Toelatingseksamen vir regslui steeds in Afrikaans

(Foto: Woordeboek van die Afrikaanse Taal/Facebook)

Die Solidariteit Regsgilde sê die Regspraktisynsraad (RPR) het na ʼn lang stryd bevestig dat toelatingseksamens vir regslui in Engels én Afrikaans beskikbaar sal wees.

Solidariteit en die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA) het die raad hooggeregshof toe gesleep nadat hy in Maart verlede jaar aangekondig het dat weggedoen gaan word met Afrikaans as amptelike taal van eksaminering.

Henru Krüger, sektorhoof by Solidariteit se Regsgilde, sê die hofaansoek het daarop gewys dat die afskaffing van Afrikaans geen regsbasis het nie.

“Uiteindelik het die RPR gekapituleer en op 13 Januarie weer ʼn kennisgewing uitgereik ingevolge waarvan die kennisgewing van 4 Maart verlede jaar teruggetrek is,” het hy gesê.

Die organisasie sê sedert die terugtrekking van die kennisgewing wat Engels as enigste taal van eksaminering toelaat, het die raad verwarring en onsekerheid geskep deur nie bekend te maak dat die status van Afrikaans as taal van eksaminering herstel is nie.

Krüger sê die Regsgilde het die raad nou weer op terme geplaas om Afrikaans as taal van eksaminering te bevestig.

“Die stryd is egter nog nie verby nie. In Augustus vanjaar het die RPR ʼn konseptaalbeleid bekend gemaak wat Engels se dominante posisie in die howe bevestig, Afrikaans onderdruk en van enige ruimte beroof, en wat boonop enige kans wat ander tale het om as regstaal opgebou te word, in die wiele ry.”

“Die Regsgilde het kommentaar teen die beleid ingedien en het ook ʼn formele klag by die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad ingedien,” het Krüger gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.