Transnet-staking kos Kumba 50 000 ton per dag

(Argieffoto: Reint Dykema)

Kumba-ystererts waarsku dat die staking by Transnet sy produksie swaar gaan tref.

Die maatskappy het Maandag gesê in die eerste sewe dae van die staking is die uitwerking op produksie sowat 50 000 ton per dag. Ná sewe dae word dit tot 90 000 ton per dag verhoog.

Transnet het Kumba Vrydag ingelig dat hy force majeur verklaar weens die stakingsoptrede deur lede van die vervoervakbond Untu. Werkers van die vakbond Satawu sou Maandag begin staak.

Kumba sê hy het gebeurlikheidsplanne in werking gestel om sy bates te beskerm en die uitwerking op bedrywighede tot ʼn minimum te beperk. Dit sal egter steeds tot reuseontwrigting lei.

Kumba waarsku ook dat sy uitvoerverkope met sowat 120 000 ton per dag geraak gaan word.

“Kumba sal die situasie fyn dophou en verdere inligting soos nodig bekend maak,” lui ʼn verklaring van die maatskappy.

Transnet bedryf Suid-Afrika se spoorvragnetwerk en al die land se hawens. ʼn Dooiepunt tussen vakbonde oor ʼn salarisverhoging het die reeds sukkelende staatsbeheerde instelling nou opnuut lamgelê.

Dr. Juanita Maree, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Vragversenders (SAAFF), het ook gewaarsku dat die staking ʼn verwoestende uitwerking op die ekonomie gaan hê wat veel erger kan wees as die kragkrisis wat die land se ekonomiese vooruitgang reeds geweldig strem.

Logistieke vertragings aan die voorsieningsketting kos die ekonomie tussen R100 miljoen en R1 miljard per dag en wanneer die ganse ekonomiese koste bereken word, is die uitwerking selfs hoër.

Transnet en vakbonde vergader Maandag by die Transnet-bedingingsraad onder die vaandel van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) in ʼn poging om die dooiepunt by te lê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

domheks ·

SA is reeds op sy kniee, staak tot daar NIKS oorbly nie. Dankie cANCer julle doen UITSTEKENDE werk.

Miena ·

Ja ons sukkel ook hier in MP op die koolmyn. Waar ons tot 5x per week n trein gehad het om die kool te tap kry ons nou 01 trein in 2 weke. Dit raak n benoude situasie want ons hardloop uit stoorplek uit in die “coal stock yards”.

Kokerboom ·

Die ANC voel ‘n veer vir ekonomie. Daar SAL mos altyd geld wees.
Transnet MISBRUIK die term force majeur!!!Die staking IS beheerbaar en NIE ingryping van bonatuurlike kragte! So absolute twak!!

Danie ·

Ek wou nog altyd een van daai groot trokke bestuur.Ek stel belang in n pos.Pos die klomp wat nie wil werk.

Nico ·

Hierdie regering sal aanhou totdat daar niks is in hierdie land, die regering soek net geld!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.