Toerismebedryf aan bande gelê deur gesloer met lisensies

Een van Mario Febbraio se toerbusse. (Foto: Verskaf)

Toeroperateurs voer die afgelope vyf jaar ʼn opdraande stryd om bedryflisensies vir voertuie wat toeriste vervoer te bekom. Aansoeke om dié lisensies dateer in sommige gevalle so ver terug as 2019.

Intussen staan nuwe voertuie wat deur honderde ondernemings in die toerismebedryf aangekoop is, in onbruik want sonder die betrokke lisensie mag ʼn voertuig nie gebruik word om toeriste mee te vervoer nie.

“Ons voertuie staan en stof vergaar terwyl ons nie ʼn inkomste kan genereer of langtermyn kan beplan nie. Dit veroorsaak dat menige operateur oorweeg om eenvoudig die handdoek in te gooi,” sê Mario Febbraio, ʼn moedelose toerisme-operateur in die Suid-Kaap.

In ʼn poging om die situasie te beredder het die regering die afgelope week maatreëls aangekondig om die agterstand met die uitreiking van bedryfslisensies vir toeroperateurs te probeer uitwis.

Dit sluit in dat die departemente van toerisme en vervoer voortaan nouer met die nasionale vervoerreguleerder (NPTR) sal saamwerk om die verwerkingstyd vir lisensieaansoeke te verbeter.

Die Padverkeerswet bepaal dat die reguleerder die betrokke lisensie binne 24 uur aan geakkrediteerde operateurs moet uitreik, maar die NPTR is tans besig met aansoeke wat so ver terug as 2019, 2020 en 2021 ingedien is.

Dié stand van sake word bevestig in ʼn e-pos wat onlangs aan ʼn persoon gestuur is wat navraag oor ʼn lank uitstaande aansoek gedoen het. Maroela Media het hierdie e-pos onder oë gehad.

Mario Febbraio (regs) saam met van sy personeel en toeriste. (Foto: Verskaf)

In die e-pos erken Selby Ditshego, ʼn assistant-direkteur van die departement van vervoer, dat aansoeke wat in 2022 en 2023 ontvang is, eers beoordeel sal word nadat die drie vorige jaar se aansoeke afgehandel is.

ʼn Bedryflisensie word vir ʼn spesifieke voertuig uitgereik. Die voertuig moet dus reeds aangekoop wees voordat die eienaar vir dié lisensie kan aansoek doen.

“Ek moet die nuwe voertuig besit, maandeliks daarvoor betaal en die koste daarvan dra totdat die NPTR eendag by my aansoek uitkom,” sê Febbraio.

“Die wet sê ʼn bedryfslisensie moet binne een werksdag uitgereik word, maar dit gebeur net nie.”

Die gevolg is dat buitelandse toeriste, wat miljoene buitelandse valuta in Suid-Afrika bestee, in ouer voertuie rondgery word, wat jare gelede bedryfslisensies ontvang het.

“Ons bestee baie geld om ons ouer voertuie in stand te hou, want dan kan ons minstens sake doen,” sê Febbraio.

“Een van my 14-sitplek bussies het byvoorbeeld reeds 470 000 kilometers afgelê, maar ek kan nie die risiko loop om daardie voertuig te vervang nie, want hoe lank gaan ek vir ʼn nuwe bedryfslisensie wag?”

Met ʼn vorige aansoek het dit Febbraio amper twee jaar geneem net om ʼn antwoord van die NPTR te kry. “Ek het steeds nie die lisensie gehad nie.”

Dit is ook nie die enigste frustrasie wat toeroperateurs met die reguleerder ondervind nie.

ʼn Bedryfslisensie is vir vyf jaar geldig, waarna dit hernubaar is. Terwyl ʼn hernuwingsaansoek verwerk word dien die kwitansie vir die betaling wat gemaak is as ʼn tydelike bedryfslisensie vir die betrokke voertuig.

Toeriste by een van Mario Febbraio se bussies. (Foto: Verskaf)

“Deesdae weier die NPTR om ʼn kwitansie uit te reik wanneer die hernuwingsaansoek ingedien word. Die kwitansie kry dieselfde datum as die lisensie wanneer dit eendag in die toekoms hernu word,” sê Febbraio.

“As die kwitansie dieselfde datum as die hernude lisensie het, lyk dit vir oningeligte verkeersowerhede asof die aansoek eers ingedien is nadat die ou lisensie verval het en dat toergroepe dus ʼn tyd lank onwettig vervoer is.”

So het ʼn verkeersbeampte onlangs verkeerdelik een van Febbraio se toerbusse geskut en ʼn groep buitelanders met al hul bagasie langs die N2 buite Mosselbaai gelaat.

“Ek het geweier om die boete te betaal want die verkeersman het ʼn fout gemaak omdat hy nie die wet geken het nie. Maar watter indruk het daardie toeriste van ons land gekry?”

As deel van die nuwe maatreëls het Sindisiwe Chikunga, die minister van vervoer, wetstoepassers beveel om op te hou om toeroperateurs te penaliseer wat lisensie-aansoeke hangende het.

Toerisme is naas mynbou die land se grootste verdiener van buitelandse valuta. Dit is ook die bedryf wat die vinnigste groei en word as die grootste skepper van werkgeleenthede beskou.

“’n Toeris wat vir ʼn week in die land is, skep twee werksgeleenthede, maar iewers in ʼn staatsdienskantoor in Pretoria se middestad, word die groter prentjie nie raakgesien nie,” sê Febbraio.

Sy onderneming, Tours for South Africa, bestaan reeds 20 jaar en bring jaarliks sowat ʼn duisend toeriste na Suid-Afrika.

Hy reis gereeld na internasionale toerismeskoue en het verskeie kontrakte met buitelandse toeroperateurs gesluit om die land aan toeriste te wys.

“Nogtans moet ek heeltyd planne maak hoe om my toergroepe wettig op die land se paaie te vervoer.”

Febbraio het die NPTR al by pres. Cyril Ramaphosa se kantoor verkla, maar sê hy het nooit enige terugvoering ontvang nie.

“Ek het die steun van die bedryf en my pleidooi is nie net vir myself nie, maar vir die hele bedryf. Ons word afgeskeep en moet heeltyd sukkel om iets uit die NPTR te kry.”

Hy sê die bedryf het dringend iemand nodig om beheer te neem en na die belange van toerisme-operateurs om te sien.

“As gevolg van die NPTR se totale onvermoë om hul mandaat uit te voer word die hele bedryf benadeel. Ons toeriste verdien veral om veilig en luuks op ons land se paaie te reis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dries ·

Sal ons ooit gered word van die onbevoegde, lui staatsamptenare.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.