Transnet-werkers staak oor loondispuut

(Foto: Transnet)

Ten spyte van ʼn verbeterde loonaanbod, het sommige Transnet-werkers Donderdag steeds voortgegaan met ʼn staking wat volgens die staatsbeheerde maatskappy onwettig is.

“Sedert die aanvanklike aanbod gemaak is, het Transnet beduidende pogings aangewend deur sy loonaanbod ʼn verdere vier keer te verbeter, ten spyte van die operasionele en finansiële uitdagings wat deur die maatskappy in die gesig gestaar word en met begrip van die uitwerking wat enige stakingsoptrede op werkers, die bedryf en die ekonomie sal hê,” sê Ayanda Shezi, woordvoerder van Transnet.

Transnet hou vol enige staking wat tans plaasvind is onwettig, omdat een van die vakbonde, Untu, nie die wetlike voorskrifte gevolg het voor hulle daarmee begin het nie.

“Transnet se grootste fokus is om ʼn massastaking te vermy, omdat dit ʼn noemenswaardige uitwerking op ekonomiese bedrywighede oor alle sektore sal hê,” sê Shezi.

Die maatskappy het ʼn beroep op werkers gedoen om die langtermyngevolge van ʼn staking op nie net hulself en hul kollegas in gedagte te hou nie, maar ook op hul gesinne en die ganse Suid-Afrikaanse ekonomie.

“Transnet glo sy hersiene aanbod is billik en regverdig en verdien ernstige oorweging, gegewe die maatskappy se huidige operasionele en finansiële prestasie.”

Die aanbod wissel tussen 3% en 4%, afhangende van die vlak waarop werkers is en die maatskappy het ʼn ex gratia-betaling van R5 000 aan alle werkers aangebied.

Transnet se aanbod is veel laer as die jaarlikse inflasie wat in Augustus op 7,6% gestaan het.

Cobus van Vuuren, algemene sekretaris van Untu, sê Transnet se aanbod voldoen nie aan die mandaat wat die vakbond van sy lede gekry het nie en sal gevolglik nie formeel vir oorweging aan hulle voorgelê word nie.

Untu sê twee kategorieë werkers word as noodsaaklik geklassifiseer en word dus verbied om te staak. Dit sluit in werkers by haweveiligheid, asook mariene dienste wat die veilige en gladde vloei van vaartuigverkeer moet hanteer.

Shezi sê beraadslaging het egter nog nie tot ʼn ooreenkoms gelei nie.

Transnet sê egter die stakingskennisgewing wat Maandag op hom beteken is, is gebrekkig en voldoen nie aan wetgewing nie.

Die South African Transport and Allied Workers Union (Satawu) het intussen ook kennis gegee van sy voorneme om Maandag te begin staak.

Volgens Shezi is Transnet nie tans in ʼn posisie om te voorspel wat die uitwerking van die staking op sy bedrywighede gaan hê nie, maar die maatskappy bly verbind tot samesprekings oor die aangepaste aanbod wat aan Untu en Satawu gemaak is.

“In die geval van ʼn massastaking, sal gebeurlikheidsplanne in werking gestel word en die maatskappy sal alles in sy vermoë doen om die veiligheid van personeel en fasiliteite te verseker.”

Werkers is ook gemaan dat die beginsel van geen werk-geen betaling sal geld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Marelize ·

Stakings oor loon dispute het ‘n algehele negatiewe effek . Maak die som – verhoog die salarisse en om dit te balanseer sny jy die werksmag. Dis ongelukkig hoe dit werk. Nou sny jy die werksmag en dit lei weer tot swakker dienste en so rol dit teen die heuwel af.

Di ·

Hierdie spul voel ‘n veer as alles ten gronde gaan solank Sipho sy verhoging kry kan die land maar in duie stort. Raak ONSTLAE van al die UNIES wat die land in die afgrond in gestuur het

Antie Sarie ·

Ek mis die dae wat stakings onwettig was. As jou salaris binne wettige vlakke is, maar jy is ongelukkig, gaan soek ander werk wat meer betaal en beter voordele het. As daar nie so iets is nie, dan is jou verwagtinge onrealisties.

Jakkie ·

Prys wat regering van die dag betaal vir die alliansie met vakunies. Goeie voorbeeld om vakunies vas te vat Margaret Thatcher……

Tjaart ·

Die “stakers” het vandag in ons dorp opgedaag in hulle blink motors (baie sonder nommerplate), duur klere en rond gestopte lywe. TRANSNET sal nooit hulle gierigheid bevredig nie. Fire die lot van hulle!

Erika ·

Ek werk vir die staat, en glo my, ons is nie een ondankbaar dat ons ‘n werk het nie. MAAR, ons laaste verhoging was 2019, intussen is alles duurder, ons salaris regverdig nie die COST OF LIVING nie. Myself en vele ander, sny op alles moontlik, net om elke dag by die werk te kom is alreeds ‘n probleem omdat petrol so duur is. Ons het gedurende die lock down vanaf huis gewerk, dus het ons die petrol geld \ vervoer na en van werk gespaar, en kon ons ook meer kos op tafel sit, nou sit ons al hoe minder kos op ons tafels. Nie een van ons is ondankbaar nie, maar ons sakke voel ook die geen verhogings, of dit nou kos pryse is, petrol pryse is, vervoer na en van werk, ons sakke is ook leeg. Ons almal probeer oorleef, maar kyk maar wat kos ‘n brood jou, ek is een van vele, wat nie eers meer ‘n brood kan bekostig nie. Die unies baklei vir ons vir verhoging, maar die staat het eenvoudig net nie geld nie, wat ons staatsamptenare armer maak, ons sit ook met skuld, nes enige ander landsburger.

Schalk ·

Erika ek stem saam alles wat jy noem , maar staak gaan dit nie verander nie. En om te kla gaan ook nie help nie. Die Unies gaan nie vir jou en my baklei nie maar wel vir hulle eie maandelikse bydrae van hulle lede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.