Trokbestuurder veilig ná ontvoering by grenspos

Die Lebombo-grenspos tussen Suid-Afrika en Mosambiek (Foto: Departement van openbare werke)

ʼn Vragmotorbestuurder is weer veilig tuis nadat hy glo vroeër vandeesweek deur ʼn groep mans met pangas ontvoer is.

Die beweerde ontvoering het by die Lebombo-grenspos in Mpumalanga plaasgevind toe die bestuurder die grens na Mosambiek wou oorsteek.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê ʼn 33-jarige vragmotorbestuurder het Donderdag by die grenspos in ʼn lang tou gesit en wag toe hy besluit het om kos te gaan koop.

“Op pad terug na sy vragmotor toe is hy glo deur ʼn groep van vier mans gegryp en in nabye bosse ingesleep. Die mans was glo gewapen met ʼn vuurwapen, pangas en messe,” sê hy.

“Die bestuurder se hande en voete is vasgemaak voordat hy glo deur die mans aangerand is. Die slagoffer het glo beserings aan sy kop en lyf opgedoen.”

Ná die aanranding het die verdagtes glo die slagoffer se selfoon gebruik om geld uit sy bankrekening oor te plaas. Hulle het glo ook met sy geliefdes kontak gemaak en ʼn losprys geëis om sy veiligheid te verseker.

Later dieselfde aand het die vragmotorbestuurder daarin geslaag om uit die verdagtes se greep na ʼn pad te ontsnap.

“Die man kon in daardie stadium skaars loop, maar is deur ander vragmotorbestuurders gehelp.”

ʼn Saak van ontvoering is kort daarna by die Komatipoort-polisiestasie aanhangig gemaak en ʼn ondersoek na die voorval is van stapel gestuur.

Volgens Mohlala is nog niemand in verband met die beweerde aanranding en ontvoering in hegtenis geneem nie.

Die betrokke grenspos, nes talle ander in die land, is na bewering ʼn brandpunt vir opportunistiese misdade en die polisie het ʼn beroep op vragmotorbestuurders gedoen om by grensposte liefs in hul voertuie te bly.

Die polisie het intussen gerugte ontken dat nog ʼn vragmotorbestuurder onlangs ontvoer is en vir ʼn losprys van R50 000 vrygelaat is.

“Hoewel die polisie en ander wetstoepassers hard werk om misdadigers wat vragmotorbestuurders by grensposte teiken, vas te trek, moet die bestuurders ook met owerhede saamwerk vir hul eie veiligheid,” sê Mohlala.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, het onderneem om alles moontlik te doen om reisigers se veiligheid dié feestyd te verseker.

“Ons vertrou dat die span ondersoekbeamptes in die saak die verwagte resultate sal oplewer en die verdagtes vastrek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MARELIZE ·

Geagte polisiewoordvoerder, het jý al op die grenspos in ‘n warm vragmotor sit en wag? Ons moes al ‘n nag op die grenspos in die vragmotor oorslaap. Dít, geagte polisiewoordvierder, agv die swak diens wat dept van immigrasie en SARS op die grens bied. Ure se gewag vir beamptes om vir diensbeurt opte daag, van etensuur af terug te kom, vir die stelsel om aanlyn te kom. Die klaring by klaringsagente gaan vinnig genoeg (in vergelyking met die staatsdepartemente), maar o wee. Dan is daar die belaglike CBRTA permit wat nét SA op die grens vra – as daar ‘n CBRTA-beampte aan diens is. Elke vragmotorbestuurder moet noodgedwonge duisende rande, kwachas, pulas, USD en wat nie nog nie saamry vir omkoopgeld – want dis hoe Afrika werk. Maar dan mag hy nie uit sy vragmotor klim om iets te ete te gaan koop of sy toiletbehoeftes te bevredig nie. Weet jy, hy moet dokumente by klaringsagente indien, weer kry en elders afgee. Hy kan dit nie met sy vragmotor doen nie!

Nie Verbaas ·

Die aanbeveling in die berig is duidelik n teken van hoe onnosel en oningelig die gemors is. Soek altyd die maklikste uitweg. Sekeres is maar nou net totaal onbevoeg en korrup en wat verbasend is is die feit dat hulle glo dat dit hulle reg is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.