Die Demokratiese Alliansie het Maandag tydens ʼn mediakonferensie in Kaapstad gesê dit is in die beste belang van die land dat pres. Jacob Zuma afgedank en vervolg word.
Mmusi Maimane, leier van die DA, het gesê Zuma en sy “korrupte trawante” moet met onmiddellike effek die trekpas kry en dat Suid-Afrika nié teruggehou moet word deur die besprekings tussen Zuma en adj.pres. Cyril Ramaphosa nie.
“Ons kort vinnige en beslissende aksie,” het hy geëis.
Dit volg nadat Ramaphosa verlede week in sy hoedanigheid as president van die ANC ’n verklaring uitgereik het oor die onsekerheid rondom Zuma se toekoms as president van Suid-Afrika.
Verskeie opposisiepartye het al na Zuma én Ramaphosa gekap en onder meer beweer dat die gesprekke tussen die twee partye geen vrugte afwerp nie.
Die EFF het onder meer geëis dat die mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma, wat vir 22 Februarie geskeduleer is, vroeër aangehoor word, maar dié versoek is glo Maandag deur speaker Baleka Mbete geweier.
Maimane het ook tydens die konferensie oor gerugte dat Zuma beskerming soek in ruil vir sy bedanking gesê dat daar “geen veiliger plek as ʼn maksimumveiligheidsgevangenis” is vir Zuma nie.
Die ANC hou intussen Maandagmiddag ʼn spesiale vergadering van sy nasionale uitvoerende komitee (NUK) waar daar oor Zuma se toekoms besluit sal word.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
10 Kommentare
Lekker lag ek nou vir die opskrif
Sluit hom toe en gooi die sleutels weg! Hy verdien nie om vry rond te loop nie.
Hulle hou darem nou hoe lank al spesiale vergaderings! Is dit dalk oor al die lekker eetgoed en drinkgoed wat daar bedien word, dat hulle nie kan/wil klaarkry nie?
Give that man a Bells (Maimane)
Give that other man a cell but not cell C