Topfiks student veg terug ná beroerte

Marizaan du Toit (19) het op 4 Desember verlede jaar ’n ernstige beroerte gehad. (Foto: Verskaf)

“Wanneer ek net die stryd raaksien, sien U my oorwinning.”

Dié woorde kom uit Marizaan du Toit (19), ʼn onderwysstudent aan die Universiteit van Pretoria (UP) en lid van die Blou Bulle se senior vrouerugbyspan, se gunstelinglied, “Battle Belongs”, deur Phil Wickham. Sy luister toegewyd daarna voor elke groot wedstryd of sportgeleentheid.

Nou kom sy egter voor die grootste stryd van haar jong lewe te staan nadat ʼn ernstige beroerte haar lewe op 4 Desember verlede jaar handomkeer verander het. Marizaan se gesin is egter hoopvol dat sy ook hiermee, soos met alles wat sy aanpak, oorwinning sal behaal.

Die beroerte het die linkerkant van Marizaan se brein beskadig en sy ontvang tans rehabilitasie by die Mediclinic Muelmed in Pretoria. Die helfte van haar skedel is enkele dae ná die beroerte verwyder om drukking op haar brein te verlig en sal moontlik later weer teruggesit kan word.

Dokters het die skedel intussen in haar maag ingeplant om dit aan die lewe te hou.

Marizaan kan in dié stadium glad nie haar regterarm of -been gebruik nie, en sy kan ook nie praat nie. Sy moet talle funksies, soos om te eet, nou van voor af aanleer.

Die helfte van Marizaan du Toit (19) se skedel moes verwyder word om erge drukking op haar brein te verlig. (Foto: Verskaf)

Marizaan herken egter haar geliefdes, verstaan as hulle met haar praat en kommunikeer onder meer deur te knik.

Haar ma, Jacqueline, sê haar dogter werk uiters hard om gesond te word en het reeds baie vordering gemaak.

“Sy is iemand wat nog altyd volhard en deurdruk. Ons kan sien hoe hard sy werk om te verbeter en glo dat sy volkome sal herstel.”

Jacqueline sê Marizaan se beroerte was ʼn reuseskok.

“Dis nie iets wat ʼn mens ooit verwag met jou kind sal gebeur nie. Veral nie ʼn besige, topfikse, gesonde kind nie,” sê sy hartseer.

“Marizaan is nie iemand wat stilsit nie. Sy is ʼn besige, borrelende kind. Altyd vol grappies en so mal soos ʼn haas. Die een wat sal kyk hoeveel marshmallows sy op een slag in haar mond kan druk.

“Sy is so lief vir diere en mense. Marizaan sal tot ʼn sprinkaan of paddavissie probeer red.”

Jacqueline glo dat hierdie persoonlikheidseienskappe Marizaan ook op haar herstelpad sal help.

Marizaan du Toit saam met Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugby-unie. Marizaan is verlede jaar vir die senior vrouerugbyspan gekies. (Foto: Verskaf)

Sy sê haar dogter was nog nooit sieklik nie. Daar is egter ná die beroerte vasgestel dat sy ʼn bepaalde oorerflike geen, naamlik Faktor V Leiden, dra wat moontlik die bloedklont in haar brein, en gevolglik die beroerte, veroorsaak het.

Groot hartseer vir ʼn hegte gesin

Jacqueline sê die gesin kry tans baie swaar. Marizaan het ook ʼn identiese tweelingsussie, Marilu.

“Ons is ʼn baie hegte gesin. Dit vang ons en dis baie moeilik om haar so te sien. Sy en haar sussie is soos vinkel en koljander, so vir Marilu is dit bitter swaar.”

Marilu, wat nou haar tweede jaar aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom moet voltooi, het vanjaar studieverlof geneem om haar sussie by te staan.

“Dié twee is verskriklik erg oor mekaar. Ek het byna nie ʼn foto van een van hulle alleen op my foon nie, want hulle is alewig inmekaar gekoek,” skerts Jacqueline.

Die gesin kon Marizaan Vrydag vir die derde keer by die rehabilitasiesentrum gaan haal om vir die naweek huis toe te gaan.

“Dis ʼn uitdaging en ons moet baie opleiding ontvang om haar tuis te versorg. Ons los haar nie een oomblik alleen nie en ek en my man, Gawie, en Marilu maak beurte om na haar te kyk wanneer ons nie almal bymekaar is nie.

“Ek kan sien sy werk selfs nog harder noudat sy party naweke mag huis toe kom. As sy ons sien, gryp sy sommer na alles om haar, sy wil net huis toe kom. Dit is baie swaar as ek haar daar moet los en sy aan my vasklou.”

