Transmissienetwerk: Eskom wíl bou, maar grondregte sukkel

(Argieffoto ter illustrasie)

Eskom moet dringend sy transmissienetwerk uitbrei, maar loop hom telkens vas teen hardnekkige grondeienaars, met onderhandelings vir grond waarop kraglyne opgerig kan word wat soms solank as ʼn dekade kan sloer.

Ronald Marais, strategiese netwerkbeplanningsbestuurder by Eskom, het vandeesweek by Son SA se energiekonferensie in Pretoria gesê die netwerk moet uitgebrei word om uiteindelik al die krag wat deur beoogde hernieubare opwekkingsprojekte gelewer word te herlei na waar dit nodig is.

Dit duur egter sewe tot tien jaar om met al die betrokke grondeienaars vir ʼn roete te onderhandel en as een onderhandeling vashaak, gaan staan die ganse projek.

“Dit is ons grootste hindernis om hierdie kapasiteit te skep,” sê Marais.

Dit beteken wanneer onafhanklike produsente hul krag aan die netwerk begin lewer, Eskom moontlik nie genoeg lyne gaan hê om dit aan die netwerk te koppel én te versprei nie. Die meeste van Suid-Afrika se krag kom uit die noorde en ooste van die land. Die oorspronklike transmissienetwerk is nie so aangelê om byvoorbeeld krag uit die suide, waar talle hernieubare opwekkingsprojekte nou opgerig word, elders heen te versprei nie.

Marais het nou ʼn hernieude beroep op grondeienaars gedoen om saam te werk wanneer nuwe transmissielyne beplan word.

“Ons het julle hulp nodig om die probleem met verskaffingsekerheid op te los. As ons nie ʼn netwerk het nie, kan ons niks daarby voeg nie. Die vermoë om krag by te voeg lê in die hande van grondeienaars.

Hernieubare kragaanlegte word ook veel vinniger gebou as wat Eskom sy transmissielyne kan aanlê en die kragvoorsiener is gewikkel in ʼn stryd teen tyd.

Eskom is verbind tot die finansiering van hierdie projekte en beskou dit as ʼn prioriteit. “Wat ons terughou is die vermoë om toegang tot die grond te kry en te begin bou.

“Help ons om ʼn roete te vind. Dit is superbelangrik dat hierdie kraglyne gebou word. En vinnig.”

Die afstand van Upington na die naaste ladingsentrum is byvoorbeeld sowat 800 km, verduidelik Marais. Dít veroorsaak transmissie-opeenhopings omdat die oorspronklike netwerk nie daarvoor ontwerp is nie.

“Jy moet die netwerk uitbrei en in staat stel om dit te hanteer. Jy moet kan krag opwek, jy moet dit kan oes en versprei na diegene wat dit wil gebruik.”

Wat hiervoor benodig word, is groot deurgange, oftewel korridors, om die krag wat opgewek word te versprei.

“As jy egter nie die transmissienetwerk het om dit te skuif nie, is daar ʼn beperkte kans op sukses,” sê Marais.

Die probleem is nie eie aan Suid-Afrika nie en lande soos Nederland, wat ook swaar op hernieubare energie steun, ondervind soortgelyke netwerkbeperkings.

Die omgewingsimpakstudie vir dié lyne verloop gewoonlik betreklik vinnig en Eskom werk goed saam met die departement van bosbou, visserye en omgewing om dit af te handel. Die bou van die lyne word deur kontrakteurs in die private sektor gedoen – deur oop tenders – met die grootste uitdaging Eskom se vermoë om grondregte te bekom waarop die lyne loop.

Marais sê dit duur boonop ʼn dekade of langer om ʼn transmissielyn op te rig – en dit kos tussen R8 miljoen en R14 miljoen per kilometer om op te rig.

“Talle ondernemings, en selfs individuele boere, rig hernieubare kragopwekkingsaanlegte op. Om hulle te help om dit aan die netwerk te lewer – en ʼn einde aan beurtkrag te help maak – is dit belangrik dat die korridors gebou word.”

  • Luister hier na ʼn onderhoud met Ronald Marais:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Verskonings, verskonings, verskonings.

Theunis ·

Die probleem kom nou eers na vore, wat van die vorige 20 jaar of was die korrekte energie infrastrukture toe nie nodig?
Hoekom het jy infrastruture nodig indien jy nie eers genoegsame energie kan verwek nie?

Sean ·

Boere soek niemand op hulle plase Veral aanvallers wat hulself as escom werkers voordoen

Amelia ·

Ja en aan wie gaan die tenders maar wil grond he Is dit nou weer net nog n verskoning klink nie vir my of dit nou skielik net nog n probleem is n ie is mos al lankal se probleem its klimk nie reg nie

Truman Burbank ·

Daar is masiewe areas onder andere in die Karoo wat perfek is. Maar nee.

Kokerboom ·

Eskom kort ‘n sterk positiewe bestuur wat sê “ons kan en ons gaan”.

Piet parys ·

Eensydige beriggewing . Wat sê grondeienaars .
Eskom werkers dink hulle besit die reg om te kom en gaan op plase en los hekke oop as hulle klaar inspeksie gedoen het . Beeste kom dan in paaie en kom in padongelukke. As hulle die gras sny onder pale los hulle die plastiek en blikkies agter van hulle etes . Met trekkers sny hulle grensdrade stukkend . Geen respek vir grondeienaars
So sal jy eskom toelaat ?

Cherokee ·

Sal jy eskom toelaat, vra jy? Wanneer die ysingswekkende moontlikheid bestaan van onteiening ter wille van ekonomiese vooruitgang, dan is is dit beter om maar die plastiek en blikkies op te tel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.