley Davidson ·

Kom ek stel dit dan so wat is die verskil tussen die voorval en die maselspoort insident ……die media.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.