Jacqueline sê Marizaan het baie gewig verloor.

Marizaan du Toit en haar tweelingsussie, Marilu. (Foto: Verskaf)

“Sy was nog altyd sportmal en het soveel spiere gehad. Sy het ook so goed in haar rugby gevaar en baie prestasies daarin behaal. Ons weet die Here het ʼn plan met haar lewe.”

Elke pasiënt uniek

Jacqueline sê daar is nie ʼn tydlyn vir Marizaan se herstel nie.

“Dit kan weke, maande of langer neem. Elke pasiënt is uniek. Hoewel dokters nie kan voorspel wat gebeur nie, is hulle baie optimisties oor haar herstel.”

Intussen hoop Marizaan se mediese uitgawes op. Die gesin het ʼn goeie mediese fonds, maar dié sal net tot 25 Februarie nog Marizaan se mediese onkoste by die rehabilitasiekliniek dek.

“Alles is vrekduur. Ons werk tans saam met Caring Daisies in die hoop om geld bymekaar te maak sodat sy deurlopend die sorg kan kry wat sy nodig het om te herstel.

“Dit is vir ons moeilik, want ons is mense wat veel eerder sal gee voordat ons ooit om hulp sal vra.”

Sy sê mense wat geld deur Caring Daisies wil skenk, sal ook sertifikate vir belastingverligting bo ʼn sekere bedrag ontvang. Mense wat deur middel van dié organisasie ʼn skenking wil maak, kan ʼn e-pos aan [email protected] stuur. Mense kan egter ook geld direk aan Marizaan oorbetaal.

Die landbouorganisasie Saai samel tans ook geld vir Marizaan in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

VaalDonkie ·

Het sy die waks gehad om toegang tot UP te verkry? Want mens moet daai vraag vra.

Spook ·

Vra ek ook. Dit is kommerwekkend die hoeveelheid jong mense wat skielik beroertes kry.

VaalDonkie ·

Kyk, ek is nie besonder gelukkig oor die arme kind se situasie nie. Ek is baie hartseer vir haar ouers. My eie kind is oorlede. En hy het ook breinbloeding gehad. Ek is kwaad dat hierdie goed gebeur en die dokters WIL NIE LUISTER as jy praat nie.

Toe my dogter eendag in die NICU aanhoudend begin opbring, toe se ek vir die verpleegster hulle moet kyk of die pypie nie uit haar maag getrek het toe ek haar vasgehou het nie (Sy het toe ook die CPAP-masjien opgehad wat lug onder druk in jou longe inblaas). Hulle het haar net so teruggesit en my en my vrou laat uitgaan. Die volgende dag vertel hulle my “ons het laasnag besef die pypie het uit haar maag uitgetrek!”. Die arme kind het ‘n paar uur lank opgebring en aan haar eie kos verstik. Sy was skaars 1.5kg op daai stadium. So ek het lank gelede al ophou dink dokters en verpleegsters is heiliges wat alles weet en bereid is om te LUISTER.

VaalDonkie ·

Baie dankie. Maar ek noem dit eintlik maar net ter illustrasie van waarom ek nie medici verafgod nie.

Swerwer ·

Spoedige en algehel herstel word Marizaan toegewens. Sterkte aan haar familie en naasbestaandes, jul bly in ons gebede.

Stofpoepertjie ·

MM, die epos in die berig gee n fout as ek dit gebruik. Is daar dalk n ander manier om met die familie in aanraking te kom?

Anel ·

Sy het vir die BB gespeel en was lid van die senior span. Nêrens hoor mens iets van hulle nie. Gaan hulle nie ook ‘n bydrae maak tov haar mediese kostes nie? Vra ook maar net. Baie sterkte aan die pragtige meisie en haar familie.

Christine ·

Dis ongelooflik hartseer om van die pragtige jongmens se beroerte te lees. Soveel mense kry deeadae beroertes en ja, die medies betaal vir 2 maande in die hospitaal en dan daarna vir ‘n paar maande se terapie. Daarna moet die pasiënt aangaan met haar oefeninge, dis nie nodig om verdere fondse in te samel nie. Ek bid en hoop dat sy volkome sal herstel.

Chris ·

Tragies – sedert 2021 is daar ‘n ontploffing van die tipe van mediese kwessies wat opduik. Net so ontstellend as die atlete wat sedert 2021 met hart-probleme sukkel, en selfs daaraan beswyk. Sterkte!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.