Trevor Noah dagvaar dokter oor blaps

Trevor Noah (Foto: Facebook)

Die komediant Trevor Noah het ʼn ortopediese chirurg en ʼn New Yorkse hospitaal gedagvaar nadat dié in November verlede jaar glo ʼn gemors van ʼn operasie gemaak het.

Luidens internasionale beriggewing beweer Noah (37) dat hy ʼn “persoonlike besering” gehad het weens nalatigheid tydens en ná die operasie. Dié besering is glo baie ernstig en permanent van aard.

Die besonderhede oor die operasie en beweerde besering is egter nie bekend nie.

Die saak is teen dr. Riley J Williams en die Hospital for Special Surgery (HSS) aanhangig gemaak en volgens die nuusblad The Independent op 29 November deur Justin Blitz van die regsfirma Schulman Blitz LLP by die hooggeregshof in New York ingedien.

Luidens die dokumente, wat deur die netwerk Law and Crime bestudeer is, was die beskuldigdes glo “nalatig en onverskillig” in hul versuim om Noah op ʼn “versigtige en bekwame wyse te behandel en te versorg”.

Williams het glo ook versuim om behoorlike medikasie voor te skryf en aan te beveel dat Noah sekere voorskrifmedikasie staak. Hy het na bewering ook nie behoorlike toetse en ondersoeke uitgevoer om die toestande waaraan die bekende komediant en TV-aanbieder ly, te diagnoseer nie.

Luidens die dokumente is Noah glo ook nie vooraf omtrent die risiko’s, gevare en alternatiewe opsies van die behandeling wat toegedien is, ingelig nie.

Noah is na bewering weens sy besering “seer, mank en lam” gelaat.

Volgens The Independent het Noah en sy regsverteenwoordiger aangedui dat hulle nie in dié stadium kommentaar gaan lewer nie.

Die hospitaal het wel erken dat hulle die klag ontvang het.

“Ons het ʼn omvattende weerlegging van die eise, wat sonder meriete is, met mnr. Noah se prokureur gedeel,” het die hospitaal volgens die nuusblad gesê.

Dit is nie duidelik wanneer die saak aangehoor gaan word nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Tiptol ·

Dis jou verantwoordelikheid om voor die operasie ander opinies in te win indien jy voel die dokter bespreek nie die voor en nadele en risiko’s met jou nie. Ek was ongelukkig deel van so iets en het my les geleer. Jou lyf, jou besluit. Jy mag van dr verander. Hulle is nie gode nie.

piet ·

Lyk of die dokter nonsens aangevang het tydens die operasie. Jy kan soveel opinies inwin as jy wil maar as die dokter droogmaak met die operasie dan moet iemand aangespreek word.

Harley Davidson ·

My opinie as komediant hou ek nie baie van hom nie ,maar as hy voel hy was verkeerd behandel is dit seker sy reg om antwoorde te eis.

piet ·

Een ou wat darem ‘n sukses van sy lewe gemaak het in teenstelling met…….

Johan ·

Ek hoop hy dons hul op…ons moet ALMAL baie harder teen die medici begin optree, hul vernietig mense se lewens, sê net wat hul kan uitdroom en kom daarmee weg. Daar is uitstekende dokters maar hulle kry nie eers n spreekbeurt nie, hul doen net hul werk. Maar die res!

jeff ·

Ek vermoed dat dit plastike chiragheid is. Hy is immers ‘n Hollywood ou, ne.

AH ·

Dis hoogs onwaarskynlik dat ‘n Ortopediese Chirurg plastiese chirurgie op hom sou doen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.