Toe reën dit toks op Vanrhynsdorp

Mense het hul harte oopgemaak vir die rugbyseuns van die Hoërskool Vanrhynsdorp. (Foto: John Reyneke)

“My uitdaging en hulpkreet: Vra asseblief julle rugbyseuns vir hulle ou, stukkende toks. Die seuns sal dit met gom en insulation tape regmaak vir elke game. Hier is niks nie meer bruikbaar nie. Enigiets kan weer gebruik word…

“Maar die laaities love rugby; seuns wat net leef vir rugby. Orals sien jy hulle: van vyf jaar oud tot 19 jaar oud touchies speel – met tennisballe, ander pap balle en selfs met ʼn stuk skoen. Enige ding, solank hulle hom kan pass en vang.”

Só het die boodskap gelui – ʼn pleidooi wat John Reyneke, die nuutaangestelde hoof van Hoërskool Vanrhynsdorp, aan ʼn paar goeie vriende, oudkollegas en medesportafrigters gestuur het.

En toe reën dit toks op Vanrhynsdorp aan die Weskus.

Reyneke sê hy het die boodskappe oor die groot nood ná ʼn aand se rugbyoefening gestuur toe sommige spelers van die o. 15-span wat hy afrig met plakkies in die skrum kom aanmeld het. Hy weet nou nog nie wie sy oorspronklike boodskap gedeel, óf hoe dit op sosiale media beland het nie, maar van oral het rugbytoerusting vir die skool begin instroom.

Eers nege pare rugbystewels uit die Vrystaat. Toe nóg toks. Splinternuut, voorheen gebruik, van elke grootte. Hierna kom toe die truie. Balle. Sokkies. Nóg rugbystewels.

“Dit het ontplof – maar ten goede. Daar het soveel ongelooflike mooi uit die boodskappe gekom,” sê Reyneke die afgelope week.

‘n Paar van die jong manne spog met hulle rugbystewels. (Foto: John Reyneke)

Van rugby-unies het hy oproepe ontvang, van sakelui, die oud-Springbok Kobus Wiese, van welwillendheidsgroepe, kerke, ander skole, gewone Suid-Afrikaners. Almal het gehelp.

“Dit is ongelooflik. Jy kan die omgee van die mense en die stuur van toerusting en ondersteuning omtrent nie beskryf nie. Dit was scary hoe baie mense betrokke geraak het.

“As iemand weer vir my sê daar is nie ʼn Vader nie … Hier is soveel goeie mense en ek het in die laaste week en ʼn half weer besef in watter verstommende land ons bly en watter voorreg dit is. Die omgee en die opregte uitreik van mense het soveel hoop geskep,” sê hy.

“Oor die hele Suid-Afrika heen het mense betrokke geraak. Ek het meer hoop as wat ek in my lewe vir hierdie land gehad het.”

Weldoeners het ook alles van rugbyballe tot duiksakke en kouse geskenk. (Foto: John Reyneke)

By Hoërskool Vanrhynsdorp is die rugbymanne nou behoorlik toegerus en Reyneke sê hulle gaan alle ekstra skenkings met Hoërskool Nuwerus op die buurdorp, sowel as met gemeenskapklubs deel waar presies dieselfde behoefte aan toerusting ondervind word.

Saam met die rugbyvoorraad het skenkings vir die netbaldogters ook begin aankom, hoewel nog nie soveel as vir rugby nie. Onder die meisies is daar egter net so ʼn groot behoefte, sê Reyneke. Hulle benodig gebruikte netbalballe, beffies, tekkies, kegels. Elke bietjie help.

Die rugby- en netballiga begin ná die vakansie, maar om al die spanne tot op ʼn ander wedstryddorp te kry, is ook ʼn ander storie, sê Reyneke.

Die skool se 1982 Mercedes-bus gaan geen landspoedrekords breek nie, maar kom darem aan die ander kant uit. Die probleem is daar is net plek vir 61 passasiers, en as daai blou bus vol is, moet iemand dikwels tuis bly en ʼn wedstryd mis.

Die skool hoop om ook nog ‘n voertuig te bekom sodat daar plek is vir alle leerders om by hul bedrywighede uit te kom. (Foto: Verskaf)

“Ons kan nét soveel kinders vervoer en soms moet wedstryde gekanselleer word omdat almal nie vervoer het nie. Die taxi’s is net te duur vir die meeste mense.

“Dit is nie reg dat kinders nie aan ʼn sportsoort kan gaan deelneem omdat daar nie vervoer of ʼn gebrek aan geld vir vervoer is nie.

“Ek weet, iewers gaan ons ʼn plan maak om ʼn ekstra voertuig te kry. Dit is my droom; sodat die kinders deelneem waar en soos kinders moet. Dit gaan oor die kinders – om vir hulle dieselfde geleentheid as vir ander kinders te gee.”

Uit die boks! Splinternuwe rugbystewels vir die geesdriftige jong manne. (Foto: John Reyneke)

Hoërskool Vanrhynsdorp, met sy kortkop minder as 600 leerders van gr. R tot gr. 12 (en ʼn koshuis), se akademie staan ook geen duit terug nie. Die skool se slaagsyfer is die afgelope vyf jaar gemiddeld 93% en hulle is jaarliks onder die topskole in die Weskus-distrik.

Minder as 15% van die skool se leerders kan die volle skoolgeld bydra, maar Reyneke is ʼn man met baie planne. Hy sal in April eers amptelik as nuwe skoolhoof die leisels oorneem, maar het intussen sommer reeds vir diens in die klaskamer aangemeld.

Volgende op sy doen-lysie is waaiers of lugversorging vir die klaskamers op ʼn dorp waar die kwik lag-lag tot bokant 40 ˚C styg; gordyne vir die saal se verhoog; sambrele en gazebo’s vir buitebyeenkomste, ʼn nuwe oppervlak vir die netbalbane en dalk ʼn lagie verf of twee vir die skool.

  • Om betrokke te raak by die Hoërskool Vanrhynsdorp se projek, kontak vir John Reyneke by [email protected] of bel hom by 084 559 3159.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.