Toename van Covid-19 in sekere provinsies pla

(Argieffoto: Unsplash)

Daar is steeds geen duidelike aanduiding oor wanneer die derde golf van Covid-19-gevalle Suid-Afrika kan tref nie.

Die departement van gesondheid het Woensdag in ’n voorlegging in die parlement aangedui dat hoewel daar die afgelope week landswyd ʼn afname in die aantal hospitaalopnames en nuwe positiewe gevalle van Covid-19 was, hy bekommerd is oor die toename in sekere provinsies.

Nietemin sê die departement die moontlikheid bestaan dat die gevreesde derde golf kleiner as die tweede virusgolf kan wees, mits daar nie weer ’n nuwe variant van die koronavirus kop uitsteek nie en Suid-Afrikaners die afsonderingsregulasies streng nakom.

Luidens die voorlegging het die aantal nuwe Covid-19-gevalle landswyd met 16,9% afgeneem, vergeleke met die vorige Maandag se syfers. Die Vrystaat, Gauteng, Limpopo, Noordwes en die Noord-Kaap het egter ’n toename in nuwe bevestigde gevalle, vergeleke met die vorige week beleef.

Die koers waarteen pasiënte positief toets, het ook teen Maandag met 3% landswyd afgeneem, vergeleke met die vorige sewe dae. Limpopo en Mpumalanga het wel ’n toename ervaar in die koers waarteen mense positief toets.

Wat hospitalisasies betref, het Suid-Afrika teen Maandag ’n landswye afname van 12,7% vergeleke met die vorige Maandag beleef. Dít ten spyte daarvan dat ses provinsies, waaronder die Oos-Kaap, die Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga, die Noord-Kaap en Noordwes, vergeleke met die vorige sewe dae ’n toename in hospitalisasies beleef het.

Luidens die voorlegging is die opwaartse trajekte in hospitalisasies en nuwe gevalle wat in die Vrystaat, Mpumalanga, Noordwes en die Noord-Kaap waargeneem is, tog “kommerwekkend” en sal die departement ’n oog daaroor hou.

Maroela Media het vroeër vandag berig die sterftesyfer weens Covid-19-infeksies staan in hierdie stadium op 54 237.

Derde virusgolf?

Luidens die voorlegging is dit steeds onduidelik wanneer die derde golf van Covid-19-infeksies Suid-Afrika gaan tref.

Die moontlikheid van die volgende virusgolf bestaan wel soos afsonderingsregulasies verslap word en Suid-Afrikaners meer reis, al minder die gesondheidsmaatreëls nakom en meer superverspreidergeleenthede bywoon.

Daar word ook daarop gewys dat nuwe variante van die koronavirus kan kop uitsteek. Indien dit nie gebeur nie, word verwag dat die derde golf kleiner as die tweede golf kan wees.

Dit word in die voorlegging genoem dat die tydperk vanaf ’n toename in oordrag tot ’n virusgolf ’n gemiddeld van twee tot drie maande duur.

Luidens die verklaring moet daar wel gepoog word om die derde virusgolf so lank as moontlik uit te stel sodat al meer Suid-Afrikaners teen Covid-19 ingeënt kan word. Die regering se Sisonke-inentingsprogram met die Johnson & Johnson-entstof (J&J) sou vandag hervat en teen middel Mei afgehandel wees, aldus die voorlegging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Esme ·

Ek was tydens die tweede golf, oor die Kersgety, in die hospitaal. Covid 19 is ‘n nagmerrie sonder gelyke en ongelukkig is hospitale, hetsy Privaat of Provinsiaal, ‘n nagmerrie. Ek was vir 25 dae in ‘n Privaat Hospitaal wat nagelaat het, om my, my chroniese medikasie te gee. Ek was in stryd met Covid en Onttrekkingsimptome en dit was ‘n uiters traumatiese ervaring – beide vir my, my geliefdes, my familie, vriende en alhoewel ek die aangeleentheid opgevolg het, het die hospitaal aangedring op name van individue wat nie hulle werk gedoen het nie. En dit terwyl ek vir my lewe geveg het. Wees asseblief versigtig, was maar die hande en dra die gesigsm.skers

Karina ·

Jammer om te hoor dat jy Covid opgedoen het. Volgens my suster en haar man is dit baie erg. Hulle sukkel nog om hulle kragte te herwin na 4 maande. Beide is oor 70 Ja ons moet maar versigtig wees veral op hoë ouderdom. Hoop jy is oor die nagmerrie.

Jessica ·

Einde Junie 96 000 Covidgevalle en weer n lockdown seker , so in die hartjie van die winter….

Rentia ·

Die Burger basuin uit dit tref op 15 Mei. Hoe presies dié dag vasgestel is kan niemand egter sê nie.

Francois Le Cochon ·

Die middel van n 1 meter maatband is presies 50cm. Middel Mei is nie presies op die 15de. Die covid grafiek se kurwe dui aan dat daar middel Mei n opwaartse neiging gaan wees.

Neestemmer ·

‘n Bietjie navorsing sal wys dat 2e en 3e golwe van dieselfde virus nie moontlik is nie. As virus muteer raak hy minder skadelik en jy kan nie van ‘n minder skadelike weergawe siek word nie. Die vraag wat ons moet vra is hoekom hierdie nuwe golwe so presies afgekondig kan word vooraf? Ask waar hierdie nuwe weergawes vandaan kom? Verbasend om te sien hoe die 3e golf oorsee ook so afgekondig word, terwyl hulle die entstowwe wat kwansuis veronderstel is om dit te verhoed met spoed uitrol? Dit maak glad die sin nie…..

Dirk Mostert ·

Wat is die sin in entstowwe wat nie op nuwe mutasies werk nie, of nie op vir nuwe mutasies getoets is nie?

Karina ·

My Fellow South Africans, you are in lockdown, stay at home Is dit wat ons een van die dae gaan hoor? Nog besighede bankrot en mense sonder werk agv lockdown. Hy moet by “My People” begin lockdown doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.