TLU SA sê ‘sakereddingswet’ ongrondwetlik

Foto ter illustrasie. (Foto: dearsouthafrica.co.za)

Volgens TLU SA is dit onbillik en ongrondwetlik dat ʼn maatskappy wat in finansiële knyp verkeer die hof kan nader vir sakeredding, terwyl dit nie vir trusts en individue beskore is nie.

Dit beteken dat ʼn maatskappy ʼn “skietstilstand” met sy krediteure kan sluit, terwyl boere, wat ook ondernemings besit en sakemanne is, nie toegang tot hierdie regsmeganisme het nie.

TLU SA sê hy kan en gaan ook nie langer net toekyk hoe individue onder finansiële druk aan die kortste ent trek nie. Om dié rede het TLU SA aansoek gedoen om toe te tree tot ʼn hofsaak in die hof te Kimberley as vriend van die hof, in ʼn geval waar die Landbank op ʼn boer se grond beslag wil lê.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het vir Maroela Media gesê in dié bepaalde geval het die boer verskeie plase, waarvan sommige in maatskappye en ander in trusts geregistreer is. Ná ʼn uitmergelende droogte, wat nou verby is, wil die Landbank op sy “trust-plase” beslag lê, terwyl dié bank niks aan sy “maatskappy-plase” kan doen nie.

“Dié wet is uiters diskriminerend. Die situasie moet reggestel word en die regering moet deur die hof verplig word om toe te sien dat wetgewing in dié verband reggestel word. Dít is hoekom TLU SA die aansoek indien.

“Hoewel ons nie betrokke is om te bepaal of die bepaalde geval legitiem is nie, praat ons hier van ʼn beginselsaak en ʼn diskriminerende praktyk teenoor boere wat nie in maatskappye geregistreer is nie.”

Dit beteken dat TLU SA die geleentheid gegun word om die hof mee te deel aangaande belange van boere in die algemeen en nie namens een van die partye van die saak nie.

Mauritz Lombard, TLU SA se bestuurder van beleidsake, het vir Maroela Media gesê die voorlopige datum vir die hofsaak is 11 Oktober.

“Indien die hof die aansoek goedkeur en ons in ons vertoë slaag, sal die aangeleentheid in die Konstitusionele Hof dien en daar versoek word dat die bevel gegee word soos vermeld. Boere se belange sal sodoende bevorder word,” sê Lombard.

Van Zyl sê hoewel dit moeilik is om die klimaat of wêreldomstandighede te versag om die lewe vir boere makliker te maak, kan sy organisasie in dié geval, waar boere wéér aan die kortste ent trek, wel ʼn rol speel om verandering te bewerkstellig.

“Daar waar dit vir TLU SA moontlik is om ons land se boere te help en by te staan, sal ons alles in ons vermoë doen,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Althes ·

Ek stem dat die wet onbillik en diskriminerend is. Baklei vir ons boere, TLU. Hulle het genoeg uitdagings soos dit is.

Trotse Boervrou ·

Dat boere vandag nog steeds kans sien om te boer wys net van watter stoffasie ‘n boer is. Die aanslae het nog nooit opgehou nie maar steeds beur hul voort. Ek wens ons kan ‘n monument oprig vir ons hedendaagse boere. Hul verdien dit uit en uit. Julle is almal ysters en ons waardeer julle opreg. Ons bid vir julle en almal in die land wat deur dieselfde gemors geteister word. Die goeie sal, op die end, die slegte oorwin.

Braam ·

Die Landbank is maar een van die organisasies wat daarop toespits is om landbou te dwarsboom. Dit is n wereldwye tendens om die boer te inkrimineer Die boer word deesdae beskuldig van alles vanaf aards vehitting tot die gebruik van teveel grond ten koste van huislose immigrante. Ons moet wakker wees en nie die ersnstige saak met oogklappe benader nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.