Toekoms van fynbos in Tuinroete wek kommer

Fynbos by Tuinroete (Foto: Christine Ridge- Schnaufer/Outramps)

Bewaringsgesindes en omgewingsbestuursinstellings in die Tuinroete in die Wes-Kaap is uiters bekommerd oor die uitwerking van klimaatsverandering en die vinnige uitbreiding van landboupraktyke op fynbos-spesies.

Cobus Meiring, voorsitter van GREF, ʼn platform vir grondeienaars en omgewingsbestuurders aan die Tuinroete, sê fynbos-spesies is reeds kritiek bedreig en tans op die rooi lys van ekosisteme op land.

“Die spesies word kritiek bedreig en gegewe die plante se beperkte vooruitsigte in isolasie en alle huidige bedreigings sal die spesies waarskynlik nie oorleef nie.

“Die Knysna-veldbrandramp in 2017 was ʼn wekroep vir bewaringsbewustes en grondeienaars met vrese dat ganse kritiek bedreigde ekosisteme moontlik deur die inferno uitgewis kon word.”

Boonop hou snelgroeiende uitheemse indringerplante ook ʼn gevaar in.

“Ná die brand kom beduidende saadbasisse vinnig op en gebiede wat voorheen deur fynbos bedek was, word heeltemal hierdeur oorgeneem.”

Meiring sê daar is egter steeds hoop, mits alle rolspelers saamwerk, vir die voortbestaan ​​van die fynbos-spesies in die Tuinroete.

“Met die samewerking tussen die staat en private grondeienaars, toegewyde natuurbewaarders en plantkundiges, instellings soos Custodians of Rare and Endangered Wildflowers (CREW), asook die Outramps-span op George wat gereeld die teenwoordigheid van fynbos-ekosisteme in die Tuinroete opspoor en dokumenteer, kan ons die voortbestaan van dié spesies help verseker.”

Die natuurwonders van die Tuinroete, sy natuurskoon en biodiversiteit is presies wat die streek in globale terme so besonders maak, sê Meiring.

“Dit is noodsaaklik dat almal wat in die streek woon hul bes doen om meer ruimte te skep vir natuurlike bates en alle lewe wat dit onderhou sodat dit kan oorleef en floreer.

“Grondeienaars word aangemoedig om kennis te neem van alle fynbos-spesies wat op hul grond voorkom en dit te beskerm.”

Hy sê grondeienaars moet waar moontlik ook alle indringerplante verwyder.

“Grondeienaars word aangemoedig om proaktiewe maatreëls te tref om ʼn herhaling van die 2017- en 2018-veldbrandramp te voorkom.

“Die versuim om dit te doen kan net die ondergang van een van die wêreld se kosbaarste natuurlike bates versnel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.