Transnet-staking het ‘verwoestende uitwerking’

Vraghouerskepe in die Durbanse hawe. (Foto: Transnet)

Die dooiepunt tussen erkende vakbonde en Transnet het ’n verwoestende uitwerking op die ekonomie, “baie erger selfs in vergelyking met die voortslepende energiekrisis”.

Só het dr. Juanita Maree, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Vragversenders (SAAFF), gesê.

Transnet het vroeër force majeure by sy hawens verklaar terwyl lede van die vakbond Untu begin staak het en Satawu se lede beoog om Maandag by hulle aan te sluit. Transnet bedryf Suid-Afrika se spoorvragnetwerk asook al die land se hawens en daar is vrese dat die staking ʼn noemenswaardige uitwerking op ekonomiese bedrywighede oor alle sektore gaan hê.

Transnet en georganiseerde arbeid sal Maandag onder die vaandel van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) in gesprek tree as deel van pogings om die huidige dooiepunt in die loononderhandelinge te probeer oplos.

Volgens Maree wys SAAFF se navorsing daarop dat logistieke vertragings aan die voorsieningsketting die ekonomie tussen R100 miljoen en R1 miljard per dag kos. “Wanneer die totale ekonomiese koste bereken word, is die finale gevolg van die verwoestende impak egter veel hoër as dit.”

Maree meen die ekonomiese omvang hiervan word nie ten volle deur besluitnemers verstaan ​​nie.

“Een dag se verlies in hawe-aktiwiteit lei tot operasioneel ’n minimum van 10 dae van herstel. Die verlies het ’n rimpeleffek op die ekonomie. Ons het nou daadwerklike, dringende optrede nodig. Enige versuim om handel te fasiliteer het verskriklike gevolge vir elke Suid-Afrikaner.”

Transnet het gesê hy gaan voort om met georganiseerde arbeid in gesprek te tree ten einde ’n oplossing te vind vir die voortgesette nywerheidsoptrede, wat ’n uiters negatiewe impak nie net op werknemers en die maatskappy het nie, maar ook op die ekonomie.

Transnet bied verhogings van tussen 3% en 4% sowel as ’n ex gratia‑betaling van R5 000 (voor belasting) aan werknemers.

Ayanda Shezi, woordvoerder van Transnet, het gesê Transnet het sedert die indiening van sy aanvanklike aanbod in Julie, daadwerklike pogings aangewend deur sy loonaanbod nog vier keer te verbeter.

“Salariskoste maak tans 66% van totale bedryfskoste uit, wat nie volhoubaar is nie. Ons breë doelwit bly om belegging en groei te dryf. Ons doen ’n beroep op werkers en vakbondleiers om die aanbod wat tans op die tafel is, ernstig te oorweeg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Nommer 7 ·

marius, hoe staak ‘n mens belasting? Adviseur asseblief.

Hannelie ·

Marius lyk jy is ‘n ekspert ten opsigte van belasting. Wil ook weet hoe staak ‘n mens belasting?

Boatsie ·

En so draai daai wiel toe.
Die wat nou in beheer sit het mos sedert 1994 stakings gepropageer vir lui en soms onbevoegde werkers om hulle sin te kry.
Nou is die skoen aan die ander voet en sit hul met hul vingers in ……………….

Ian ·

Kommuniste wat kapitalisme najaag sodoende die senior bestuurders abnormale salarisse te gee en die werker n minimum loon. Die werker is nie n stupid nie en gefrustreerd met sy minimum loon terwyl hierdie senior bestuurders nommertjies vir hulle voor gooi van daar is nie geld nie maar wanneer bonusse uitbetaal word is dit etlike miljoene en dit is nooit beskore vir die werker nie. SA gaan brand asgevolg van hierdie ideologie wat nagejaag word.

Pietertjie ·

Watter Staatsbeheerde instelling het níé ‘n verwoestende uitwerking nie?

Smirre ·

Verhogings kan beter lyk as julle net van die dooie hout ontslae raak en kyk gerus betjie na die groot-koppe se salarisse, teveel base en ook teveel lui klase in die (Simi)staat.

Oosieoos ·

Hulle het klaar Transnet vernietig wil dan nog verhoging hê. Betaal af en kry die ou manne terug onmiddelik

annie ·

Werkers in SA het die hef in die hand, soos die ANC mos altyd wou: Werkers is altyd reg en werkgewers altyd verkeerd. Werkers besluit hoeveel en waar en wanneer. Niemand mag afgedank word nie, buiten die bestuur. So beur die ANC vorentoe na die droom staat: Mense sterwende van die honger droom glo van heerlike kos en eet en eet… voor die einde..

Shakespeare ·

Net een verdwaalde wit gesig in die bestuur. Geen wonder alles vrot in die New Sout Êfrica nie.

Kokerboom ·

Voer uit deur hawens van Maputo en Walvisbaai. Sluit SA hawens. Dis ‘n ewigdurende stryd met die mense. Toon handelskrag!

domheks ·

Die ‘base’ moet maar hulle pay verminder om meer verhoging te kan gee….

MJ ·

Dis nie die staat wat skade ly nie, dis die boere wie se vrugte in containers staan en nie betyds uitgevoer word om betyds verkoop te word nie.

Vettiemaragartos ·

En dan kry die boer nog ‘n hengse rekening omdat SANRAL die produkte moes vernietig!!!!!!

Hannelie ·

Wel daar is nog ‘n klomp stakings oppad as die regering nie vinnig ‘n plan maak nie.

Tersia ·

En so styg die kospryse al meer en meer. Dink hierdie stakers nie daaraan dat dit op die ou einde hulle sakke ook raak nie?

Samuel ·

Georganiseerde arbeid gee geen snars om vir die Suid-Afrikaanse ekonomie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.