TikTokker hét geteister; moet video’s verwyder

‘n Skermskoot van een van Njabulo Madlanga se TikTok-video’s.

Die Booysens-landdroshof het vroeër vandag bevind dat die TikTok-gebruiker Njabulo Madlanga haar skuldig gemaak het aan teistering toe sy ongestaafde bewerings van rassisme teen drie jong mans op sosiale media gemaak het.

Die skadelike video’s waarin sy dié bewerings teen Reece Lopes (20), Milan Kruijer (20) en Jude Fraser-Grant (21) gemaak het, is wyd op sosiale media versprei. Madlanga is nou deur die hof beveel om die video’s van alle sosialemediaplatforms te verwyder en is verbied om die applikante verder te teister.

Die video’s is intussen verwyder.

Vrydag se beslissing hou in dat die tussentydse beskermingsbevel wat op 23 Oktober verlede jaar uitgereik is, ʼn finale bevel van die hof gemaak is. Die Nasionale Vervolgingsgesag moet nog besluit of Madlanga vervolg gaan word.

Lopes, Kruijer en Fraser-Grant word deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig.

Die saak spruit uit ʼn voorval in Julie verlede jaar by die Gold Reef City-pretpark in Johannesburg waarna Madlanga die drie vriende op TikTok daarvan beskuldig het dat hulle “aapgeluide” teenoor haar en haar sibbe gemaak het.

Lopes, Kruijer en Fraser-Grant, wat ná Madlanga se video’s geteister en gedreig is, het ʼn strafregtelike saak teen haar by die polisie ingedien.

Luidens die beëdigde verklarings wat die drie vriende by die polisie ingedien het, het Madlanga en haar sibbe voor hulle ingedruk terwyl hulle gewag het om op een van die tuimeltreine te klim.

Dit was glo in hierdie stadium wat Madlanga beweer het dat die drie vriende geluide gemaak het wat ape naboots. Sy het op TikTok ʼn video gedeel waarin sy aanvoer dat indien jy ʼn swart mens is en die pretpark besoek, mense aapgeluide vir jou sal maak.

In ʼn ander TikTok-plasing, en op versoek van haar volgelinge om die vermeende rassiste te identifiseer, het Madlanga ʼn video geplaas van die drie wat in die ry staan.

Van haar plasings is meer as twee miljoen keer gekyk

Kruijer het op 9 Julie ʼn boodskap aan Madlanga gestuur waarin hy haar bewerings van rassisme ontken het. Hy het ook ontken dat hy of sy vriende enige geluide gemaak het of dat hulle rassisties is.

Dit is in hierdie boodskap wat hy haar ook gemaan het dat indien sy nie die plasings verwyder nie, hulle ʼn strafregtelike klag teen haar sal indien. In plaas daarvan om die plasings te verwyder, het Madlanga ʼn skermgreep van Kruijer se boodskap geplaas en aangevoer dat sy geïntimideer word.

Dit het gelei tot verdere aanvalle teen die drie vriende.

Landdros George Mapanga het in sy beslissing gesê dat die bewerings teen die applikante op teistering neerkom en inderdaad skadelik was.

“Die respondent het nie ontken dat sy die video’s op sosiale media geplaas het en dat dit kommentaar ontlok het wat neerkom op die aanhitsing van geweld nie. Die respondent is gevra om die video’s te verwyder, maar sy het dit nie gedoen nie,” het Mapanga gesê.

“Die applikante se identiteit is bekendgemaak op sosiale media waar daar beweer is dat hulle rassiste is. Die optrede van die respondent voldoen aan die definisie van teistering. Dit was verkeerd en gevaarlik om sulke bewerings sonder enige bewyse te maak.”

Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid, sê hulle sal voortgaan om Lopes, Kruijer en Fraser-Grant in die strafregtelike saak teen Madlanga by te staan.

“Die eenheid staan by sy vorige stelling dat valse bewerings van rassisme net so ernstig hanteer moet word as bona fide- bewerings van sulke tipe diskriminasie.

“Ons is bly dat die hof bevind het dat die bewerings van rassisme teen die jong mense neerkom op teistering en dat dit skade berokken het. Ons is vol vertroue dat ’n kriminele hof tot dieselfde gevolgtrekking sal kom.”

Bateman sê die privaatvervolgingseenheid is juis gestig om gelykheid voor die reg te verseker.

“Valse bewerings van rassisme moet dieselfde hanteer word as werklike bewerings van rassisme, want die sosiale en ekonomiese gevolge vir diegene wat valslik beskuldig word, is dieselfde as diegene wat werklik skuldig is daaraan.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nicky ·

Sy het seker fans gesoek, pateties en hoeveel Everything for free aanhangers het sy gekry

otter ·

kan ons asb sien dat daar teen haar opgetree gaan word en dat sy asb n kriminele rekord kan kry

Althes ·

Sy moet die maksimum straf kry, sy het ander se menseregte aangetas deur hul vals te beskuldig van rassisme.
En om aapgeluide na te maak, …. is rassisties? Kom by!

kommentaar ·

Dame asb, dis dalk oor wat op jou voorkop aangaan dat jy nie lekker kan dink nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.