Tronk dalk oud munisipale bestuurder se voorland

(Argieffoto: Unsplash)

Die tronk se deure sal volgende week agter die voormalige munisipale bestuurder van die Mogalakwena- plaaslike munisipaliteit in Limpopo toeslaan, tensy dié munisipaliteit Vrydag verslae, onder meer finansiële verslae waarvoor daar reeds verlede jaar aansoek gedoen is – aan Sakeliga oorhandig.

Hendrick Ngoepe is verlede week saam met die huidige munisipale bestuurder én die munisipaliteit skuldig bevind aan minagting van die hof nadat daar versuim is om aan ʼn hofbevel gehoor te gee wat Sakeliga in Januarie vanjaar bekom het.

Ngoepe is gevolglik 60 dae tronkstraf opgelê. Dié vonnis is egter opgeskort mits die munisipaliteit teen vandag (Vrydag) die volledige verslae lewer. Teen middagete het Sakeliga nog niks ontvang nie.

Tian Alberts, woordvoerder van Sakeliga, sê die hofbevel hou verband met ʼn inligtingsversoek oor dienslewering en munisipale aangeleenthede wat Sakeliga in samewerking met die Mokopane Sakekamer in Mei verlede jaar aan die munisipaliteit gerig het.

“Dié versoek dek heelwat verslae wat die gemeenskap in staat sou stel om die totale gebrek aan finansiële bestuur by die munisipaliteit te takel.”

Die inligtingsversoek het egter onbeantwoord gegaan. Sakeliga het toe die hooggeregshof genader om die munisipaliteit te verplig om die verslae te oorhandig en die versoek is toegestaan. “Tot vandag toe, en ten spyte van die hofbevel, het geen verslae egter nog die lig gesien nie,” sê Alberts.

Sakeliga het toe “as enigste oorblywende uitweg” weer die hooggeregshof genader om die munisipaliteit en die munisipale bestuurder wat ten tyde van die oorspronklike bevel waargeneem het, aan minagting van die hof skuldig te bevind.

Die jongste bevel beveel nou die munisipaliteit om teen vandag al die verslae kragtens die oorspronklike inligtingsversoek aan Sakeliga te oorhandig.

Indien dit nie gebeur nie, sal Ngoepe in hegtenis geneem word om sy vonnis van 60 dae uit te dien. Sakeliga sal dit dan oorweeg om ʼn hofaansoek te bring om die huidige munisipale bestuurder ook tronk toe te stuur.

“Ter wille van voorkoming sowel as die herstel van volslae verval op munisipale vlak, moet staatsamptenare gehou word by hul basiese grondwetlike verpligtinge, soos om aan inligtingsversoeke te voldoen. Sakeliga is daarom bereid om staatsamptenare tronk toe te laat stuur ter ondersteuning van ons regstrategie teen ekonomiese en munisipale verval,” sê Alberts.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Nico ·

Dis hoog tyd dat sulke amptenare verantwoordelik gehou word vir onder-prestering van hulle onderskeie munisipaliteite. In die sake wêreld is die bestuurder van ‘n departement of selfs die Besturende Direkteur van ‘n maatskappy in beheer van diesulke besigheidsdepartemente en hulle dra die verantwoordelikheid om toe te sien dat alles volgens plan verloop. Dieselfde reel behoort ook hier toegepas te word

Frank ·

Ek se al lankal die besluitnemers moet in hulle private hoedanigheid ook aanspreeklik gehou word net soos wat maatskappy direkteure volgens wet verantwoordelik gehou kan word

Republikein in die Wes Kaap ·

Kanse is groter dat Krismisvader tronk toe gaan.

Kokerboom ·

Toonbeeld van absolute ANC minagting vir reg, stelsels en verantwoordelikheid!

Wondermaarnet ·

Die opskrif lui “dalk”, wat beteken hy sal NOOIT die binnekant van ‘n tronk sien nie.

Danie ·

Dalk of dog of wou of miskien tronk toe.Amper lag ek hardop wat n grap.

Wildemien ·

Die inligtingsversoek het seker agterweë gebly omdat daar niemand is wat kan lees nie.

Johan ·

WAT…beteken dit om op die munisipale raad te wees is meer as net n duur kar ry en salaris verdien vir niks doen uit ander mense se geld… dit kom seker as n helse skok vir meeste van hulle. Julle is darem maar lelik met hulle, dis harde werk om in die pos te kom, nou wil julle n stokkie steek voor hul beloning vir al daai politiekery en rugstekery.

JohanR ·

Nou kan dink hoe die voormalige munisipale bestuurder en sy gabbas die middernag olie brand om 2+2=4 te maak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.