Tonnel weer oopgestel ná vragmotors bots

Die pad is ‘n tyd lank vir verkeer gesluit, maar is laatoggend weer oopgestel. (Foto: Wes-Kaapse verkeerspolisie)

Die Dutoitskloofpas en ou tonnel naby Worcester is Dinsdagmiddag weer vir verkeer heropen nadat dit vroeër weens ʼn botsing gesluit is.

Die pas is vangoggend gesluit nadat twee vragmotors reg van voor teen mekaar gebots het, het Kenny Africa, Wes-Kaapse verkeerspolisiehoof, gesê.

Een persoon is dood nadat twee mense aanvanklik in die wrakke vasgekeer is.

Die Hugenotetonnel is ook ʼn tyd lank vir swaar voertuie gesluit.

Kaapstad het intussen reeds met grootskaalse opruimingswerk begin ná ʼn storm die gebied Maandag getref het. Tussen 20 en 35 mm reën is oor groot dele van die Wes-Kaap aangemeld en hoewel geen verdere reën oor die volgende week voorspel word nie, word nog ʼn kouefront volgende week verwag.

Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het gesê talle berigte van skade aan geboue en rommel wat verwyder moet word, is van oral uit die provinsie ontvang.

“Sommige woongebiede in laagliggende dele het onder kitsvloede deurgeloop en ontvang hulp van die plaaslike owerhede. In sommige gebiede word kragtoevoer steeds geraak. Dringende aandag word aan hierdie kwessies gegee en dit behoort spoedig hanteer te word,” het Bredell gesê.

Kragonderbrekings is in onder meer Sunnydale, Vishoek, Dieprivier, Claremont, Belgravia, Southfield en Gugulethu aangemeld.

Teen 10:30 Dinsdag was egter geen nuwe berigte van sterftes of beserings nie.

“Ek wil die nooddienste bedank vir hulle werk oor die afgelope paar dae. Ek wil ook ʼn beroep op mense doen om ekstra waaksaam te wees wanneer hulle reis, veral wanneer dit in die omgewing van water is. Riviere loop sterk en gevaarlik,” het hy gesê.

Talle huise se dakke het die afgelope paar dae afgewaai en sterk wind het verskeie tydelike klaskamers van die Nomzamo High School verwoes. In Rosebank het ʼn boom op ʼn inwoner se voertuig te lande gekom nadat dit weens die wind ontwortel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.