Toestemming vir korrupsieondersoek by Prasa

Weens korrupsie het Metrorail se dienste landwyd agteruit gegaan. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Deur Steve Kretzmann, GroundUp

Pres. Cyril Ramaphosa het ʼn proklamasie onderteken wat die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) die mag gee om korrupsie by die Passasierspooragentskap (Prasa) te ondersoek, veral wat betref ooreenkomste met Swifambo en Siyangena.

Die proklamasie is Vrydag in die Staatskoerant geplaas.

Daar is geruime tyd reeds oproepe op die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Valke om stappe te doen teen diegene wat betrek word by staatskaping wat verband hou met die Swifambo- en Siyangena-debakel wat nou al langer as ses jaar duur.

Die SOE is nou by magte om oortredings van die Wet op die Bekamping van Korrupte Bedrywighede te ondersoek, veral Prasa se aankoop van lokomotiewe by Swifambo en die Prasa se ooreenkoms met Siyangena om veiligheidstoegangbestuurstelsels by verskeie stasies landwyd te voorsien en te onderhou.

Swifambo is in 2012 aangewys om lokomotiewe van R3,5 miljard aan Prasa te lewer, met sowat R80 miljoen hiervan wat aan die ANC oorbetaal is, luidens getuienis wat die voormalige Prasa-voorsitter, Popo Molefe, voor die Zondo-kommissie na staatskaping gelewer het.

Die lokomotiewe, wat verskaf is deur die Spaanse maatskappy Vossloh, het egter nie op Prasa se spoornetwerk gepas nie.

In 2017 het die hooggeregshof in Johannesburg bevind die ooreenkoms was korrup.

Die Siyangena-ondersoek hou verband met Prasa – onder voormalige hoof Lucky Montana – wat die maatskappy se ruimte om geoutomatiseerde toegangsbeheer by die Nasrec- en Doornfontein-stasie tot sewe ander stasies uit te brei, vergroot het. Die stap is gedoen onder die voorwendsel van voorbereiding vir die Wêreldbekersokkertoernooi wat in 2010 in Suid-Afrika aangebied is.

Thuli Madonsela, die voormalige Openbare Beskermer, het destyds in ʼn ondersoek bevind die vergroting van die kontrak met byna R2 miljard wat ná die Wêreldbeker gedoen is, is by talle stasies – soos in Kaapstad – glad nie in werking gestel nie.

Die SOE het ook die groen lig gekry om ernstige wanbestuur wat verband hou met bedrieglike eise wat Prasa se groepversekeringsdepartement verwerk en uitbetaal het, te ondersoek. Dit sluit in eise wat uitbetaal is as eenmalige verskaffersbetalings. Die ondersoek sal ook strek tot by sogenaamde spookwerkers wat Prasa se Projek Zivese reeds in 2021 geïdentifiseer het.

Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SOE, sê die eenheid is al jare lank “besig met Prasa”, maar dat hulle nie sonder die proklamasie kon voortgaan nie. Die grondslag vir ʼn ondersoek is egter reeds gelê.

Die Zondo-kommissie het destyds van die inligting help blootlê, maar die SOE moet die ondersoek na ʼn veel dieper vlak neem.

“Dit is ʼn reusetaak,” sê Kganyago.

Die drukgroep #UniteBehind, wat al jare lank pleit vir ʼn ondersoek by Prasa en die vervolging van diegene wat by korrupsie betrek word, het die proklamasie verwelkom.

Wat betref die regstappe teen Swifambo en Siyangena, asook die Zondo-kommissie, sê Joseph Mayson, regsbeampte by #UniteBehind, die proklamasie is “vier jaar laat”.

“Dit is ʼn bekommernis wat batebeslaglegging veel moeiliker gaan maak.”

Hy sê dit is ook onduidelik wat met die Valke se bestaande ondersoeke aan die gang is wat “twee jaar gelede oënskynlik al 90% afgehandel” was.

Prasa is om kommentaar genader, maar het nog nie reageer nie.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marthinus Johannes ·

Net Soos met die kaderontplooing was daar genoeg tyd gegun om van bewyse ontslae te raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.