Toekomsberaad: ‘Ons gaan bly, maar ons gaan nie stilbly nie’

Solidariteit het Maandag sy volgende Toekomsberaad aangekondig. Foto: Reint Dykema.

Die Solidariteit Beweging bied op 10 Oktober sy tweede Toekomsberaad in Pretoria aan, waar kerndoelwitte en omvattende planne vir ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms bespreek sal word.

Ná ʼn baie suksesvolle eerste Toekomsberaad, wat in 2015 gehou is en sowat R3,5 miljard belê het in die bevordering van die Afrikaner-kultuurgemeenskap en Afrikaanse taalgemeenskap, het die Solidariteit Beweging nuwe doelwitte daargestel om teen 2030 te bereik.

Die vorige Toekomsberaad se planne het tot 2020 gestrek, met die volgende beraad wat nou vroeër as beplan gehou gaan word. “Ons het daarin geslaag om ons planne uit te presteer, maar die situasie in die land het ook verander. Die uitdagings het groter geword en daarom moet ons nou vinniger bymekaarkom, nuwe planne én groter planne maak,” het dr. Dirk Hermann, die bestuurshoof van Solidariteit, Maandag op ʼn mediakonferensie in Centurion gesê. Die Beweging het ook sy vyfjaar-toekomsplanne na tien jaar verleng.

“Die kern van die saak is, ons mense is onseker en hulle wonder of daar nog ʼn toekoms [in Suid-Afrika] is. Die toekoms gebeur net as jy dit self bou. Ons wil mense uitnooi om in groot getalle te kom saamdink oor hoe ons ʼn toekoms gaan bou. Ons gaan bly, maar ons gaan nie stilbly nie,” het hy bygevoeg.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het verduidelik dat die burgerregte-organisasie sy tema van selfdoen gaan bevorder. “[Dít] is ʼn beraad van hoop. Ons neem die toekoms in ons eie hande en ons raak nie neerslagtig oor dit wat die regering doen nie. Baie van die goed kan mense nie verander nie, maar ons fokus op dit wat ons self kan verander.”

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, sê dié organisasie sal ook van die geleentheid gebruik maak om taal- en kultuurhelde te eer. “Ons wil graag erkenning gee aan ons helde in ons gemeenskappe wat ongelooflik baie doen vir Afrikaans en vir ons kultuur en geskiedenis, daar waar hulle bly.”

Doelwitte al bereik

Tydens die nuuskonferensie het die verskillende instansies van die Beweging, waaronder AfriForum, Solidariteit Helpende Hand en die FAK, hulle onderskeidelike prestasies onder die Toekomsberaad se vorige raamwerk, wat 18 doelwitte omvat het, gedeel.

“Ons staan baie sterker as ooit tevore. By die vorige beraad was [privaat universiteit] Akademia in sy beginfase en nou het hy al meer as 1 000 studente. Ons gaan nou planne bekendmaak om ʼn splinternuwe kampus vir Akademia te bou met studiegeriewe vir 6 000 studente, asook ʼn koshuis met 2 000 beddens,” het Hermann gesê.

Verder gaan Solidariteit ook die nuwe R300 miljoen-planne vir sy tegniese opleidingskollege Sol-Tech bekendmaak.

Sedert 2015 het Solidariteit se Helpende Hand-beweging ook van een skenkingswinkel na 51 winkels gegroei, terwyl AfriForum se veiligheidstrukture oor die land tot 160 strukture gegroei het.

Die Toekomsberaad word by die Choose Life Kerk in Pretoria aangebied. Daar is beperkte plek en voorafbesprekings is noodsaaklik. Belangstellendes kan www.beweging.co.za/toekomsberaad/ besoek om te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

33 Kommentare

jongste oudste gewildste
Eddie

Kan die beraad nie ook via die internet geskied nie ?? Kan daar nie nou al besprekingspunte vir bespreking en kommentaar geplaas word nie , dit kan dan net tydens die beraad verder uitgetrap word ?

Kobus

Pragtig, die sake empire begin nou stewig groei.

Neels

Alles is goed en wel, maar Afrikaners se toekoms moet ook op politieke vlak uitgeklaar word. Die VF+ is nie die antwoord nie met alle respek. Hulle kort charisma en kan Afrikaners na 25 jaar nog steeds nie verenig nie, waarskynlik weens te veel politieke bagasie. Solidariteit is nie ‘n politieke party nie, die bestuur is betaalde amptenare van ‘n private onderneming wat beslis nie demokraties verkies is nie. Solidariteit kan wel iets doen vir besigheid en kultuur, maar het nie die vermoë om met politieke oplossings vorendag te kom nie, want die leierskap is nie demokraties verkies om namens… Lees meer »

Kerneels

Jis, daai is mooi “Ons gaan bly, maar nie stilbly nie!”

Charles

Nou hoe dan nou anders Mnr. Hermann.