Transnet-werkers ‘byt spit af weens staatskaping, vandalisme, diefstal’

(Argieffoto)

Die United National Transport Union (Untu) sê hoewel dit verblydend is dat Transnet besig is met ʼn skoonmaakproses om dié staatsbeheerde onderneming reg te ruk, is dit steeds gewone werkers wat die spit afbyt.

Transnet het Maandag sy state vir die 2018-’19-boekjaar bekend gemaak. Hy het gedurende “die jare van staatskaping” nagenoeg R50 miljard onreëlmatig bestee aan onder meer drie kontrakte vir nuwe lokomotiewe. Weens die onreëlmatige uitgawes het Transnet ʼn gekwalifiseerde oudit vir die boekjaar ontvang.

Mohammed Mohamedy, Transnet se waarnemende uitvoerende hoof, het gesê Transnet was nie bestand teen die nou wyd gepubliseerde vlaag van staakskaping – deur staatsinstellings en private maatskappye – die afgelope nege jaar nie. Dit het gelei tot die wanaanwending van hulpbronne, wydverspreide korrupsie, verswakte leierskapstrukture en ʼn verbrokkeling in beheerstelsels.

Die onderneming se inkomste het wél met 1,6% tot R74,1 miljard gegroei.

Mohamedy het gesê hoewel Transnet se pypleidingsafdeling in dié tyd groei getoon het, het die afdeling steeds miljoene rande verloor weens minstens sewe voorvalle van diefstal uit sy pypleidings. Dié pypleidings is nasionale sleutelpunte.

Kabeldiefstal het met 55% toegeneem en 35% meer vragtreine is gevolglik in die tydperk gekanselleer. Altesaam 11 miljoen ton minder vrag is vervoer as waarvoor begroot is.

Volgens Mohamedy het Transnet slegs 53% van sy teikens bereik – die helfte van sy doelwitte is dus nie behaal nie – en sy verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings (Ebitda) is 7,2% minder as waarvoor begroot is.

“Die opbrengs van geld wat in die onderneming belê is, is slegs 5,8%. Transnet het lenings van R127,6 miljard. Ons wil nooit hê dit moet nodig wees om aan die deur van die nasionale tesourie te gaan klop nie en wil selfonderhoudend bly,” het Mohamedy gesê.

Transnet het nagenoeg R2,7 miljard verloor weens ontsporings, of omdat die onderneming nie sy skuld kon invorder nie. “Die maatskappy moes R500 miljoen afskryf weens debiteure wat ons nie betaal het nie,” het Mohamedy gesê.

Hy het ook aan werkers gesê Transnet het nie voldoen aan die reëls om te kwalifiseer vir aansporingsbonusse nie.

Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, wou by Mohamedy weet wat geword het van die R222 miljoen wat Transnet in Desember 2017 aan SA Express geleen het.

Volgens Mohamedy het Transnet ʼn nuwe ooreenkoms met SA Express aangegaan, maar hy het nie besonderhede verskaf oor wanneer die geld terugbetaal gaan word nie.

Sonja Carstens, woordvoerder van Untu, het gesê hulle verwelkom die vordering wat die afgelope ruk by Transnet gemaak is, maar dat gewone werkers steeds boet vir besluite op topbestuursvlak waarin hul geen aandeel gehad het nie.

“Die werklikheid is dat dit werkers op grondvlak is wat die meeste ly,” het sy gesê.

“Daar is wél positiewe verandering in die regte rigting, maar ons is bitter ongelukkig dat dit weereens die armste van die armstes is wat die onderspit delf.”

Swak instandhoudingswerk, vandalisme en omslagtigheid met verkrygingsprosedures is van die kwessies wat die onderneming steeds pootjie, het Carstens gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Wielspore ·

Transnet werkers voel benadeel deur al die ongeruimdhede wat plaasgevind het, nou wonder ek, wie het dan baat gevind by die ongeruimdhede, die werkers, natuurlik. Belasting betalers het hierdie duur ervaring geborg met hulle swaar verdiende salaris.

Mossie ·

Dit is topbestuur wat baat gevind het, nie grondvlak werkers en pensioenarrise nie!!

Sporie ·

As jy nie weet waarvan jy praat nie, bly liewers stil! Die topbestuur verwag nogsteeds dat die mense onder hul bloed uit klippe moet tap. Ongeag die feit dat daar nie geld is om enige iets aan te koop of te bestel nie. Ook wanneer jy uitgestuur word na ‘n ander depot toe om foute reg te maak moet jy dit maar op eie onkoste doen en moenie verwag om jou onkostes terug te eis nie. Dus word die mense onder dubbel en dwars gestraf want hul is OOK belastingbetalers!

Johan ·

Sal dit van nou af beter gaan wat korrupsie betref? Ek twyfel sterk. Dit is omdat die skuldiges nooit tot verantwoording geroep word nie….

karen ·

dit gebeur oral. top bestuur wat besluite neem en grondvlak byt die spit af.

Pottie ·

Ou sporie ek wil nie lelik wees nie dan moet die werk maar staan broer

SjN ·

Aansporingsbonusse is die ondergang van die swak presteerders.

CabyTheron ·

Hoe gouer alles ten gronde gaan hoe beter. Onnodig om die totale verval uit te rek. Wens net ons jongmense het almal fondse gehad om ‘n geldjie bymekaar te maak in die buiteland, om na die verval terug te kan kom en ons mooi land weer op te bou na wat dit was.

Kobus ·

Wielspore……waar val jy uit om die gewone werksman te blameer. Jy sit seker in een of ander Bestuursposissie in ‘n luukse kantoor en het geen benul wat aangaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.