Tientalle skape teruggekry ná skietery

Gesteelde skape in Mount Flecher. (Foto: SAPD)

Die polisie van Mount Fletcher in die Oos-Kaap het gespring toe ʼn bekommerde boer hulle vroeg Vrydagoggend inlig dat hy gesien het hoe verdagtes sy skape steel.

“Die polisie het onmiddellik gereageer. Met hul aankoms by die boer se huis, het hy hulle gewys waar diewe ʼn kort ruk gelede toegang tot sy erf gekry en die hek van die skaapkraal met ʼn tang oopgedwing het. Die diewe het 60 van sy skape gesteel,” het Khaya Tonjeni, polisiewoordvoerder van die Oos-Kaap, in ʼn verklaring gesê.

Die polisie het die leidrade opgevolg en die verdagtes en skape agternagesit. “Hulle het op ses verdagtes afgekom waar hulle besig was om die skape te perd in die rigting van die berge te dryf.

“ʼn Skietery het tussen die polisie en rowers uitgebreek en die verdagtes het die berge in gevlug,” het Tonjeni gesê. Niemand is tydens die skietery beseer nie.

“Al 60 skape is teruggekry en aan die eienaar terugbesorg. Niemand is tot dusver vir die misdaad aangekeer nie.”

Luidens misdaadstatistieke wat Vrydag bekendgemaak is, het veediefstal sedert die 2018-’19-boekjaar met 4,2% afgeneem. Meer as 28 000 gevalle van veediefstal is egter steeds verlede jaar aangemeld. Gevalle van veediefstal in die Oos-Kaap het boonop in dieselfde jaar met 64 gevalle (1%) toegeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kokerboom ·

‘n Nuttelose skietery gaan niks help. More is hul weer terug

Yvonne ·

Afgeweer vir n rukkie…hulle gaan terug kom ….wees versigtig en veilig

christo ·

Die samewerking tussen die boer en SAPD het bewys dat veediewe wel verdryf kan word. Die boer het sy skape teruggekry en veediewe het nie besef dat die polisie kán vinnig reageer. Goeie begin.

Scalla ·

Hul raak arrogant, veg vuur met vuur, dinge gaan begin erger raak.

Pompies55 ·

As diewe die berge ingevlug het en hulle kwansuis nie gevind kan word nie,wou polisie nie rerig moeite doen nie!Daar is maar net n slapgat houding in polisiemag en dis n feit

Pierreli ·

As hy een sou raak skiet sou hy in die tronk gewees het.

Niklaas ·

Duidelik moet die SAP lede ‘n skietbaan meer gereeld gaan besoek vir lesse. Klink nie asof daar enige wafferse skuts onder hulle was nie. Diewe kom gou agter dat hul niks sal oorkom met vleis opgaar pogings in die nabye toekoms nie. Hul sal gougou weer soos skimme in die nag verskyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.