Total onttrek aansoek om eksplorasie

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Total SA het sy aansoek om eksplorasie in ’n streek van die kusgebied tussen St. Francisbaai en Mosselbaai aan die Kaapse suidkus onttrek.

Dít nadat die maatskappy SLR Consulting vroeër namens Total SA aansoek gedoen het om 11 gate aan die kusgebied as eksplorasieputte te boor.

Hoewel Total SA geen rede vir sy besluit verskaf het nie, het die oliereus wel aangekondig dat hy sy aansoek om bykomende boorwerk en gepaardgaande aktiwiteite in Blok 11B /12B aan die suidkus gaan uitstel.

Die proses rakende die omgewing- en sosiale impakstudie is ook beëindig.

Die nieregeringsorganisasie The Green Connection het die oliereus se aankondiging as ’n oorwinning vir die spesifieke gebiede se gemeenskappe sowel as die omgewing bestempel.

“As belanghebbende en geraakte partye was ons nog altyd gekant teen die boor van olie of gas in ons oseane en ons het ons bekommernisse dienooreenkomstig aan Total E & P Suid-Afrika (Tepsa) en die regering oorgedra,” sê Liziwe McDaid, The Green Connection se strategiese ontleder.

The Green Connection sê egter hy is steeds bekommerd daaroor dat olie- en gasondersoeke in ander gebiede kan voortgaan aangesien ’n e-pos wat die organisasie ontvang het na ’n blote uitstel verwys, nie na ’n volkome kansellasie nie.

“Tepsa het geen redes verskaf vir hul onttrekking aan die projek nie, wat ons laat wonder wat hul toekomstige voornemens is en of hulle van plan is om terug te keer.”

The Green Connection het nou ’n beroep op Total SA gedoen om deursigtig te wees en meer duidelikheid aan gemeenskappe te gee oor hul voornemens.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het intussen Total SA se aankondiging verwelkom aangesien die gebied ter sprake onontbeerlik is vir die mariene biodiversiteit aan die Suid-Afrikaanse kuslyn. Daar is ook ’n beskermde mariene gebied net suid van die beoogde prospekteergebied.

Die organisasie sê hy het die aansoek om eksplorasie sedert verlede jaar gemonitor en ook kommentaar daarop ingedien.

“AfriForum is nie teen enige bestaande of beoogde mynaktiwiteite gekant nie, maar as beskermer van die omgewing is dit belangrik om aan alle prosesse en prosedures deel te neem om te verseker dat gemeenskappe en die land beskerm word,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van omgewingsake.

The Green Connection doen intussen ’n beroep op die regering om weg te doen met hul fokus op fossielbrandstowwe vir toekomstige energieoplossings en eerder op hernubare energie te konsentreer ten einde Suid-Afrika se oseane, die omgewing en die gemeenskappe wat van hulle afhanklik is, te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

David ·

Plaaslike gasproduksie kan ons ekonomie ‘n goeie hupstoot gee. Ek stem saam dat dit so omgewingsvriendelik as moontlik gedoen moet word.

Siende hierdie is Suid Afrika, sal olie of gas seker weer net vriende, van die regerende party, se sakke volprop en niks vir Jan Alleman beteken nie.

Met die swaard van onteiening, wat oor ons koppe hang, sou dit vreemd wees as enige maatskappy beleggings hier maak. Total kyk seker eers die kat uit die boom.

Boerkind ·

The Green Connection… ry hulle ook karre en gebruik Eskom se (steenkool) elektrisiteit??

Deon ·

Nee hulle gebruik goed soos sonpanele en batterye met lood en plastiek en swaelsuur daarin…. En daardie batterye en sonpanele word nie met elektriese masjiene vervaardig nie en ook nie met voertuie vervoer wat fossiel brandstowwe gebruik nie. Wanneer hierdie goed installeer word dan gebruik hulle ook nie elektriese gereedskap soos bore nie, hulle gebruik bore wat met saamgeperste lug werk wat nie uit n kompressor kom wat werk met elektristeit of n fossiel brandstof aangedrewe masjien nie….. Mense kan partymaal nie verder as die ooglopende sien nie

Rein ·

As oliemaatskappye nie by ons mag eksploreer is dit seker geregverdig dat hulle olie lewering aan RSA staak?

Andries ·

Wat doen die, wat so gekant is teen die eksplorasie, om werk te skep vir die mense wat nou werk kon kry?

JAN ·

Ek is neutraal oor die besluit. Waarop ek wel wil reageer is Afriforum se kommentaar – “aangesien die gebied ter sprake onontbeerlik is vir die mariene biodiversiteit aan die Suid-Afrikaanse kuslyn. Daar is ook ’n beskermde mariene gebied net suid van die beoogde prospekteergebied.” WIE bekerm hierdie gebied?? Hierdie regering kannie eers sy burgers beskerm nie. Wat voel hulle vir ons seelewe?? Ons marienebronne word al vir jare na willekeur geplunder. Voor 94 het die SA Lugmag twee volledige maritieme eskaders met ongeveer 30 vliegtuie gehad wat daagliks on kus gepatroleer het vir, onder andere, onwettige visvang, oliebesoedeling ens. Daarbenewens het die Departement Seevisserye ook ‘n patrollievliegtuig, Kuswag7, vir dieselfde doel aangewend. Daarvan het niks oorgebly nie. Dankie weereens, ANC.

Dirk Mostert ·

Jammer dat die verkramptes al weer hul sin gekry het. Olie/gas kan groot voordele vir S.A. inhou. Afriforum se aansien by my het ‘n knou weg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.