Transitoroof: Makkers nog soek ná polisie vier doodskiet

(Argieffoto: Kent Williamson)

Vier vermeende transitorowers is in Soweto in Johannesburg doodgeskiet, terwyl nog ses van hul makkers gesoek word.

Die transitorooftog het Vrydagmiddag op Nasrec-weg plaasgevind. Volgens lt.kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, is daar op die bestuurder en veiligheidswagte losgebrand en kon die bestuurder daarin slaag om tot by Jukskei-weg te ry voordat die geldwa tot stilstand gekom het.

Die transitorowers het die veiligheidswagte van hul selfone en ʼn vuurwapen beroof voordat hulle met ʼn onbekende bedrag kontant op die vlug geslaan het.

Die Johannesburgse blitspatrollie is van die transitorooftog in kennis gestel en het vinnig gereageer. “Die beamptes het ʼn wit BMW met vier insittendes, ʼn grys Nissan Navara, ook met vier insittendes, en ʼn wit Toyota Fortuner, met drie insittendes gewaar.”

Die verdagtes het op die polisie losgebrand en ʼn skietgeveg het ontstaan. Vier verdagtes is noodlottig gewond terwyl nog een aangekeer is.

ʼn Polisiebeampte is ook tydens die voorval gewond en na ʼn hospitaal gehaas vir behandeling.

Enigiemand met inligting rakende waar die oorblywende verdagtes hulle bevind, word versoek om hul naaste polisiestasie of Stop Misdaad by 08600 10111 te kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Shakespeare ·

Rook die wit waks uit die een wat aangekeer is. Die regte metodes sal sy bek vinnig laat oopgaan om sy kriminele pêlle se name te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.