Trengove oor grond en ‘weerlegbare vermoede van wit bevoorregting’

Adv. Wim Trengove. (Foto: www.ru.ac.za)

Die inbou van ʼn weerlegbare vermoede van wit bevoorregting in tersaaklike wetgewing is een manier om grondhervorming te versnel, meen een van die land se invloedrykste regskenners, adv. Wim Trengove.

Trengove is een van die kenners wat vir ʼn aanvanklike inset gevra is deur die parlementêre ad hoc-komitee wat ʼn grondwetlike wysiging moet ondersoek om onteiening van grond sonder vergoeding te vergemaklik.

Trengove het in sy voorlegging gesê een van die maniere waarop grondhervorming versnel kan word, is dat die weerlegbare regsvermoede in die wet ingebou kan word dat grond in wit besit deur bevoorregting bekom is. Die wit eienaar sal die teendeel dan moet bewys.

Volgens Trengove is dit belangrik om te onthou dat die doelwit van grondhervorming ook is om grond te herverdeel – nie net om grondbesit te herstel nie, want daar is nie net ʼn soeke na regstelling nie, maar ook na groter gelykheid.

Die advokaat het aanbeveel dat die beginsel van regstellende geregtigheid in die proses ingebou word, met die uitwerking van enige verandering op ander grondwetlike regte wat in gedagte gehou moet word.

Daar is volgens hom reeds verskeie geleenthede vir onteiening sonder vergoeding binne die huidige grondwetlike opset.

Eerstens is dit nie noodwendig in die geykte sin van die term onteiening sonder vergoeding as die staat grond onteien vir herverdeling eerder as openbare of staatsgebruik nie, met die beperkings ingevolge art. 36 van die Grondwet wat weliswaar in gedagte gehou moet word. Tweedens bied die huidige grondwetlike opset geleentheid vir wetgewing waarin individuele regte eksplisiet teenoor die regte van die samelewing opgeweeg word.

Derdens is geen regte absoluut nie, nogmaals met verwysing na art. 36 van die Grondwet.

Trengove is ook die mening toegedaan dat die huidige Onteieningswetsontwerp nie ver genoeg gaan om die doelwitte van grondhervorming te behaal nie.

Die grondwaardeerder Peter Meakin se kennersmening het veral gefokus op buitelandse voorbeelde van sogenaamde werksgroepe wat daarop ingestel is om selfversorgende gemeenskappe te vestig, met voedselsekerheid sentraal.

Meakin het voorgestel dat eiendomsbelasting in ʼn mate plaasvervangend tot inkomstebelasting gebruik word.

Die ad hoc-komitee het sy insette grootliks ontoepaslik gevind.

Die kantoor van die grondwaardeerder-generaal se insette het grootliks gefokus op praktiese uitvoerbaarheid. Die kantoor het gevra dat onderskeid getref word tussen die markwaarde en die produksiewaarde van grond. Hulle meen ook as die huidige riglyne korrek en doeltreffend aangewend word, kan vergoeding regverdig en billik geskied, veral vir die aankoop van grond wat onbenut of braak lê.

Die kantoor van die grondwaardeerder-generaal het voorts gevra dat die huidige gebruikswaarde van grond in groter mate as maatstaf vir waarde dien as wat tans die geval is.

Die kantoor het in sy inset vermaan dat die Onteieningswetsontwerp en die Grondwet in pas met mekaar moet bly, dat voorstelle uitvoerbaar moet wees en dat dit eksplisiet verwoord moet wees om verwarring te vermy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

48 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rooikop

So nou is jou wit vel waaroor jy geen beheer het nie eweskielik iets wat regtens teen jou gehou kan word. Ek moet nou bewys ek is nie bevoorreg nie. Watse snert. Die libs soos die moet maar sommer die voorbeeld stel en hulle en al hulle familie en kinders se goed uitdeel aan die massas. Moenie met andere se goed en lewens dobbel nie

Irma

Dit laat mens nogal wonder !!

B

Dit sal die deur oopmaak om dit in nog meer wette in te bring.

Dink mooi wat die genoemde beginsel – ‘Groter gelykheid’ beteken en impliseer – oor die hele spektrum.

Johan

Daar bestaan nou al jare nie meer wit bevoorregting nie. Die boere het hulle grond gekoop en dit opgebou tot produktiewe eenhede. Hulle het groot geld daarin belê. Dit sal dwaas en onregverdig wees om so plaas af te vat sonder vergoeding want dan ontneem jy mense se lewensbron.

At Dippenaar

Op wie se betaalrol is hy?