Toenemende bewerings van mensehandel, ontvoerings is fopnuus

Argieffoto

Die polisie in Gauteng sê hy het met kommer kennis geneem van fopnuus rakende mensehandel en/of die ontvoering van vroue en kinders wat steeds die ronde doen. Die polisie doen nou opnuut ’n beroep op die publiek om nie dié soort onwaarhede te versprei en onnodige paniek te saai nie.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, sê hoewel die polisie sowat twee weke gelede vure moes doodslaan nadat bewerings van mensehandel die lig gesien het ná die video van die dogtertjie wat byna in Florida aan die Gautengse Wes-Rand gegryp is, is daar nou nóg ʼn video wat wyd op sosiale media versprei word.

ʼn Onbekende man beweer in dié video dat hy gesien het hoe ʼn vrou by die by die Boulders-winkelsentrum in Midrand ontvoer word.

Volgens Peters het die polisie wel Dinsdag omstreeks 11:15 op ʼn voorval by dié winkelsentrum gereageer nadat ʼn vrou van kontant beroof is.

Voorlopige ondersoeke dui daarop dat twee onbekende verdagtes in ʼn sportnutsvoertuig moontlik die vrou agtervolg het nadat sy glo ʼn groot hoeveelheid geld by ʼn bank onttrek het. Die verdagtes het die slagoffer na bewering in die ondergrondse parkering by die winkelsentrum oorval, ʼn vuurwapen op haar gerig en geld van haar geëis.

“Die verdagtes het die slagoffer se handsak en ander waardevolle items gesteel. Die vrou en ʼn sesjarige kind wat by haar was, is nie beseer nie en is veilig.”

Peters verwys ook na ʼn stemboodskap waarin  ʼn Afrikaanse vrou beweer dat ʼn kind by die Pick n Pay in Brits ontvoer is en dat soortgelyke voorvalle in Nelspruit, Bloemfontein en Johannesburg plaasgevind het.

“Die vrou gaan dan voort om haar leuens te staaf deur te beweer dat die polisie aan haar bevestig het dat hierdie voorvalle van ontvoering toeneem. Die polisie kan bevestig dat dit niks anders is nie as ʼn voortgesette daad van kwaadwilligheid wat slegs paniek en pandemonium onder gemeenskappe wil saai.”

Lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiekommissaris, het die publiek daaraan herinner dat daar niks goed van die verspreiding van fopnuus kan kom nie.

“Die anonimiteit wat dikwels die identiteit van die bronne van fopnuus omring, bevestig dat die bedoeling net vyandig kan wees en poog om die verhouding tussen die gemeenskap en polisie te ontwrig waaraan die SAPD so hard werk om te bou en te herstel.”

Volgens Peters sal die Gautengse polisie wel aandag gee aan opregte sake van mensehandel, ontvoerings sowel as misdade teen vroue, kinders en ander weerlose persone.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Annelize ·

Die Polisie gooi wal want hulle weet hulle is besig om die land te faal. Fopnuus of te nie, mensehandel en kinderontvoering is ‘n realiteit en aan die orde van die dag wereldwyd. Kyk wat het nou die dag in Germiston gebeur? Is dit ook fopnuus? Ek twyfel.

Mariana ·

Mensehandel en ontvoerings is inderdaad ‘n realiteit. Ons moet ongeag die “fopnuus”-storie steeds paraat bly en ons kinders mooi oppas. Nêrens is niemand en niks meer veilig nie.

Persheks Adri ·

Ek’t ook ‘n boodskap ontvang oor kinders en jong vroue wat glo ontvoer word vir 31 Oktober waar hulle geoffer word vir satanisme. Lieg storie of nie: my dogter bly onder my oë ten alle tye! Ons MOET ons kinders op pas en doen wat nodig is om hulle te beskerm! Dra julle wapens en wees paraat ten alle tye

Robert ·

Fopnuus of nie, dit is ‘n wesenlike gevaar. Daar was ‘n poging hier in Bloem naby waar on huisbestuurder woon en ook by ‘n skool.

Jacobus ·

Ontken alles! Ironies komende van ‘n bron wat erg korrup bewys is en wat ook ontken dat boere aangeval word. Dit is ‘n skande dat ons wetstoepassers en wetmakers floreer in misdadigheid.

Misky ·

Ek dink nie hulle weet wat die betekenis is nie. Nou die dag met kind by restaurant word daai man nie aangekla van poging to ontvoering nie. Ons almal die video gesien en kan ons eie gevolgtrekking maak. Hulle ontken alles, want anders moet hulle erken hulle faal die land en kriminele sit hulle nou ore aan. #Voetsekcele

ES ·

Die probleem is, daar is mense wat massa histerie probeer aanhits deur slenters op sosiale media te deel.

Ons moet almal nogsteeds altyd paraat wees want dit kan enige tyd met enigiemand gebeur.

katerinadiekat ·

Hou maar in elk geval jul kinders en kleinkinders soos valke dop en bly te alle tye naby aan hulle. Veral in publieke plekke, moet daardie handjies nie vir n oomblik los nie. Al beteken dit jy moet n vriend/ in of familielid vra om saam winkels toe te gaan. Die wereldwye mensehandel sindikate is n werklikheid. En ons woon in SA. So mens moet in elk geval oe agter jou kop he wanneer jy uitgaan. Eintlik n hele kopband met oe reg rondom jou kop.

Karinda ·

Okay, in 1 berig staan die Polisie bo-aan die lys vir korrupsie, in die berig beweer hulle dit is fopnuus. Nou wat moet ons glo? Smeer hulle iets toe?? Eerder bang Jan as dooie Jan so pas maar jul kinders … en julself op. Klink my dit is nou beter om reg in eie hande te neem want die Polisie kan ons nie beskerm nie.

Pampoen ·

Ek ondersteun SAPS in die verband. Mense wat aanhoudend wolhaarstories versprei saai paniek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.