Toekoms van SA mynwese in parlement getakel

Argieffoto

Die toekoms van die Suid-Afrikaanse mynwese is die afgelope twee dae in besonderhede getakel tydens voorleggings voor die parlementêre portefeuljekomitee oor minerale en energie.

Rolspelers van oor die spektrum het dit aan politici duidelik gemaak wat in die mynbedryf aan die gebeur is, en wat hulle meen gedoen kan word om dit reg te ruk.

Nadat vakbonde van elke ideologiese oortuiging Dinsdag hul voorleggings gemaak het, was dit Woensdag die beurt van die werkgewers. Veral die Suid-Afrikaanse Mynbou-ontwikkelingsvereniging (Samda) en die Mynbouraad het hul stemme dik gemaak.

Bridgette Radebe het namens Samda gesê die situasie betreffende swart eienaarskap in die mynbou gaan nou agteruit – en dit is nie wit mense se skuld nie. Dit is die skuld van die regering en die parlement, want beleid word uitgevaardig, maar nie toegepas of afgedwing nie, met byvoorbeeld weinig gevolge vir diegene wat die wet oortree.

Radebe, ʼn bloubloed-ANC-ondersteuner, het spesifiek ANC-LP’s redelik aggressief gevra om hul werk te doen wat oorsig oor die kabinet en ander owerheidsliggame betref. “Ek is dikwels lus om uit my politieke party te bedank en by die EFF of die DA aan te sluit net sodat ek julle vir ʼn ruk kan wys hoe dit gedoen moet word,” het sy gesê.

In hierdie verband het sy veral verwys na buitelandse maatskappye wat geld die land uit neem sonder om behoorlik belasting te betaal.

Vir die Mynbouraad lyk die syfers nie te goed nie, hoewel Suid-Afrika beter begin vaar in beleidsaspekte en die gemak waarmee sake-ooreenkomste aangegaan word sedert Gwede Mantashe minister van mynwese geword het.

Nogtans vind net 1% van mynbou-ontwikkeling wêreldwyd tans in Suid-Afrika plaas en het vaste beleggings met 72% gedaal sedert 2011. Dit word onder meer daardeur vergestalt dat inkomste nie verhoog het nie ondanks die swakker rand, en dat weinig nuwe ontginning plaasvind.

Mynbougesondheid betreffende gehoorverlies, silikose en tuberkulose het verbeter, maar word deur die nasionale gesondheidsversekering bedreig, en mynsterftes aan diens neem af.

Wat die verbetering van mynbougemeenskappe se lot betref, word vordering ook gemaak, maar daar is stremmende faktore. Dit sluit in verskille tussen maatskaplike en mynboubeplanning, munisipale industriële ontwikkelingsplanne wat nie tred hou met mynbouverwikkelinge nie, maatskaplike spanning weens mededinging vir skaars werkgeleenthede, meganisering wat tot selfs minder werkgeleenthede lei en gebrekkige vermoë in munisipaliteite.

Swak polisiëring lei ook tot groter uitgawes aan sekuriteitskoste, het die Mynbouraad gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pieter ·

Wat se toekoms eskom het nie eers genoeg krag nie die anc regering is n joke

Maljan ·

Maak die myne maar toe. Skeer almal wat daar werk oor dieselfde kam. Laat hulle nes die oor 55 jarige blanke mans gaan soebat vir werk teen n fraksie van wat hulle voorheen verdien het. Die hebsug van die mens verwoes die land maar alle minerale en energie word mos as die meerderheid se eiendom gesien. Raak elke dag duidelik dat wat sedert ’94 gesaai was, is die meerderheid besig om nou te maai.

Maljan ·

Maak maar die myne toe. Deel aan almal dieselfde uit as wat die 55+se blanke mans te berde geval het. Laat hulle neseiers ook uitgeput wees en hulle ook oral moet gaan smeek vir n werkie teen n fraksie van hulle voormalige salarisse net om kos op die tafel te sit. Die hebsug en geldgierigheid van die meerderheidsgroep is besig om die land vinnig in die afgrond in te bloei.

Jan ·

Eers wanneer daar nie meer vakbonde is nie , sal dit goed gaan in die mynbedryf.

Gert ·

DIs algemeen bekend dat die probleem veroorsaak word deur BEE vereistes, nou lyk dit my hulle voel die probleem is dat BEE nie streng genoeg toegepas word nie.
Red nou so ‘n land.

Kalla ·

Die inkomste van die myne is juis hoër as hulle uitvoer saam met n swak rand. Die produk word in dollers verkoop, so die inkomste is meer. Wonder wat sou die mynbase sê as ons ń sterk rand gehad het.

Pieter ·

As jy nou aansoek doen vir die mynlisensie moet jy 10% aandeel aan die plaaslike laerskool gee, 10% aan die sekondere skool, 10% aan die gemeenskap en 33,33% aan jou BEE. verder moet jy vir elke 5 ha van jou prospekteringspermit een werker van die gemeenskap in diens neem teen R10000/m. Die kersie op die koek is dat indien jy ‘n waterpermit benodig, moet jy die dorp se rioolaanleg op standaard en vereiste kapasiteit bring en bedryf.
Nou sit jy met 40% en al die verantwoordelikheid en met die vereiste om ‘n wins te maak om jou 60% passasiers in gemak en weelde te dra. Geen belegger is so onnosel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.